Desember, die komma in ons gejaagde jaar

Desember, die tyd van die jaar wanneer ons uiteindelik kans kry om rustig te word. Ons oorlaaide breine kan afskakel, en kry weer kans om na te dink. “If the devil cannot make us bad, he will make us busy” ~ Corrie ten Boom. Die lewe is dikwels so gejaagd.

Desember, die komma in ons gejaagde jaar
Photo by Elisha Terada / Unsplash

Geskryf deur Lydia Boon, VGK Maranata

Desember, die tyd van die jaar wanneer ons uiteindelik kans kry om rustig te word. Ons oorlaaide breine kan afskakel, en kry weer kans om na te dink.

“If the devil cannot make us bad, he will make us busy” (Corrie ten Boom)

Die lewe is dikwels so gejaagd. Elke minuut word gevul met konstante stimulasie.

Nog vas aan die slaap na gisternag se “binge watching” raas jou wekker jou wakker. Moedeloos moeg pak jy die nuwe dag aan. Vinnig trek jy klere aan en eet ontbyt met die radio se nuusberig wat in die agtergrond klink. Jy ry na die werk of universiteit terwyl jy musiek luister. Jy vind ‘n parkering en hardloop na die kantoor of klas. Die volgende ure is gevul met werk, mense en stres. Kom jy tuis, ontspan jy gou op die bank en blaai deur sosiale media. Ongelukkig is daar nóg werk om af te handel. Bekommerd oor of jy alles klaar kan kry spring jy aan die werk. Uiteindelik klaar en uitgeput, kyk jy YouTube films tot die slaap jou oorval.

So is ‘n dag verby sonder dat jy ‘n oomblik kon sit en nadink. Ja, jy lees dalk jou Bybelgedeelte en bid – maar ons gedagtes is selfs dan eintlik nog op ‘n ander plek. Ons lewe in ‘n spiraal van skyn besig wees. Want elke stilte is ‘n ongemaklike stilte, en om besig te wees is iets om op trots te wees. Dag in dag uit, week in week uit, maand in en maand uit, tot jy by Desember kom en verbaas staan dat die jaar al klaar verby is! Ek moet net skool klaar maak maal deur ons kop, of: laat ek net deur die studies kom, of ‘n goeie werk kry, en voor jy dit besef is jou hare grys.

Gebruik die kans wat Desember bied en raak weer stil. Neem tyd om jou koppie koffie rustig te geniet, sonder enige selfoon in die nabye omtrek. Wees in die natuur, wees alleen, kom tot rus.

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Mattheus 11:28)

Herfokus: Tyd is deur die HERE gegee, elke sekond daarvan is genadetyd. Die feit dat elkeen van ons nog lewe is ‘n wonderwerk. Elkeen van ons is nie meer as ‘n millimeter van die dood af weg nie, indien dit nie was vir God se troue sorg nie. Tyd is nie aan ons gewaarborg nie, volgende jaar is nie vir jou gewaarborg nie. Al jou planne het DV (as die Here wil en ons lewe, Jakobus 4:15) as voorwaarde by. Dink na, besef dat jy klein en nietig is. Die feit dat jy nog lewe beteken dat die HERE nog ‘n doel vir jou hier op aarde het. Ons is hier op aarde om die HERE te loof en te prys. Om te lewe tot eer van die Here in alles wat ons doen. Doen dit, dan hoef jy nie bekommerd te wees oor die res nie.

“Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Mattheus 11: 29,30)

Dus: groet die nuwe jaar toe. Lewe doelbewus. Dink net hoe baie jy sal kan groei indien jy die nuwe jaar se tyd laat tel. Indien jy daagliks ‘n halfuur Bybel lees en stil raak (i.p.v. deur sosiale media blaai tot jou oë toeval), het jy in ‘n jaar 10950 minute spandeer om nader aan Hom te groei. Om hierdie meer visueel voor te stel: dink net hoe groot iemand se arms sou wees indien hul daagliks vir ‘n halfuur push-ups doen. Dieselfde groei, en nog so veel meer kan in jou hart plaasvind. Dink net hoe ‘n helder lig ons op aarde sal wees indien elkeen van ons sy tyd nuttig tot eer van die HERE en uitbouing van Sy koninkryk!

Elke jaar is ‘n jaar minder van ons lewe.
Elke week is ‘n week nader aan die wederkoms.
Elke dag uit God se hand is genadetyd.
Koop die tyd uit. Lewe doelbewus.

En dan nog iets prakties om uit te probeer:

Ons het die gewoonte begin om op ouejaarsaand êrens rustig te raak en na te dink.

Kyk terug na die afgelope jaar: skryf twee moeilike gebeurtenisse van die afgelope jaar neer, asook twee seëninge.

Kyk voorentoe na die nuwe jaar: skryf twee uitdagings waarna jy opsien vir die jaar wat kom, en ook twee gebeurtenisse waarna jy uitsien vir die nuwe jaar.

Bid oor die lysie, dank die HERE vir die seëninge, vra Hom vir Sy leiding in die nuwe jaar. Sodat jy die nuwe jaar – met sy moeilike uitdagins en opwindende vooruitsigte saam met die Here kan nader groet. Gefokus op dit wat belangrik is. En wanneer jy volgende ouejaarsaand weer na hierdie lysie kyk, sal dit ‘n getuie wees van God se werk.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp