Wat is Engele?

Ons lees die woord ‘’engel’’ 250 keer in die Bybel. Wat is engele, en wat is hulle doel? In die wêreld van vandag word engele afgemaak as fabels en mites. Mense glo nie meer in die bestaan van engele nie, en niemand hou enige rekening met hulle nie. Is ons self nie ook soms skuldig daaraan nie?

Wat is Engele?

Geskryf deur Marnix Boon, VGK Maranata

Ons lees die woord ‘’engel’’ 250 keer in die Bybel. Wat is engele, en wat is hulle doel? In die wêreld van vandag word engele afgemaak as fabels en mites. Mense glo nie meer in die bestaan van engele nie, en niemand hou enige rekening met hulle nie. Is ons self nie ook soms skuldig daaraan nie?

Engele is skepsels deur God geskape, nes mense. Die groot verskil met die mense is dat engele almal gelyk geskape is en dat hulle aantal konstant bly. Ook het hulle nie fisiese liggame soos mense nie, maar hulle is geestelike wesens, wat onsterfbaar is. Daar is ook verskillende soorte engele, naamlik gerubs (Hebreërs 9:5) en serafs (Jesaja 6:2). In die Bybel word daar verskeie eienskappe van engele vir ons genoem. Hulle het ‘n selfbewussyn (Lukas 1:19), hulle het gevoelens (Lukas 15:10), hulle kan praat (1 Korintiërs 13: 1) en hulle aanbid God (Hebreërs 1:6).

So sien ons dat die engele heelwat gemeenskaplike eienskappe met mense deel, alhoewel ons hulle as ‘n voorbeeld kan sien vir hoe ons God moet dien soos Jesus in die Onse Vader gesê het: ‘’laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Ons moet dus God se wil op aarde doen soos die engele in die hemel God se wil laat geskied.

Take van engele

Engele is almal geskape met verskillende doele. Hulle is gehoorsaam en gewillig om te doen wat God van hulle vra. Hulle verskillende take behels om boodskappers te wees, te bewaak, God se oordele uit te voer, hulle moet God loof en prys en hulle moet beskerm.

Die woord ‘engel’ kom van die Griekse woord ‘angello’ wat beteken om ‘n boodskap oor te bring. Die Here gebruik engele dikwels om sy boodskap aan mense oor te bring, soos toe die engel Gabriël vir Maria die boodskap gebring het dat sy die moeder van die Messias sal wees. (Lukas 1:26-38)

Die engele moet ook bewaak. Hulle moes die paradys bewaak na die sondeval. Verder het hulle die ark op aarde bewaak. Hulle bewaak ook God se troon in die hemel.

Hulle moet God se oordele uitvoer. Bv. die engel van die dood in Egipte.

Hulle het ‘n liturgiese taak. Hulle moet in die hemel God loof en prys. Dink aan die herders van Betlehem, toe die engele ‘n loflied vir die geboorte van die Messias gesing het. (Lukas 2:8-20)

Hulle moet beskerm. Hulle moet God se kinders beskerm. Dink aan Psalm 91:11-12. “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”

Engele se natuurlike geaardheid

Nou is dit so dat nie alle engele God gehoorsaam het nie. Daar is sogenaamde gevalle engele en die bekendste een is Satan. Wat is die engele se natuurlike geaardheid as van hulle in opstand teen God gekom het? Daar moes ‘n tydperk gewees het waar alle engele God gedien het, vergelykbaar met die tyd toe Adam en Eva in die paradys gebly het. Iewers waarskynlik voor God die aarde geskape het, het van die engele in opstand teen God gekom. Satan is deur God uit die hemel verwerp, saam met al die ander engele wat hom gevolg het in sy opstand. Van toe af is Satan se enigste doel om God teen te werk. Dit is hy wat die mens verlei het om ook in sonde te val. Die engele wat Satan gevolg het, het onreine geeste geword. (Markus 1:23)

Die engele wat nie in opstand gekom het nie, word in die Bybel na verwys as “die heilige engele” (Markus 8:38). Heilig beteken dat hulle steeds aan God toegewyd is. Hulle vrye wil is nie besmet deur sonde soos die mens se vrye wil nie. Hulle kan dus deur die genade van God vir die regte dinge kies en God se wil voorop stel.
In Openbaring 21:27 staan dat niks wat sondig en onrein is, in die nuwe Jerusalem sal ingaan nie. Die engele vertoef in die die Heilige Stad van God en moet dus daarvoor sondeloos wees.

Engele is diensknegte van God en kyk hoe gehoorsaam voer hulle hul opdragte uit. Ons is kinders van God, maar tog voer ons nie so gehoorsaam sy bevele uit nie. Laat ons ‘n voorbeeld neem aan die engele!

“Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so op die aarde.”

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp