Hoe onderskei ek leuen van waarheid?

Almal van ons is mense. As mense sukkel ons om te onderskei tussen leuen en waarheid, aangesien ons van nature die waarheid haat. Om tussen die twee te kan onderskei, moet ons eers weet wat albei beteken.

Hoe onderskei ek leuen van waarheid?
Photo by Pablo García Saldaña / Unsplash

Geskryf deur Charles Bron, VGK Maranata

Almal van ons is mense. As mense sukkel ons om te onderskei tussen leuen en waarheid, aangesien ons van nature die waarheid haat. Om tussen die twee te kan onderskei, moet ons eers weet wat albei beteken.

So wat is die waarheid dan? Ons lees van die waarheid in ‘n verskeidenheid van verse in die Bybel. In Johannes 17:17 lees ons: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” en in Psalm 119:151 lees ons: “U, o Here, is naby en al u gebooie is waarheid.” Dan lees ons ook in die bekende vers 6 van Johannes 14 waar Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Daar is nog baie verse wat genoem kan word, maar selfs uit net hierdie paar is dit duidelik dat God Drie-Enig die waarheid is. Hy deel ook sy waarheid met ons deur middel van sy Skrif.

Aangesien ons nou weet dat God die enigste waarheid is, kan ons aanneem dat alles wat teen God en teen dit wat Hy in sy Woord aan ons openbaar is, nie die waarheid is nie. Dit is ‘n baie breë stelling om te maak, maar dus sê God ook presies wat dit behels om teen sy waarheid in te gaan.                                        

Die negende gebod sê: “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”. Soos die meeste van ons geleer het toe ons jonk was, beteken dit dat jy nie mag jok of ‘n leuen vertel nie. Dit is egter veel dieper as net leuens vertel. Sondag 43 van die Heidelbergse Kategismus leer ons presies wat die negende gebod behels. Vraag en Antwoord 112 vra: “Wat eis die negende gebod?” Die antwoord is dan: “Ek mag teen niemand valse getuienis aflê, niemand se woorde verdraai, nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees nie, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie. Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder.” Al dié voorbeelde gaan duidelik teen die Woord en teen die wil van God in, dus gaan dit ook teen sy waarheid in. Dit is nie altyd so maklik om te weet wanneer ons teen die waarheid van God ingaan nie. Ons kan ook nie elke keer wat ons die negende gebod in ons daaglikse lewe oortree, in die Skrif of in die kategismus vind nie. Daarom gee God ook vir ons ander middele wat ons kan gebruik om makliker tussen die leuen en die waarheid te kan onderskei.

1. Ons gewete
Ons gewete is waarskynlik die maklikste manier waarmee ons kan onderskei tussen die leuen en die waarheid. Romeine 2:15-16: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig”. So as jy ‘n leuen vertel of iets doen wat nie volgens God se wil is nie, sal jy dit weet, want jou gewete sal jou pla en jy sal skuldig daaroor voel. Verder sê Romeine 9:1 ook: “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie — my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees.” Die vers maak dit vir ons baie duidelik dat ons gewete ‘n middel is wat God aan ons gegee het om ons te help onderskei tussen die leuen en die waarheid.

2. Gebed
Vir ons as sondige mense is dit makliker om ‘n leuen te vertel as die waarheid. Wat erger is, ons kom dit nie eens altyd agter nie! ‘n Maklike voorbeeld is as jy vir iemand sê dat dit wat hulle aan het baie mooi lyk, terwyl jy eintlik dink dat hul klere baie lelik is. Dit klink dalk heel onskuldig, maar tog klassifiseer dit as ‘n leuen. Vir so ‘n klein wit leuen sal ons gewete ons nie noodwendig aankla nie (self al moet dit), daarom gee God ons nog ‘n middel om ons te help onderskei tussen die waarheid en die leuen. Dit is gebed. In Jakobus 5:16 lees ons: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” Ons moet dus tot God met eerbied nader en Hom vra of Hy vir ons sal duidelik maak wat die waarheid is. Ons moet Hom ook nederig vra of Hy ons sal vergewe vir al die kere wat ons wel teen sy waarheid ingegaan het en gekies het om ‘n leuen te vertel of te glo.

3. Die Heilige Gees
Die laaste (maar vir seker die belangrikste) middel wat God aan ons gee, is die Heilige Gees wat in ons harte werk. Soos reeds genoem, het ons as sondige mens die leuen lief en nie die waarheid nie. Uit sy genade het God vir ons die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees is ons lewensvernuwer en Hy gee vir ons die wil en die krag om hoe langer hoe meer teen die leuens van die wêreld te stry. Ons lees in Romeine 8:26: “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge”. Ons sien dit is juis deur die Heilige Gees wat ons die vorige twee middele kan toepas.

As opsomming: God is die enigste waarheid. Hy gee aan ons middele om makliker te kan onderskei tussen leuen en waarheid. Die middele is: sy skrif (waarin Hy Homself openbaar), ons gewete (wat ons aankla as ons besig is om die leuen bo-oor die waarheid te kies), en die gebed (waar ons Hom kan vra om vir ons die lyn tussen waarheid en leuen duidelik te maak). God wek dan ook by ons die behoefte om vir sy waarheid te kies deur middel van die Heilige Gees. 

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp