In die stryd met ‘n kragtige wapen

Ons vyand probeer ‘n gaping in die borsplaat, die skild op die verkeerde posisie, en die helm op die grond te kry. Hierdie vyand is dus nie net ‘n geluid in die verte nie, dis ‘n realiteit vir ons. Hoe weer ons hierdie vyand af met die swaard?

In die stryd met ‘n kragtige wapen
Photo by Sandip Kalal / Unsplash
“En neem aan…die swaard van die Gees — dit is die woord van God” (Efesiërs 6:17)

In die beskrywing van die wapenrusting van God is die swaard van die Gees die enigste wapen wat ons op ons moet neem. Hierdie wapen word aan ons gegee om aanvallend in die geestelike stryd teen die Bose te staan. Die Griekse woord vir “swaard” in vers 17 dui op ‘n korter swaard. Ons enigste wapen is daarom nie bedoel vir langafstand teikens nie, maar eerder vir ‘n direkte geveg wat naby is. Ons vyand probeer ‘n gaping in die borsplaat, die skild op die verkeerde posisie, en die helm op die grond te kry. Hierdie vyand is dus nie net ‘n geluid in die verte nie, dis ‘n realiteit vir ons. Hoe weer ons hierdie vyand af met die swaard?

Die Woord van God as die swaard van die Gees

Voor ons kyk na die funksies van die swaard, kyk ons eers na die tipe swaard wat ons op ons moet neem. Paulus skryf in vers 17 dat die swaard aan die Gees behoort. Hy skryf verder ook dat dit die woord van God is. Die Gees en die Woord word dus hier aan mekaar verbind. Soortgelyk aan die hart-verstand verbintenis met die helm van verlossing (vers 16) is die Gees en die Woord ook onafskeibaar. Die Woord is nie ‘n “swart-op-wit boek wat ‘n paar geskiedenisverhale bevat” nie, maar die Woord is lewend deur die Heilige Gees wat dit geïnspireer het (2 Petrus 1:21). Die Heilige Gees as uiteindelike Outeur van die Woord help ons met die verstaan van die Woord. Deur die swaard van die Gees kan ons die Woord nuttig tot onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om toegerus te wees in die stryd (2 Timotheüs 3:16).

Die swaard teen die Bose

“Is dit ook so dat God gesê het…?”

Die vrae, wat Satan aan Eva in die paradys gevra het, kan inslag kry in ons eie lewens, byvoorbeeld:

  • “Het God rerig gesê dat jy nie op Sondag mag werk nie? Sondagaand na kerk is die Sondag tog verby?”
  • “Hoekom sal God jou beveel om tiendes te gee - is dit nie miskien veiliger om jou versekeringspolisse te versterk nie?”
  • “Kan jy nie sien dat Christene nie tuis voel hier op aarde nie - hoekom sal jy wil vashou aan ‘n paar ou tradisies?”

Watter antwoorde sal ons hierop hê sonder ‘n vaste fondasie van waarheid en sonder ‘n wapen om hierdie Satansvrae af te weer?

“Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek” (Jesaja 49:2)

Ook Satan het Jesus nie alleen gelaat nie. Toe ons Verlosser in die woestyn was rig Satan strategiese versoeke aan Hom:

  • “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.”
  • “As U die Seun van God is, spring van die dak af, want die engele sal U dra.”
  • “As U neerval en my aanbid, sal ek al die koninkryke van die wêreld aan U gee.”

Maar, op al drie aanvalle van Satan, antwoord ons Verlosser met “Daar is geskrywe…” (Mattheüs 4:1-11). Christus druk die swaard van die Gees in die buik van die slang deur die Woord te gebruik. In reaksie daarop laat die duiwel Hom staan (vers 11). Hy, ons volmaakte Voorbeeld, wys ons die effektiefste manier om Satan se slinkse stellings en vrae af te weer: die swaard van die Gees. Wanneer ons versoek word om oneerlik te wees in ‘n eksamen, ander te haat wat ons seergemaak het, of gesag te ondermyn deur terug te praat, dan kan ons Satan en sy versoekinge afweer met die Woord. Lees daarom die Woord van God, memoriseer teksverse, verdiep jouself daarin en soek medegelowiges op om saam die Bybel te bestudeer sodat daar ‘n wolk van getuies gereed staan teen die versoekinge (Hebreërs 12:1).

Die snoeiskêr van die Gees

Hierdie afwering van Satan deur die swaard sny die werke van die vlees weg: owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery, en dergelike dinge (Galasiërs 5:19-21). Terselfdertyd bring die afwering ook vrugte van dankbaarheid voort, naamlik die vrug van die Gees: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). 

Maar, in die druk van die samelewing plaas gelowiges gereeld hulle energie in aardse dinge en moeites en vergeet van die belangrike dinge in die lewe. Ons word afgelei deur bekommernisse, jaloersheid, en haat - so verloor ons perspektief om in die lig van God se nabyheid te lewe.

“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.” (Johannes 15:2)

Soos ons perspektief verloor in hierdie stryd, word ons vaal en vrot. Dis dan wanneer die Landbouer ons deur sy Woord en Gees snoei dat ons weer perspektief kan kry en volop vrug kan dra in hierdie stryd. Maar, die swaard van die Gees het ‘n dieper inslag vir gelowiges, een wat deurdring tot die hart.

Die skalpel van die Gees

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12)

Die Woord van God is lewend. Hierdie swaard word nie net gebruik om Satan af te weer of om ons te snoei sodat ons weer vrug kan dra nie, maar ook om met ‘n skalpel (‘n skerp chirurgiese mes wat gebruik word vir operasies) tot die diepste van ons hart te sny. Na Petrus se toespraak op Pinkster was die skare “diep in die hart getref” (Handelinge 2:37). Die skalpel van die Gees oortuig die mens van sonde, van geregtigheid, en van oordeel (Johannes 16:8). Wanneer die Gees in ons lewe werk deur wedergeboorte, bekering, regverdigmaking, en heiligmaking, dan is dit ‘n stryd, ‘n pyn vir ons - dit laat ons harte bloei as die gewas van die sonde uitgesny word. Voel jy soms ‘n diep pyn in jou as ‘n preek of ‘n medegelowige jou aanspreek? Moenie kwaad of verdedigend raak as hierdie skalpel van die Gees jou hart sny nie, want die Gees gebruik juis hierdie skalpel om jou te heilig! 

Om ‘n Christen te wees beteken dat ons nie meer op ons eie goeie werke staatmaak nie, want hierdie swaard sny dieper as ons voorkoms voor ander. Hierdie skalpel mis nie die gewas van selfverheerlikende Bybellees sodat ander mense dit kan sien nie. Dit mis nie die gewas van valse liefde aan ons vrou, familie, kinders, en kerkgemeenskap om ‘n positiewe en trotse selfbeeld uit te straal nie. Dit mis nie die gewas van ywer in die kerkgemeenskap sodat ons in aansien is by ons medegelowiges nie. Nee, die Gees sny deur tot die diepste kamers van ons hart en reinig ons van die sondes sodat ons, as Christene, ons lewens van harte kan rig tot God.

In die stryd met ‘n kragtige wapen

Met die kragtige swaard van die Gees in ons hand kan ons die Bose met die swaard afweer. Die snoeiskêr bring ons lewe weer in perspektief sodat ons kan vrug dra in hierdie stryd. Die skalpel haal die gewasse uit die diepste van ons hart. Hierdie drie funksies van die swaard wys hoekom dit ‘n onmisbare wapen is in hierdie geestelike stryd.

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.
En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.
En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.
En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.
En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.
En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.” (Openbaring 19:11-16)

Die vooruitsig vir ons is dat ons eendag die Woord van God self gaan sien op ‘n wit perd met ‘n skerp swaard in sy mond. Christus reinig ons om te stry teen versoekinge van die wêreld, ons eie sondige vlees, en Satan. Laat die Gees deur die woord van Christus ryklik in jou woon (Kolossense 3:16), ervaar daarmee saam die genadige werking van die Woord wanneer jou hart gesny word, en gebruik die swaard van die Gees om die Bose en sy versoekinge af te weer!

Gebed

Here, U, die Kenner van die diepste kamers van ons hart. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Ons moet erken dat ons gereeld dinge doen vir die verkeerde redes. Ons jaag na status, rykdom, aansien, en aardse dinge, maar Here, U ken ons harte, U weet hoekom ons doen wat ons doen. Ons harte is besmet met sonde en daarvoor dank ons U dat U die swaard van die Gees aan ons gegee het as deel van die wapenrusting. Ons dank U dat U die Gees aan ons gegee het sodat ons van binne vernuwe mag word, na buite vrug kan dra, en die Bose en sy versoekinge kan afweer. Here, help ons om die swaard van die Gees op te neem sodat ons gewillig en met ‘n opregte hart in u koninkryk mag dien. Hou ons lewe in perspektief sodat ons ons lewens op die ewigheid kan rig, wanneer ons U sal sien op ‘n wit perd met die swaard in u mond, U wat reeds die oorwinning behaal het! Deurgrond my, o God, en ken (sny diep) my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Amen.

Vir verdere lesing

Bronne

  • Efesiërs 6 | Die swaard v/d Woord: ‘n Christen kan nie sonder sy Bybel lewe nie | Ds. HH van Alten | [Link]
  • Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 89-102). Crossway.

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata