Hoe gereeld dink ons aan die ewige lewe?

Dis Maandag oggend vroeg. Jy het dalk bietjie verslaap en tot dusver was dit ‘n gejaagde oggend. Jy sit jou kar se radio aan en op die radio word gesê: “Christus kan hierdie week terugkom, bekeer jouself!”. Die boodskap op die radio is baie onverwags. Jy word bietjie omkant gevang, nie waar nie?

Hoe gereeld dink ons aan die ewige lewe?
Photo by Arto Marttinen / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata

Dis Maandag oggend vroeg. Jy het dalk bietjie verslaap en tot dusver was dit ‘n gejaagde oggend. Dalk het jy vinnig ‘n bekende Psalm uit die Bybel gelees sonder om goed aandag daaraan te spandeer. Jy sit jou kar se radio aan en op die radio word gesê: “Christus kan hierdie week terugkom, bekeer jouself!”. Die boodskap op die radio is baie onverwags. Jy het miskien as student jou week vooruit beplan. Donderdagaand skryf jy ‘n toets en jy het ‘n leerplan uitgesit om voorbereid te wees vir die toets, maar nou word jy eweskielik herinner daaraan dat Christus hierdie week kan terugkom. Jy word bietjie omkant gevang, nie waar nie? Hoe reageer jy daarop? Moet jy dit dalk op jou kalender sit, dat jy daagliks herinner kan word aan die moontlikheid? Voel jy skielik skuldig dat jy nie genoeg aandag spandeer het toe jy vanoggend uit die Bybel gelees het nie?

Die mens leef en dink op daaglikse basis

Om te verstaan hoekom ons so omkant gevang word, moet ons eers kyk hoe die mens dink en leef, spesifiek ook onder die jongmense. Om “in die oomblik” te leef, is wanneer ons die verlede en toekoms uit die prentjie haal sodat ons die oomblik kan inneem en dit maksimaal geniet. Ons kan soms nie anders as om net op een ding te fokus nie. Dink maar: wanneer jy laat aande moet leer, dan kan jy nie dink hoe lekker ‘n nagrus kan wees nie - dit sal jou aandag heeltemal aflei van die leerwerk! ‘n Besige lewe vir ‘n Christen is dus niks anders as vir ‘n ongelowige nie - die mens leef en dink daagliks. Ons bid in die Onse Vader “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheus 6:11, AFR53). Daardeur vra ons dat die Here ons sal voorsien met als wat nodig is vir liggaam en siel vir die dag. Meer spesifiek nog sê die Prediker selfs in Prediker 3:1 dat alles sy bepaalde uur het!

Christus kan in jou leeftyd terugkom!

Wanneer ons hoor van die Wederkoms, word dit dikwels as ‘n langtermyn saak vir die Christen gesien. Die engele het vir die dissipels meer as 2000 jaar gelede gesê: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” (Handelinge 1:11, AFR53). Christus kom spoedig soos ons in Openbaring 22:20 lees! Maar is dit nie nou al lankal nie meer “spoedig” in menslike terme nie? Is dit dan ooit iets waaraan ons daagliks moet dink?

Dit veroorsaak dalk dat so ‘n boodskap op die radio oor jou kop vlieg. Jy dink vir ‘n rukkie daaraan, maar dan leef jy weer verder. Mense word gebore, mense sterwe weer. Lion King, ‘n bekende tekenprent, se “circle of life”-filosofie vind dan dalk blyplek in ‘n Christen se gedagtegang: die lewe gaan sy gang en ons uiteinde is die dood. Wanneer ons begin werk, dra ons meestal maandeliks by tot ‘n pensioenfonds om vir onsself eendag ‘n goeie aftrede te waarborg. Na ons aftrede glo ons dat, wanneer ons te sterwe kom, ons hemel toe sal gaan. Die laaste dae van jou lewe kyk jy terug op ‘n dankbare lewe, maar iets meer nog, jy sien uit om hemel toe te gaan! Kort voor afsterwe sien sommiges selfs die hemele geopend staan vir hulle! (Handelinge 7:56)

Maar wat is die gevaar hiervan? Die gevaar lê in die “circle of life”-filosofie: ek en jy is ook op pad na die dood toe. Jy werk nou hard om iets vir jou nageslag agter te los, maar in jou agterkop sit dit dat jy eendag nie meer hier gaan wees nie. Die idee dryf jongmense daartoe dat jy eers later in jou lewe ‘n meer geestelike lewe kan lei. “Ek wil nou lekker leef, maar ek glo ek sal later in my lewe meer ernstig raak oor my geloof”, is iets wat jy nie vir die ouderling durf te sê nie, maar getuig jou lewe soms daarvan?

Vir ‘n Christen is dit ‘n goeie maatstaf om te dink “Wat as Christus langs jou gestaan het?”. Dit help hulle dan om te besluit of die situasie waarin hulle nou is, geskik is vir ‘n Christen of nie. Met die mentaliteit van “ek sal later in my lewe ‘n geestelike lewe lei”, wag daar slegte nuus vir jou, want die oomblik wat Christus langs jou staan, is dit klaar te laat. Christus kom net een keer terug, en dis wanneer Hy sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Vir die gelowiges sal dit ‘n dag van vreugde wees (Openbaring 21:1-7), maar vir die ongelowiges sal dit ‘n angsaanjaende dag wees (Openbaring 21:8). Meer nog, om jonk en sterk te wees laat ons as jeug soms onsterflik voel, ons dink nie vinnig aan die dood nie. Tog, die mens se lewe is kort van duur en die mens se vlees soos gras wat verdor (1 Petrus 1:24-25). Jou lewe kan enige oomblik geneem word, of jy ‘n geestelike lewe gelei het of nie.

📈 ‘n Klein bietjie statistiek vir nadenke
Sou Christus in jou lewe terugkom, dan was die kans ±3% dat Hy in jou leeftyd sou terugkom (die jaar 2024 gedeel deur ‘n gemiddelde leeftyd van 65 jaar gebaseer op ‘n gelyke kansverspreiding). Dis eintlik ‘n groot kans, om te dink dat die kans ‘n geskatte 1% is, dat jy in ‘n motorongeluk tot sterwe kom. Dit wil sê dat, as Christus in jou leeftyd sou terugkom, die kans 3 keer groter is dat Christus sou terugkom as dat jy in ‘n motorongeluk tot sterwe sou kom.

Die ewige lewe is genade en nie ‘n beloning nie

Die paradys was God se volmaakte skepping (Genesis 1:31). God het die mens geskape om te heers oor die skepping, maar ook: om Hom te loof! Adam en Eva was, belangrik genoeg, sonder verdienste, in die paradys geplaas. Hulle was deel van God se skepping (Genesis 1:26-29).

Dieselfde geld vir ons vandag. Net soos Adam en Eva sonder verdienste in die paradys mog leef, is die verheerlikte Jerusalem nie iets wat ons verdien nie. God het van die sondeval af alreeds met die plan gewerk om nie net die mens te verlos van die sonde nie (Genesis 3:15), maar ook om die skepping te herstel! Ons getuig daarvan dat Christus vir ons aan die kruis gesterf het uit God se genade om sy kinders van die sondes te verlos (Johannes 3:16).

Deur sy dood mag ons die sonde aflê. Deur sy opstanding uit die dood mag ons ‘n nuwe lewe in Christus verkry. Deur sy hemelvaart mag ons afwagtend wag vir die dag wat Hy terugkom!

Die dag wanneer Christus terugkom op die wolke is die begin van God se verheerlikte paradys. Elke gelowige op aarde, van Adam af, sal gered word, verenig as die liggaam van Christus in die teenwoordigheid van God se heerlikheid! So vind ons ook ons troos in lewe en sterwe, wetende dat wanneer ons of ons geliefdes in die Here sterf, hulle ‘n rusplek mag vind onder die vleuels van God!

Bly toekomsgerig deur ‘n Geesvervulde lewe te lei

Ons verwag al Christus se wederkoms vanaf die oomblik toe Hy opgevaar het na die Hemel. Die dissipels het direk na Christus se hemelvaart eendragtig volhard in gebed (Handelinge 1:12-14) met die oog op Christus se wederkoms. Dus, ‘n gebeurtenis wat ons saam met die Heiliges al amper 2000 jaar lank verwag, is nie aan ‘n tyd gekoppel nie. Ons kan onmoontlik tyd, statistiek, en getalle probeer koppel aan Christus se wederkoms. Maar God het ons ‘n ander Horlosie, die Heilige Gees, gegee om ons daaraan te herinner dat Hy terugkom (Heidelbergse Kategismus V&A 1). Die Heilige Gees woon in ons en lei ons lewe na ‘n toekomsgerigte lewe in Christus, of Hy in jou leeftyd terugkom of nie!

Ons as Christene mag, deur die krag van die Heilige Gees, daagliks vrugte van die Gees dra en ‘n persoonlike verhouding met God bou, ook met die uitkyk op die ewige lewe! Ons toekomsvisie lê in ons Verlosser, nie in ‘n “circle of life”-filosofie nie. Wanneer ons bid “laat u koninkryk kom” (Onse Vader) en wanneer ons sing “ek glo aan … ‘n ewige lewe” (Apostoliese Geloofsbelydenis), mag ons doelbewus dink aan die ewige lewe, en daarna uitsien! Die ewige lewe is ‘n voltooiing van God se genade om ons as sondaars terug na die paradys te bring, en die keer selfs ‘n verheerlike paradys naamlik die nuwe Jerusalem!

Ek kom gou! Hou dan bestendig wat my mond aan jou beloof. Wees net waaksaam, en laat niemand jou die eerkroon ooit ontroof. Wie oorwin, hom sal'k bevestig: as 'n suil sal hy verrys, om daar nooit weer uit te gaan nie, in my God se pragpaleis. (Skryfberyming 43:5)

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp