Hoe weet ons dat Genesis werklik geskiedenis is?

In ‘n 105-minute video met dieselfde titel onderneem Del Tackett, DM om te bewys dat Genesis inderdaad geskiedenis is – die enigste ware geskiedenis. Hy identifiseer ‘n klomp aannames wat die wêreld oor die geskiedenis van die aarde en die geskiedenis van die mens maak

Hoe weet ons dat Genesis werklik geskiedenis is?
Photo by Tanner Mardis / Unsplash

Geskryf deur Marlies van Renssen, VGK Kaapstad

DOKUMENTER RESENSIE: Is Genesis History?

In ‘n 105-minute video met dieselfde titel onderneem Del Tackett, DM om te bewys dat Genesis inderdaad geskiedenis is – die enigste ware geskiedenis. Hy identifiseer ‘n klomp aannames wat die wêreld oor die geskiedenis van die aarde en die geskiedenis van die mens maak, en bevraagteken dan hoe hierdie aannames ons Christelike siening oor die geskiedenis affekteer. Hoe beïnvloed dit die manier waarop ons oor wetenskap en die Bybel dink?

Tackett pak drie groot vrae in hierdie video aan:

  1. Is die wêreld deur God geskape in ‘n paar dae of het dit ontstaan oor ‘n biljoen jare?
  2. Is die mens van ape afkomstig of het God ons oombliklik volgens sy beeld geskape?
  3. Was daar ‘n globale vloed wat die aarde verwoes het of is dit maar net ‘n storie?

In die video vat Tackett die “viewer” (kyker) op ‘n avontuur oor die Verenigde State van Amerika en raadpleeg meer as 10 akademici en kenners op hulle afsonderlike gebiede om antwoorde op hierdie vrae te bekom.

Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 2 ken ons God deur twee middele: die skepping en Sy Woord. Dit is in hierdie video duidelik wanneer Tackett die natuur invaar en antwoorde vind in die rotsformasies, fossiele, genetika, diere en selfs die sterre. Verder raadpleeg hy ook ‘n kenner van die Hebreeuse taal en ‘n pastoor om antwoorde in die Woord van God te vind.

Tackett tree ook in ‘n gesprek met Paul Nelson, ‘n filosoof, waaruit ons leer dat daar twee hoof paradigmas is met betrekking tot die geskiedenis van lewe en die geskiedenis van die heelal. Deur die video word daar herhaaldelik na hierdie paradigmas verwys. ‘n Paradigma is ‘n raamwerk waarbinne jy bewyse interpreteer. Wetenskap is dus nie net bewyse nie, maar hoe jy daardie bewyse interpreteer.

Nelson verduidelik die twee paradigmas as die konvensionele paradigma wat gevorm word en behels dat alle kompleksiteit van onder af opgebou moet word deur fisiese prosesse oor ‘n lang periode van tyd. En die Genesis-paradigma wat ontvang word behels dat alles deur die Skepper uitgedink en geskape is. Die geskiedenis van lewe op aarde is dus ‘n stel data en afhangende van jou paradigma kan hierdie data verskillend geïnterpreteer word.

Tackett sluit hierdie video af met myns insiens die belangrikste vraag: Hoekom is dit belangrik dat Christene Genesis as die ware geskiedenis aanvaar? Hoekom is die historisiteit van Genesis belangrik vir ‘n Christen se geloof?

As die hoofstukke 3-11 van Genesis as histories onakkuraat of onwaar gesien word, dan beteken die res van die Bybel, wat aanneem dat dit waar is, dit behandel asof dit histories korrek is en konstant daarna terug verwys, niks nie. Dan kan jy netsowel van die hele Bybel ontslae raak.

In die video bewys Tackett en al die mense wat hy raadpleeg keer op keer dat die Woord van God, die geskiedenis wat Hy in Genesis vir ons uitlê, waar is. Dit mag vir ons ‘n troos en ‘n rots wees. As jy jou vertroue plaas in wetenskap, onder andere die ewolusie teorie, sal jou lewensuitkyk onstabiel wees aangesien dit konstant verander na aanleiding van nuwe ontdekkings.

Die 105-minute video “Is genesis history?” kan op Youtube gevind word deur die volgende skakel te volg Is Genesis History? - Watch the Full Film - YouTube of hier onder te kyk:

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp