Meer van God, minder van my

Die Dordtse Leerreëls is ʼn uitdagende, moeilike en vol formulier. Jy moet soms ʼn paar keer ʼn sin deur lees voordat jy dit verstaan. Amper elke paragraaf lei na vrae waaroor mens gou kan wonder. In hierdie oordenking kyk ons na die konteks rondom die sinode van Dordt.

Meer van God, minder van my
Photo by Earl Wilcox / Unsplash

Hierdie is deel 1 van die Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"

Lees: Job 25

Die Dordtse Leerreëls is die derde en laaste geskrewe formulier van die Drie Formuliere van Eenheid: Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en dan die Dordtse Leerreëls. Dit is geskryf en aanvaar deur die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke wat gehou was in 1618-1619 in Dordrecht, Nederland. Die sinode was spesifiek gevorm om deur die dwaalleer van die Remonstrante te werk en dit te toets aan wat die Bybel vir ons leer. Die Dordtse Leerreëls word ook genoem “die Vyf Paragrawe teen die Remonstrante”.

Die Dordtse Leerreëls is ʼn uitdagende, moeilike en vol belydenisgeskrif. Jy moet soms ʼn paar keer ʼn sin deurlees voordat jy dit verstaan. Amper elke paragraaf lei na vrae waaroor mens gou kan wonder. Dalk vra jy nou jouself: maar hoekom is so ʼn ou belydenisgeskrif nog belangrik vir my om te lees? Is dit vandag nog toepaslik vir ons? Of moet dit wees? Om te sien hoe dit nog belangrik is vir ons, moet ons eers na die konteks en gebeurtenisse wat voor die sinode plaasgevind het kyk. Ons moet ook kyk na wie die Remonstrante en Arminius was en wat hulle geleer het.

Die Remonstrante is die groep wat die leer van Jakobus Arminius volg. Maar Arminius se leer kom van nog vroeër af - dit het begin met die Pelagiane. Pelagius het gesê dat mens kan kies vir goed of vir sleg. Hy het ook nie in erfsonde geglo nie; geleer dat jy sonder sonde of gebrek gebore is, maar jy kan kies vir die slegte, of beïnvloed word deur jou sondige ouers om vir sonde te kies. Verder het hy ook gesê dat die mens self sy eie verlossing kan uitwerk en nie God se genade nodig het nie. Augustinus het teen hierdie leer gepreek. Hy het vanuit die Bybel teen Pelagius en sy gedagtes gepraat. Sy leer was baie dieselfde soos wat ons dit lees in die Dordtse Leerreëls. 

Tussen die twee uiterstes het nog ʼn leer gekom: Semi-Pelagianisme. Dit was om te sê dat mens “beseer” of “siek” is. So, as gevolg van die sondeval kort mens God se genade vir verlossing, maar mens kan nog steeds self besluit om daardie genade te aanvaar. Dit kan beskryf word as ʼn wiskundesom: 7 + 3 = 10. 7 is God se genade en 3 is mens se bydrae en altwee saam is gelyk aan jou redding. Ons kan duidelik sien dat hierdie leer God se soewereiniteit beperk – dit gaan in teen wat geleer word in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 3 en 23 oor die mens se verlossing.

Dit was hierdie Semi-Pelagiaanse leer wat Arminius gebruik het vir sy idees meer as ‘n duisend jaar later. Hy het basies teruggekeer na die leer dat mens “siek” is, en nie homself kan red nie, maar wel nogsteeds kan besluit of hy God se genade wil aanvaar. Daar is vyf hoofpunte wat Arminianisme opgesom het, en dit was teen hierdie vyf punte wat die Sinode vyf Bybelse antwoorde gegee het:

Die vyf punte van die Sinode kan in Engels opgesom word deur die akroniem TULIP:

  • Total Depravity (DL Hoofstuk 3)
  • Unconditional Election (DL Hoofstuk 1)
  • Limited Atonement (DL Hoofstuk 2)
  • Irresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
  • Perseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)

Ons gaan in hierdie reeks van oordenkings deur hierdie akroniem werk maar in die volgorde van ULTIP, soos dit in die Dordtse Leerreëls uitgelê is.

So hoekom is hierdie alles toepaslik vir ons? Hoekom is dit belangrik om die Dordtse Leerreëls te lees? Deur die Bybel, van die skepping af, al die pad deur tot Christus se koms, leer ons van watter belang God se genade is en hoe nodig Christus se koms en kruisiging is vir die vergewing van ons sondes en vir ons verlossing. Ons kan deur die gekreun van die skepping sien dat die hele skepping, mense ingesluit, eenvoudig net deur God se genade kan leef (Romeine 8:18-30). Om hierdie genade ten volle te begryp, moet ons regtig besef hoe groot God is en hoe klein ons as mense is. 

Dit is wat die Dordtse Leerreëls ons leer! Dit wys ons na Jesus Christus toe in alles (Efesiërs 2:4 en 5). Ons kan sien dat hierdie dwaalleer al vir eeue lank geleer word, bewustelik of onbewustelik. Dit kom van diep binne ons sondige hart en natuur. Ons wil graag dink dat ons iets kan of moet doen vir die Here, veral vir ons redding. Ons is so geneig om nie God se genade alleen te aanvaar vir ons verlossing nie. Deur die dwaalleer van Pelagius en Arminius maak ons God baie kleiner en gee nie aan Hom wat Hy verdien nie: glorie en eer! (Romeine 5:1-11)

Deur die reeks wil ons graag kyk na die belangrikheid van die Dordtse Leerreëls sodat ons almal kan verstaan hoe om weg te bly daarvan om God kleiner en mens groter te maak. Ook dat ons uit dankbaarheid vir God Drie-Enig kan leef met die wete dat ons niks kan doen sonder Hom nie! Job 25 laat ons net weer besef hoe sleg ons in onsself is en hoe nodig ons God het. Ons word vergelyk met ‘n wurm en ‘n maaier (Job 25:6) - klein, vuil, en sterflik. Ons en die ellendige bestaan van ‘n strydende kerk verdien daarom die ewige dood. Maar, as die Goeie Herder nie sy skape beskerm het nie, sou die kerk lankal wegvaag deur aardse geweld en bedrieëry (Mattheus 28:20). Soos die Dordtse Leereëls destyds beoog het om die rustigheid van gewetens, en die rus en welvaart van die Nederlandse kerk ter harte te neem, mag ons vandag net soveel troos en lering uit die Dordtse Leereëls trek dat die Goeie Herder ons en die kerk vir ewig sal beskerm!

Lees Hoofstuk 1 vir volgende keer en probeer dit verstaan. ʼn Boek soos God’s Glorious GODness van C. Bouwman kan ʼn baie goeie hulpmiddel wees wanneer jy deur die Dordtse Leerreëls werk om dit te help verduidelik en verstaan.

Verdere Lesing

  • Romeine 5:1-11
  • Romeine 8:18-30
  • Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1

Gebed

Ons almagtige en hemelse God en Vader, U is groot en verdien al die eer, lof en prys! Here, ons dink gou te groot van onsself en besef dan nie hoe klein ons U maak nie. Help ons om in alles U te erken en ook die prys te gee vir alles. Gee ons sondebesef en ook die moed om aan te hou streef na ’n regte lewe voor U. Ons vra dit nie omdat ons dit verdien nie, maar alleen uit U genade. Amen.

Coram Deo

Die Dordtse Leerreëls leer ons van God se grootheid en die mens se afhanklikheid van Hom alleen. Dit leer ons dat ons alleen uit genade kan leef en dat ons niks self kan doen nie. Volgende keer kyk ons na die erfsonde en God se genade en liefde daardeur. 

Bronnelys

  • Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, God's Glorious GODness (ble. 1-31).
  • Book of Praise

Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata