Hoe kan ons uitsien na die oordeel?

In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37, wat handel oor die oordeelsdag, se heel laaste sin staan daar: “Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.”

Hoe kan ons uitsien na die oordeel?
Photo by Tingey Injury Law Firm / Unsplash

Geskryf deur Christiaan Bijker, VGK Pretoria

In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37, wat handel oor die oordeelsdag, se heel laaste sin staan daar: “Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.” Dit klink bietjie vreemd om die opdrag te kry dat ons die laaste oordeelsdag moet geniet en daarvoor uitsien. Hoe kan ons uitsien na die dag waarop God al ons woorde, dade en selfs ons diepste gedagtes gaan oordeel?

Om te sien hoekom ons na ons eie oordeel moet uitsien, moet ons eerstens kyk na wie ons regter gaan wees. In 2 Timotheus 4:1 skryf Paulus ” Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk.” Hier staan dit duidelik dat ons deur die Here Jesus Christus geoordeel sal word. Dit is dieselfde Here Jesus Christus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het en deur God verlaat is om versoening te doen vir ons sondes by die Vader. As jy kan bely dat jy in lewe en in sterwe aan ons getroue Verlosser, Jesus Christus behoort, dan hoef jy nie te vrees vir die oordeel nie, want Jesus Christus sal ons Middelaar wees, soos genoem word in Sondag 1. Dus sal ons Regter vir ons ‘n bekende wees. Hy sal Regter wees nadat Hy vantevore in ons plek veroordeel was. Hy kom om ons vry te spreek van ons sondes en ons te verlos van ons sondige natuur. Daarna sal Hy ons saam met alle ander uitverkorenes na die hemelse blydskap en ewigheid neem. Is dit nie iets om waarlik na uit te sien nie? Ons as gelowiges moet vir die oordeel wag met gespanne afwagting.

Is daar nou gespanne afwagting by ons as christene?

Ja daar moet gespanne afwagting wees in die konteks en verstaan van die oordeel. Hy kom om ons te oordeel, en ons hoef dit nie te vrees nie. Ons leef as christene, nie uit ons eie krag nie, maar vanuit die geloof in Christus, ons Verlosser. Ons is Sy kinders en ons weet dat Hy eendag sal terugkeer om ons regverdig te oordeel. Ons weet nie wanneer Hy terugkom nie, maar ons weet dis wanneer die getal van die uitverkorenes volbring is. Verder weet ons dit sal soos ‘n dief in die nag wees. Hierdie onsekerheid van wanneer Christus sal terugkom moet egter nie vir ons bevrees maak nie, want net God weet wanneer dit sal gebeur en ons moet eerder fokus op die taak wat Christus vir ons hier op aarde gegee het.

Christus sal terugkom om te oordeel wanneer die tyd, wat deur Hom bepaal is, reg is. Dan sal ons as christene reg wees vir sy oordeel en ons vryspraak van die sonde en Christus sal op hierdie dag al sy vyande in die ewige verdoemenis werp.