Lofsang te midde van stryd en oorlog

Verbeel jou jou land staan op die punt om oorlog te voer teen ‘n magtige vyand. En dan klink die opdrag van die generaal deur die laer: “Ons sterkste gewapende manne gaan nie op die voorpunt uittrek nie, maar die sangers gaan op die voorpunt uittrek om lofliedere tot eer van die HERE te sing.”

Lofsang te midde van stryd en oorlog
Photo by Josh Applegate / Unsplash

Lees 2 Kronieke 20:1-29

Verbeel jou jy dien in die militêre weermag van jou land. Julle staan op die punt om oorlog te voer teen ‘n baie magtige vyand. En dan klink die opdrag van die bevelvoerder of generaal deur die laer: “Ons sterkste gewapende manne gaan nie op die voorpunt uittrek nie, maar die sangers gaan op die voorpunt uittrek om lofliedere tot eer van die HERE te sing.”

Dit is ‘n vreemde scenario om jouself voor te stel. Miskien sal die broeders in Pretoria, wat al ‘n Massale Mannesang se magtige dreuning beleef het, wel voel dat dit nie ‘n té ondenkbare opdrag is nie. Nietemin, bly dit ‘n vreemde voorstelling en in 2 Kronieke 20 vind ons juis so ‘n merkwaardige stryd.

Gelowiges se lewe op aarde is ‘n stryd, ‘n oorlog. Juda se stryd in 2 Kronieke 20 is egter ‘n stryd teen vlees en bloed, teen die Moabiete en Ammoniete, in teenstelling met ons geestelike stryd (Efesiërs 6:12). Tog leer ons in hierdie hoofstuk belangrike waarhede oor hoe om ons geestelike stryd aan te pak – meer nog, ons leer meer oor die God wat vir ons stry en die oorwinning gee. 

Toe koning Josafat hoor dat die vyand optrek om teen hom oorlog te voer, het hy bevrees geword (vers 3). Wat het Josafat toe gedoen? Hy het “sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep.” (vers 3) In vers 6 tot 12 bid hy dan ‘n pragtige gebed en sluit die gebed soos volg af: “Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.” (vers 12)

Wat doen jy wanneer jy in groot benoudheid verkeer en baie bevrees word? Wanneer die Satan, sy bose geeste, die sondige wêreld en jou eie sondige natuur op jou toesak? Wanneer vervolging en verdrukking op jou pad kom? As jy siekte, depressie, ekonomiese of verhoudingsprobleme in die gesig staar? Kortom, as daar stryd en oorlog in jou lewe woed?

Kyk na Josafat en Juda se voorbeeld: Soek die HERE, verootmoedig jouself, bid tot die HERE en hou jou oë op die God wat in die hemel troon. Luister dan ook na die Woord van die HERE. Nadat Josafat gebid het, het die Gees op Jahásiël gekom, en hy het die HERE se Woord in vers 15-17 verkondig. Gebed en die Here se Woord kan dus die moedverlore soldaat versterk vir die oorlog. 

Juda mog hoor: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.” (vers 15) Dit is hoekom Juda met lofprysing die stryd kon stry, want God het vir hulle gestry! Dit is dan ook wat verder gebeur het in 2 Kronieke 20:

“En hy (Josafat) het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.” (vers 21-22) 

Die HERE stry vir sy volk. Die HERE het ingegryp deurdat die vyand teen mekaar gedraai en mekaar uitgewis het (vers 23). Toe Josafat en Juda daar aangekom het, was al hul vyande reeds dood en hulle kon die groot buit wegdra (vers 24-25). Daarom is die plek Lofdal genoem, want daar het hulle die HERE geloof (vers 26).

Die stryd is nie ons saak nie, maar ‘n saak van God! Nog duideliker sien ons dit met Christus se koms. Die Here Jesus het die beslissende stryd reeds vir ons gestry. Hy het in ons plek aan die kruis gehang. En in die aand voor sy kruisiging, in al sy benoudheid, het Hy ook ‘n lofsang gesing (Mattheüs 26:30). Christus het ook lofsingend die stryd tegemoet gegaan. En deur sy dood en opstanding het Hy die Satan, die sonde en die dood verslind en die oorwinning behaal. Deur geloof kry ons deel aan Jesus se oorwinning. Ja, ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het (Romeine 8:37).

Daarom kan ons ons stryd lofsingend aanpak, want die stryd is ‘n saak van God. Hy het reeds in Christus die grootste stryd in ons plek gestry. Hy versterk ons ook vir ons aardse stryd vandag! Ons is meer as oorwinnaars, laat ons Hom dan loof en prys – veral as die vyand teen ons optrek.

 Wat beteken dit prakties?

  • Eerstens beteken dit dat ons in swaarkry nie moet vergeet om die Here te loof nie. Ons moet Hom steeds erken vir Wie Hy is en alles wat Hy doen. Lofsang is ‘n wapen van troos en krag in ons aardse aanvegtinge. Dink aan Paulus en Silas wat om middernag in die tronk lofliedere gesing het (Handelinge 16:25). Christus self het ook in sy donkerste nag gesing (Mattheüs 26:30). Net ‘n kantnota: dit was die gebruik om tydens Pasga die Hallel Psalms (Psalm 113-118) te sing, so Christus en sy dissipels het heelwaarskynlik dit gesing. God is dus die God wat ook in die swartste nag met ‘n lied geloof moet word (Psalm 42:9, Job 35:10)!
  • Loof die Here saam met mede-gelowiges. Sang is ‘n belangrike element in ons eredienste. Loof die Here met jou hele hart tydens eredienste.
  • Memoriseer die psalms. Musikale stukke het die voordeel dat dit nie baie moeilik is om te onthou en te memoriseer nie. Rus jouself toe met lofsange vir die oorlog.
  • Leer jou kinders om te sing. Die psalms wat die kinders by die huis, skool en kerk leer, kan eendag ‘n kragtige wapen in hul geestelike stryd wees!

Jy staan dus op die punt om oorlog te voer. Jy hoor hierdie buitengewone opdrag wat weerklink deur die laer: “Laat die sangers op die voorpunt uittrek!” Mag ons dan gehoorsaam wees en ons geestelike oorlog só aanpak - met lofsang op die voorpunt! Paulus skryf ook: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here” (Efesiërs 5:19). Ja, sing, gelowige, sing! Dan kan jy ook terugkyk op die oorlogsveld van jou lewe en sê: “Hierdie plek word Lofdal genoem, want daar het ek die HERE geloof.”

Gebed

“Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas!” (Psalm 147:1) Dank U, Here, dat ons u lof kan besing. Ons aanbid U, Vader, Seun en Heilige Gees vir Wie U is en alles wat U doen. U is genadig en barmhartig, almagtig en regverdig en ons loof U daarvoor. Ons prys en dank U ook vir u sorg, vergifnis en vernuwing wat U aan ons skenk. Ons bid dat U met u kinders sal wees wat gebuk gaan onder moeilike omstandighede. Troos en versterk hulle dat hulle ook vir U ‘n lofsang kan laat oprys. Ons sien met verlange uit na die dag waar ons voor u troon sal staan en U saam met al u kinders sal loof (Openbaring 14:3). Aan U behoort die lof en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Verdere Bybelstudie

Lees of sing Psalm 42-43

Bronnelys

Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata