Is 'scrolling' a sin?

‘Scrolling’ is die aksie wat ‘n persoon verrig wanneer hy op sosiale media soos Instagram, Tiktok of Youtube ‘reels’ opwaarts of afwaarts trek oor die skerm, sodat hy die volgende video-opname kan sien.

Is 'scrolling' a sin?
Photo by Plann / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria

‘Scrolling’ is die aksie wat ‘n persoon verrig wanneer hy op sosiale media soos Instagram, Tiktok of Youtube ‘reels’ opwaarts of afwaarts trek oor die skerm, sodat hy die volgende video-opname kan sien.

Hierdie is ‘n vraag met ‘n komplekse geaardheid. Daarmee bedoel ek dat dit moeilik is om die vraag te beantwoord, omdat almal se ‘content’ waardeur hulle gaan, verskil. Met dit in gedagte sal die artikel baie gepas wees vir party mense, maar vir ander weer glad nie.

Wanneer ons na die vraag kyk, moet ons besef dat ‘scrolling’ opsigself nie ‘n sonde is nie, behalwe as jy te veel doen. Wat klassifiseer as te veel? Jy ‘scroll’ te veel as dit jou lewe oorheers, soos as jy vir ure ‘scroll’, maar skaars tyd het vir Bybel lees. Hierdie gedagte word bevestig deur 1 Korinthiërs 6:12 “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.” Hierdie teksvers herinner ons dat nie alles nuttig is nie. Ons moet die tyd wat ons spandeer aan sekere goed in gedagte hou. As ons te veel tyd daaraan spandeer, is dit noodsaaklik dat ons dit regstel.

‘Scrolling’ kan wel goed wees as jy goeie goed kyk wat behulpsaam is tot jou geloof en wat feitlik korrek is. In 1 Thes 5:21-22 staan daar: “Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad.” Ons moet alles beproef of dit reg is, die goeie behou en die kwaad vermy.

Nog ‘n aspek wat in gedagte gehou moet word, is om ons gewete te bewaar. Jou gewete kan beseer word as jy menigmaal dieselfde sonde verrig. Dit kan selfs die mense rondom jou beseer. Volgens Mat 6:22-23 is die oog die lamp van die liggaam: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” As jou oog dus die verkeerde inligting inkry, sal dit die liggaam beseer. Nog ‘n belangrike vers is Spr 4:23: “Bewaak jou hart met alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” Dit lê geweldig klem op die feit dat ons ons hart moet bewaak, omdat dit die oorsprong van die lewe is. 

Verder is ons op die aarde geplaas deur God om Hom te loof en dien. Dit is die mens se hoofdoel. Ons ander doele moet so verrig word dat dit nie ons hoofdoel onderbreek of teenwerk nie. Inteendeel, dit moet ons hoofdoel ondersteun en ons help daarin. ‘n Mooi herinnering is Heb 12:28: “Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” Dit plaas die klem daarop dat God vir ons soveel gegee het. Ons moet dankbaar wees en Hom loof en gehoorsaam.

‘Scrolling’ is dus nie ‘n sonde nie, mits dit godvresend gedoen word.  Ons moet versigtig wees oor hoe ons met sosiale media oor die algemeen omgaan, sodat dit nie ons hoofdoel onderbreek nie, maar daarop bou en ons help om God te dien en te loof. Dit is immers ons ware doel op die aarde.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp