Hoe dien ek God met my geld?
Ek stap laatmiddag by my kantoor op kampus uit en sien hoe rye en rye Moslems op die universiteit se gras kniel om te bid, voor hulle die dag se vas met ‘n gesamentlike ete gaan beëindig. Dit is Ramadan, die negende en heiligste maand van ‘n Moslem se jaar...
Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria
Ek stap laatmiddag by my kantoor op kampus uit en sien hoe rye en rye Moslems op die universiteit se gras kniel om te bid, voor hulle die dag se vas met ‘n gesamentlike ete gaan beëindig. Dit is Ramadan, die negende en heiligste maand van ‘n Moslem se jaar. Vas en die viering van Ramadan is een van die vyf pilare van die Islam geloof. Waarom is vas so belangrik? Daar is verskeie redes, byvoorbeeld dat dit jou nader aan Allah bring en jou help om te breek met aardse begeertes. Daar is egter nog ‘n interessante rede: om te vas maak jou bewus van die omstandighede waarin soveel armes moet oorleef. Miljoene mense het nie daagliks genoeg kos om te eet nie. Wanneer jy vas en met jou eie liggaam voel hoe dit is om honger te ly, sal jy meer gewillig wees om te gee vir die mense wat daagliks nie genoeg het nie. Zakat (die gee van gawes) is immers ook een van die vyf pilare van hulle geloof. Volgens ‘n artikel oor Ramadan op die webtuiste van Islamic Relief South Africa (2024) word jou beloning vir enige goeie werk wat jy in die Ramadanmaand doen, sewentig keer vermenigvuldig. Enige regverdige of goeie daad wat jy gedurende Laylatul Qadr doen, word selfs gesien as gelykstaande aan daardie daad daagliks vir 83 jaar doen.
In dieselfde week het ons ‘n gemeentevergadering. Ons bespreek verskeie kwessies, insluitend die tekort op die begroting. Daar word sterk aangedring op ‘n verhoging in VVB (vaste vrywillige bydrae). Dit laat my wonder: hoe groot is die kontras tussen ons en gelowe soos Islam? Raak finansiële gawes in ons gedagtes dalk maar net een van die boksies wat ons moet afmerk om hemel toe te gaan? Hoe gee ons van ons geld vir God? Is die kollektes maar net lidmaadskapsfooie? Of kan ons dalk selfs ‘n beskamende voorbeeld aan Moslems neem wat bereid is om in oorvloed te gee? Dalk gee hulle vir die verkeerde redes, maar het ons afgeleer om regtig te gee?
Sodra jy in die Bybel begin rondspeur na wat God oor geld sê, kom jy agter dat daar nogal baie oor geld, gierigheid, armoede en besittings genoem word. Daar is voorbeelde van beide uiterstes. In hierdie artikel wil ek spesifiek fokus op wat die Bybel oor finansiële gawes vir die kerk sê.
Tiendes
Ons is almal bekend met die idee van tiendes, maar waar kom dit nou eintlik vandaan? Levitikus 27: 30-33 is een van die eerste duidelike opdragte aan die volk Israel om tiendes te gee. Hulle moes 10% van hulle totale graan- en vrugteoes aan die Here gee. Hulle moes ook al hulle vee by hulle laat verby loop en elke tiende dier wat verby kom moes uitgekeer word vir die Here. Ek dink dit is die tradisionele tiende waarmee die meeste van ons goed bekend is. In Numeri 18:23-32 lees ons wat met hierdie tiendes gebeur het. God het naamlik die Leviete aangestel vir die tabernakeldiens. Die tiendes wat die volk gebring het moes in hulle lewensonderhoud voorsien. Hulle moes dan weer op hulle beurt ‘n tiende van die tiendes aan die priesters as offergawe afstaan.
Deuteronomium 14:22-29 gee ‘n interessante perspektief op die tiendes. In hierdie paragraaf gee die Here sy volk die opdrag om ‘n tiende van hulle opbrengs na die tabernakel te bring. Hulle moes dan almal saam ‘n groot fees hou en vrolik wees oor die seëning wat God hulle gegee het. Elke derde jaar moes hulle ‘n tiende by die poort neersit vir die wees, weduwees en Leviete. Dit is nie duidelik of hierdie ‘n ekstra gawe was of deel uitgemaak het van die tiendes wat in Numeri en Levitikus bespreek word nie. Sommige skrifkenners meen dat die Israeliete 10% vaste bydrae tot voorsiening van die Leviete moes maak, nog 10% moes uitsit vir die fees en elke 3 jaar ‘n addisionele 10% vir die armes moes gee. Die totaal sal dan 23% per jaar wees. Bo-op hierdie wette oor die tiendes kom daar natuurlik nog baie wette oor offers en al die eerstelinge wat ook aan God behoort het.
My doel is nie om te probeer uitwerk dat ons eintlik 23% van ons inkomste aan die Here moet afstaan nie, maar eerder dat 10% nie ‘n limiet is nie. Ons is geneig om die minimum te wil gee en voel baie keer dat 10% al veel gevra is. Dink net wat ons alles daarmee kon doen! God is egter die Gewer van jou totale salaris. ‘n Goeie vraag wat ons onsself dalk eerlik moet afvra is eerder: “Hoeveel mag ons hou?” in plaas van “Hoeveel moet ek gee?” Ons behoort nie te probeer wegkom met ‘n presiese 10% nie, want dan is Jesus se boodskap vir ons: “Wee julle, Skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” (Mat. 23:23)
Diakonale hulp
Dit was vir my interessant om te sien dat die doel van tiendes in die Ou Testament nie hoofsaaklik was om vir die armes te sorg nie. In die Ou Testament word daar op ‘n ander manier vir armes gesorg; dit word in Deuteronomium 15:7-11 beskryf. Die volk kry die opdrag om gewillig en ruimhartig aan die arme te leen, soveel as wat hulle nodig het. As die arme nie voor die sewende jaar, die Sabbatsjaar, al die skuld kon afbetaal nie, moes hulle dit vryskeld.
In die Nuwe Testament kry ons ‘n hele nuwe perspektief op ruimhartige sorg in die gemeente. In Handelinge 2:44-45 staan daar: “En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.”
Die eerste gemeente in Jerusalem is ‘n pragtige voorbeeld vir ons. Wanneer ons werklik besef hoe groot God se liefde vir ons is, sal ons bereid wees om ander in liefde en met blydskap te help. As ons besef hoeveel Hy vir ons opgeoffer het toe Hy die hemelse heerlikheid vir ‘n kruis verruil het, sal ons ook bereid wees om meer op te offer vir die eer van sy Naam.
Vrywillig
2 Korinthiërs 9 is ‘n baie belangrike hoofstuk wat handel oor die gee van gawes. Paulus roep die gemeente in Korinthe op om geld in te samel om die gelowiges in Jerusalem te help. Daar is twee sake in sy oproep wat vir my baie uitgestaan het.
Die eerste is die sterk klaarblyklike oorsaak en gevolg van sy oproep: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” (vers 6). Dit klink waarskynlik vir die meeste van ons na ernstige voorspoedsteologie. Die konteks is egter baie belangrik en ons kry heelwat meer insig uit vers 10: “En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem”. God gee ons die saad (finansiële middele) en ons mag vrygewig daarvan uitdeel in die vertroue dat Hy in ons lewensonderhoud sal voorsien. Terloops, vers 10 maak dit ook duidelik dat ons nie in die eerste plek finansiële rykdom gaan maai as ons vrygewig is nie, maar iets veel beters: die vrug van geregtigheid.
Die tweede gedagte, en hiermee wil ek afsluit, is dat Paulus baie klem daarop plaas dat hierdie kollekte ‘n dankoffer moet wees. Alhoewel hy hulle baie dringend aanmoedig, moet niemand uit dwang gee nie. Die baie indringende boodskap is:“Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.” (vers 7). Op die ou end moet elkeen van ons eerstens ons harte ondersoek. Waaroor gaan die lewe vir jou? Aan wie behoort jou geld? Aan wie behoort jou tyd? Ek glo as ons werklik besef wie ons is, wie God is en hoeveel Hy vir ons gee, kan ons nie anders as om uit dankbaarheid, vrywillig en met ons hart te wil help waar ons kan nie.
Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp