Hoe kan ons los van die wêreld leef?

Ons as Christene word opgeroep om anders as die wêreld te leef. Maar wat beteken dit regtig? Om afgesonder te leef soos ‘n monnik in ‘n klooster - of kan ons ook gewoon in die samelewing betrokke wees?

Hoe kan ons los van die wêreld leef?
Photo by Joshua Earle / Unsplash

Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville

Ons as Christene word opgeroep om anders as die wêreld te leef. Maar wat beteken dit regtig? Om afgesonder te leef soos ‘n monnik in ‘n klooster - of kan ons ook gewoon in die samelewing betrokke wees? Voordat ons hierdie vraag kan beantwoord, moet ons eers ‘n paar dinge weet. Eerstens wat die Kerk is, wat die wêreld is en wat dit beteken om wêreldgesind te wees.

Wat is die kerk?

In die Heidelbergse Kategismus vraag-en-antwoord 54 lees ons dat die kerk bestaan uit God se uitverkore kinders en dat hulle van die begin van die wêreld af tot die einde toe sal vergader in die eenheid van die geloof. Met ander woorde God se Kerk is die versameling van gelowiges van alle eeue en plekke.

Wat is die wêreld?

Dit is nog ‘n belangrike vraag. Wat is die wêreld? Is dit die plek waar ons bly en al sy mense of is dit die teenoorgestelde van die Kerk? Die Bybel gee vir ons ‘n beeld in Openbaring 17-18. Wanneer ons die twee hoofstukke lees, stel God die wêreld en die Kerk as teenoorgesteldes. Maar ons word ook deur Jesus geleer dat ons die sout van die wêreld is. En in Johannes 17:15 en 18 lees ons dat Jesus ons juis nie uit die wêreld neem nie, maar daarin uitstuur. In die Bybel is die wêreld dus ‘n plek, maar ook ‘n gesindheid. Ons, as gelowiges, word afgesonder deur God om in die wêreld, die plek, te lewe, maar tot eer van Hom. Met ander woorde met die gesindheid van die Koninkryk van God.

Wat beteken dit om wêreldgesind te wees?

Ons laaste vraag is wat dit beteken om wêreldgesind te wees. Om wêreldsgesind te wees, beteken jy leef teen God se wet. Jy het ‘n wêreldse manier van doen en denke opgedoen. Jy leef in so ‘n wyse dat jy nie meer God voor oë het nie. In 1 Johannes 2:16 sê Johannes dit mooi: “Want alles wat in die wêreld is- die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” Dit beteken dat die mens deur die wêreld verlei word om sulke dinge te doen. Ons bly tans in ‘n wêreld wat mens maklik manipuleer om wêrelds te dink en te doen. En dikwels vind dit ‘n plek in ons harte.

Hoe ontsnap ons hierdie lewenstyl?

Die Bybel leer ons hoe om daarvan te ontsnap.
Eerstens moet ons ‘n nuwe manier van denke opbou. Paulus skryf in Romeine 12:2 “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Dit kan ‘n toets in ons lewens wees. As ons denke nie verander nie, is dit moontlik dat ons te veel aards is. Daarom kan ons by die basiese en mees fundamentele punt begin: ‘deur julle denke te verander.’ ‘n Paar basiese stappe om in jou lewe by te voeg om van hierdie sondige natuur te ontsnap: eerstens moet ons uit Sy Woord lees, daaroor dink en met ander daaroor praat. Tweedens kan ons na Sy prediking luister en laastens mag ons met Hom praat deur middel van gebed en psalms sing tot eer van Sy Naam! Met dit alles mag ons ‘n vaste vertroue op God, ons Vader hê! Hy sal vir ons die krag gee om dit ook tot eer van Sy Naam te doen.

Volgende is om God se wil na te volg. Dit kan nog ‘n toets wees vir die mens wat struikel. Johannes skryf hieroor in 1 Johannes 2. Let veral op vers 17: “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid,” en dan sê hy, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Johannes gebruik hierdie twee gedeeltes om die kontras te skep tussen die wat vir die wêreld en al sy dinge lief het met die wat dit nie lief het nie. Die wat dit nie lief het nie, is die wat God se wil doen. Wanneer ons God se wil getrou doen en op Hom vertrou, sal ons gou agter kom dat die wêreld geen mag oor ons het nie!

Verder moet ons die sout van die wêreld wees. In Matteus 5:13-14 gebruik die Here twee metafore om die Christen se lewe hier op aarde te illustreer. Jesus sê in vers 13 “Julle is die sout vir die aarde.” Sout het drie belangrike funksies. Eerstens gee dit kos smaak, maak dit lekker en bring dit al die geure uit. Hierdeur leer God ons dat die wêreld smaakloos is. Die wêreld leef in so ‘n wyse, dat hulle nie eer aan God gee nie. Hulle lewe is alles behalwe smaakvol vir God. Tweedens bewaar die sout vleis produkte. Alhoewel dit nie meer so algemeen is in hierdie tydperk nie, het dit baie voorgekom in die Bybel se tydperk. Hulle het vars vleis in sout bewaar, sodat hulle dit later kan eet. Wat Jesus hiermee bedoel, is dat die wêreld besig is om te vergaan as daar nie sout is nie. Derdens ontsmet sout! Net die evangelie kan ons skoon maak voor God. En juis dit is wat die wêreld nodig het om die sonde raak te sien en na God te draai.

Laastens moet ons die lig van hierdie wêreld wees! Ons lees in vers 16 : “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” Hy sê nie net hoe ons in hierdie lewe moet leef nie, maar vertel ons ook hoe hierdie wêreld is. Donker! Aangesien die Heilige Gees in ons woon, sal daar twee dinge gebeur as ons lig in die donker skyn. Eerstens sal ons lig die duisternis verklap. Dit wys dat die wêreld in duisternis lewe en in sirkels ronddwaal. En tweedens, wys dit ‘n pad uit die duisternis uit. God se woord is ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad (Ps 119:105). In Johannes 8:12 lees ons “Ek is die lig van die wêreld, wie My met volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Bronnelys

  1. Overduin, J. (n.d) How to Flee Worldliness. Christian Study Library. https://www.christianstudylibrary.org/article/how-flee-worldliness [2020, April 13]
  2. Barrett, M.P.V (n.d) How We Live as Salt and Light in the World. Christian Study Library. https://www.christianstudylibrary.org/article/how-we-live-salt-and-light-world [2020, April 14]
  3. Van der Wal, G.W. (n.d) Don’t Waste Your Life (Part 5): Salt and Light. Christian Study Library. https://www.christianstudylibrary.org/article/don%E2%80%99t-waste-your-life-part-5-salt-and-light [2020, April 15]
  4. Die Bybel en die Heidelbergse Kategismus.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp