Hoe bestuur ek my tyd?

Hoe bestuur ek my tyd?
Photo by Kevin Ku / Unsplash

Geskryf deur Imáney Janse van Rensburg en Wicus van der Linden, VGK Bellville

Soos ek hierdie sit en skryf, is dit 20:04, die aand voor die inhandiginsdatum. Ironies, né? Ek het toe gou Wicus se hulp ingeroep om hierdie artikel vinnig en deeglik te doen.

As ons bereid is om tyd te maak om ʼn film te gaan kyk, waarvoor anders sal ons bereid wees om tyd te maak? As ons lewens so gevul word met ander dinge, hoe lyk ons gebedslewe? Tussen al die hokkieproewe, kooroefeninge, RTT-take, eet en ʼn gesonde 8 ure slaap, is ons doelbewus besig om ook tyd uiteen te sit om ons geloof te versterk? Hiermee praat ek nie net van Sondag kerk toe gaan of Woensdagmiddag se Bybelstudie of selfs Vrydagoggende se gebedskring nie. Ek praat van tyd alleen. Net jy en jou gebede, in die teenwoordigheid van God. Stiltetyd.

As ek nou doodeerlik moet wees, bestaan my gebedslewe die afgelope tyd uit skietgebedjies. Gou-gou vinnig voor ons ry of voor ek eet, of wanneer my rekenaar ʼn blou skerm gooi en ek nie seker is of my dokument gesave is nie. Maar God wil nie net van jou hoor wanneer jy in ʼn penarie is nie. Hy wil hê ons moet alles wat ons doen, tot sy eer doen (1 Kor 10:31). Dit beteken dat wanneer jy ʼn drie druk in rugby, jou Afrikaanse mondeling opsê of jou BigMac eet, jy vir God eerste sit.

Hoe pas ʼn mens dit alles in, veral in ʼn samelewing wat rondom jou jaag? Dit is nie ʼn probleem wat ons net in die kerk ervaar nie – ʼn vinnige Google Search sal vir jou ʼn dosyn artikels en blogposts gee oor hoe om jou tyd te bestuur, hoe om die meeste van elke dag te maak, en nog meer. Daar steek ʼn greintjie waarheid daar agter: ʼn mens kan nuttige metodes oor beplanning, roetine en balans leer. Tog is dit nie net ʼn moderne probleem nie – jy kan net soveel wyse woorde en raad in Bybelverse vind oor die belangrikheid van tydsbestuur. Ons kyk dus na metodes en tegnieke vir tydsbeplanning met ʼn Bybelse perspektief.

Die beginpunt van die meeste raad is ʼn magdom kalenders, alarms en reminders, gepaard met to-do lyste en skedules. Daar is waarde in beplanning - om jou planne neer te lê op papier kan die afskoppunt wees om daardie planne te realiseer. Spreuke 16:3 vat dit ʼn stappie verder: lê jou planne nie net op papier neer nie, maar by God se voete. “Vertrou wat jy doen aan die HERE toe, dan sal jou planne standhou.” (AFR 2020)

Tydsbeplanning is egter nie ʼn eenvoudige formule om te volg nie. Elke persoon se skedules en roetines sal verskil. Dit kan tyd en beproewing vat om jou eie balans te vind. Dit kan ʼn mens hulpeloos of magteloos laat voel. Selfs hier kan ons troos by God vind, want soos Prediker 3 ons leer, is daar ʼn tyd vir elke saak. Efesiërs 5 stel dit mooi: “Koop die tyd uit” (v16a), maar tog “probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is” (v17b).

Die tweede groot punt is om jou prioriteite te stel. Sekulêre raadsartikels het heelwat om te sê hieroor: fokus op die take wat die belangrikste is en as jy vassit, kry eers die klein vinnige take uit die pad uit en maak tyd vir jouself en jou gemoed. Die Bybel leer ons egter ʼn belangriker punt: “Bedink die dinge daarbo” (Kol 3:2) en “soek eers die Koninkryk van God” (Matt 6:33). As jou prioriteite by Hom begin, sal al die ander dinge vir jou bygevoeg word.

Ja, makliker gesê as gedaan. Dit sal steeds harde werk verg. Paulus beaam dat ons alles wat ons doen, geesdriftig en toegewyd moet doen (Rom 12:11, Kol 3:23). Ons kan net volhou in harde werk met die wete dat daar voordeel in alle harde werk is (Spr 14:23). Ons staan in diens van die Here Christus en ons sal ʼn erfdeel as beloning van die Here ontvang (Kol 3:24). Selfs op aarde is ons nie alleen hierin nie. Christus het ons tog sy kerk gegee, ʼn gemeente om ons te ondersteun (soos Wicus wat my, sonder om ʼn oog te knip, hiermee gehelp het). Immers, met baie raadgewers hou planne in stand (Spr 15:22), en ʼn driedubbele koord word nie maklik gebreek nie (Pred 4:12).

Steun dus op jou broeders en susters in nood en ondersteun hulle wanneer hulle dit nodig het. Beplan jou dae, stel kalenders en roetines op, maar sê altyd weer: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” (Jak 4:15). Begin elke keer weer met gebed. Soos Paulus in Kolossense 4:2 sê: volhard, wees waaksaam, en wees dankbaar.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp