Hoe stem ek as ‘n Christen?

Stem ons vir ‘n groot party wat verandering kan bring of volgens Christelike beginsels? Oor minder as twee maande gaan Suid-Afrika DV vir die sewende keer ‘n regering demokraties verkies. Baie mense reken dat hierdie verkiesing dalk ‘n keerpunt in ons land se geskiedenis kan bring.

Hoe stem ek as ‘n Christen?
Photo by Element5 Digital / Unsplash

Geskryf deur Ruan Snijder, VGK Maranata

Stem ons vir ‘n groot party wat verandering kan bring of volgens Christelike beginsels?

Oor minder as twee maande gaan Suid-Afrika DV vir die sewende keer ‘n regering demokraties verkies. Baie mense reken dat hierdie verkiesing dalk ‘n keerpunt in ons land se geskiedenis kan bring. Hulle hoop dat ‘n DA-geleide koalisieregering ‘n nuwe era in ons land sal inlei. Een met goeie dienslewering, ekonomiese groei, lae vlakke van kriminaliteit en vrede tussen al ons uiteenlopende kultuurgroepe. 

Ongelukkig is ons sondige mense se hoop soms so naarstig desperaat vir verandering of vernuwing dat ons vergeet dat die hoop wat ons op mense stel sekerlik sal faal. Histories sien ons ook presies dit: politici misluk altyd om die utopiese samelewing tot stand te bring wat hulle beloof het. 

Baie keer wonder ons tog as Christene of ons nie maar vir die DA moet stem nie. Hulle is immers die enigste party wat groot genoeg is om die kanse te kniehalter dat die ANC herverkies word. Hulle het immers in die Wes-Kaap bewys dat hulle die vermoë het om goeie diens te lewer. 

Dit is juis wanneer ons vanuit ons aardse begeertes redeneer dat ons begin wonder of ons nie Christelike beginsels moet prysgee ter wille van verandering in die land nie. 

My mening is dat ons ‘n aksentverskuiwing nodig het in wat ons dink ons stem as Christene teweeg moet bring, voordat ons besluit vir watter party om te stem. 

God se eie Seun, Jesus Christus, het immers reeds 2 000 jaar gelede die ewige regeringspos as koning van die heelal ingeneem. Hy is ook die enigste regeerder wat werklik ware hoop vir sy mense gebring het en geen van sy beloftes onvervuld gelaat het nie (Dan. 7:13-14). God se Seun is by die Vader om daagliks ook na ons aardse belange om te sien. 

Ons stemme as burgers is dus nie om ‘n ander heerser op die troon te bring nie. Christus is reeds op die troon en Hy is ‘n volmaakte Koning. As ons bid “laat U koninkryk kom” wil ons hê dat hierdie koninkryk elke dag nóg meer sigbaar moet word. Ons wil hê die evangelie moet verder vesprei en meer mense moet die knie buig voor ons Heiland, tot op die dag van die Here wanneer Hy “kom met die wolke, en elke oog Hom [sal] sien” (Openb. 1:7). Dit moet ons eerste prioriteit met ons stemme wees.

Kom ons vra onsself dan: “Sal dit God se koninkryk bevorder as beurtkrag tot ‘n einde kom en ons asblikke weekliks leeg gemaak word? As daar stabiele groei in die ekonomie is en ons binne tien jaar almal hoër middelklas burgers word?” Dit is moontlik dat die Here sulke stabiliteit kan gebruik, maar Hy is geensins daarvan afhanklik nie. Die Bybel waarsku juis dat hierdie tipe welstand gevare vir Christene inhou (1 Tim. 6:9). 

Dit beteken nie dat ons as Christene doelbewus ekonomiese of sosiale agteruitgang moet gaan opsoek om te waak teen die gevare van welvaart nie. Nee, die Here verhef ons tot ‘n selfs edeler vlak as sy koningskinders, waar ons met ons stemme sy koninklike ideaal kan nastreef. 

Petrus sê ons is “'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” Kom ons gebruik dan ook ons stemme om te verkondig van Hom, Jesus Christus, wat ons uit hierdie aardse duisternis gered het. 

Dit is belangrik dat ons so ons aardse teen hemelse ideale opweeg, want daar is nie een party wat én ons aardse welstand sal kan bevorder én ons koninkryklike ideale sal nastreef nie. Die Christelike partye is meestal juis klein partye met beperkte mag om nasionale verandering aan te bring, maar hulle is groot genoeg om Christus se Woord te laat hoor. 

Ons stemme in Suid-Afrika is daarom meer “óf óf”. Óf ons stem vir ‘n party wat moontlik sosiale en maatskaplike welstand sal kan bewerkstellig, wat Christelike waardes sal opoffer ten gunste van burgerlike vrede of rykdom; óf ons stem vir ‘n party wat nie sal skroom om Christus te verkondig nie, ongeag van die omstandighede of die gevolge.

Maar hier sien ons dan die wonder daarvan as ons kinders van God is: Christus verander ons soeke na Hom van ““óf óf” terug na “én én” wanneer Hy sê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33) Hy sê dit as antwoord op ons mense se bekommernisse net bietjie vroeër in v. 31: “moet julle … nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?” Christus ken ons harte - Hy weet ons is meer gefokus op die hier en nou, op ons omstandighede. Ek gaan stem vir ‘n party wat sal sorg dat ek ‘n werk het, genoeg het om te eet, om te drink, om klere te kan bekostig om sekuriteit te hê, om my toekoms te kan bekostig. “Nee,” sê Christus, “stem eers vir die Koninkryk en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Ek is in beheer van julle ekonomiese welstand, julle veiligheid, nie aardse partye nie - Ek is op die troon en alle heerskappy is aan my gegee.”

Die Here toets ons geloof met ons stemme. Gaan ons ons hoop bou op aardse leiers of op Hom?

Ek reken dus dat ons ‘n party kan soek vir die parlement wat, al het hulle net ‘n handjievol setels, nie beskaamd sal staan om Jesus Christus te verkondig nie. Een wat bereid sal wees om op te staan teen die moord op ongebore babas, wat nie sal huiwer om rassediskriminasie teen te staan nie. ‘n Party wat bereid sal wees om die aftakeling van alle sosiale strukture deur die “woke kultuur teen te staan, wat bereid sal wees om op te staan vir God se patroon vir gesonde huwelike, ouers se gesag oor kinders, gesonde gesinne. ‘n Party wat individualisme teenstaan. 

Die vraag is: is daar sulke partye? Elke party was al ten minste een keer in die nuus oor iets opspraakwekkend. Dit is immers ons geneigheid as sondige mense om foute te maak. As ons egter holisties na elke party se beleid volgens Christelike waardes kyk, gee dit ons wel ‘n goeie idee van watter partye waardig is om voor te stem:

Die ACDP en VF+ is die enigste partye wat hulself Christelik noem en wat groot genoeg is om op nasionale vlak verteenwoordiging te hê. Die ACDP is ten gunste van meeste wesenlike Christelike kwessies wat op die politiek afspeel en is na my mening ‘n goeie party om voor te stem. 

Die VF+ het voorheen die meeste van hierdie selfde Christelike standpunte ondersteun, maar sedert die 2019-verkiesing is dié party se beleide al hoe meer vaag oor hul standpunt rondom sekere onderwerpe, bv. oor selfdegeslag-huwelike. Dit sou nie help om te bespiegel wat hul motiewe is nie en daarom stel ek voor dat Christene wat oorweeg om vir hierdie party te stem ook self hul beleide en manifes gaan lees (skakels hieronder). 

Kom ons bid saam dat die Here hierdie verkiesing sal gebruik om sy wil te laat geskied en sy koninkryk tot voleinding te laat kom. 

Partykonstitusies en -beleide

Partymanifeste

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp