Hoe benader gelowiges aandeelmarkte en beleggings?

Die aandelemark, effektebeurs, JSE en Forex (of “Foreign Exchange”) is terme waarmee baie van ons bekend is. Aandele verhandeling is immers ‘n hoogs gesogte besigheidsvaardigheid in die korporatiewe wêreld

Hoe benader gelowiges aandeelmarkte en beleggings?
Photo by Jamie Street / Unsplash

Geskryf deur Gerhard Burger, Gereformeerde Kerk Wonderboom

Die aandelemark, effektebeurs, JSE en Forex (of “Foreign Exchange”) is terme waarmee baie van ons bekend is. Aandele verhandeling is immers ‘n hoogs gesogte besigheidsvaardigheid in die korporatiewe wêreld, en die opkoms van kripto-geldeenhede soos Bitcoin en Ethereum het gesorg vir ‘n groot toename in belangstelling in aandelemarkte en aandele verhandeling.

Hoe benader Christene egter die ooglopende “get rich quick”-skemas, en wat is die risiko’s verbonde aan die aandelemarkte?

Wat is aandelemarkte en die JSE?

Met enige beredenering, is dit belangrik om te verstaan waaroor beredeneer word. Daarom die vraag: “Wat is die aandelemark en die JSE?”.

Eenvoudig gestel is die JSE (Johannesburgse effektebeurs) ‘n gereguleerde platform waarop mense finansiële produkte kan verruil. Die finansiële produkte sluit in maatskappye se aandele, Futures kontrakte, Opsie kontrakte asook allerlei (meer ingewikkelde) finansiële instrumente en produkte. Aandele verwys na ‘n persentasie of deel van ‘n maatskappy wat die aandeelhouer besit. Dus, as jy ‘n meerderheid aandeelhouer is, beteken dit dat jy 51 persent of meer van die maatskappy besit.

Deur middel van die JSE kan ‘n handelaar ‘n posisie inneem om geld te maak deur die finansiële produkte te verruil, en die samekoms van al die handelaars oor die wêreld heen vorm die aandelemark. Die aandelemarkte is daar as ‘n hulpmiddel vir besighede en maatskappye om kapitaal in te samel.

Soos genoem, as jy ‘n aandeel koop besit jy ‘n deel van die maatskappy, maar dit beteken ook dat die maatskappy die geld wat jy betaal het tot hul beskikking het. Maatskappye gebruik die fondse van hul aandeelhouers om die organisasie se doele te bereik en dit sluit in navorsing, uitbreiding en ontwikkeling van nuwe produkte en dienste. Hoe meer suksesvol die maatskappy is hoe meer gesog raak hul aandele en hoe meer geld kan mense vra daarvoor. ‘n Koper sal byvoorbeeld ‘n aandeel vir R20 koop en dit teen ‘n latere tyd verkoop vir R25 en R5 se wins maak.

Daar is egter geweldige risiko’s betrokke by hierdie transaksies. Die mark kan teen jou draai en die aandeel wat jy vir R20 gekoop het, kan sy waarde verloor en kan jy potensiële verlies ly. In realiteit is dit selde dat bedrae so klein is soos die bogenoemde voorbeeld en meeste transaksies word gesluit met miljoene of selfs miljarde rande se verliese of winste.

Die aandelemark, in kort, bied dus onbeperkte winste in ruil vir die risiko van onbeperkte verliese.

Die Christelike benadering

Dit is egter hier waar ons as Christene moet anker slaan en eers die kat uit die boom kyk, want dobbelhuise bied dieselfde “great risk, great reward”-ingesteldheid. Al hierdie vinnige winsskemas is egter nie ‘n nuwe konsep nie en is so oud soos die Bybel self. Dink byvoorbeeld aan Spreuke 13:11 wat waarsku: “Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer”.

Hoe nou gemaak? Kan Christene dan deelneem aan die aandelemark?

Die aandelemark kan onderskei word van dobbel deur 2 aspekte in gedagte te hou:

Eerstens dat dit gegrond is op aandele in maatskappye of kommoditeite wat werklik bestaan en dat die waarde van die aandele afhang, tot ‘n groot mate, van die maatskappy se verrigtinge deur die finansiële jaar. Dit is dus ‘n werklike produk wat gekoop word en nie geld wat blootgestel word aan kans en toeval alleen nie.

Tweedens is die waarde van aandele en die neigings van die aandelemarkte voorspelbaar met behulp van statistiek en dus nie net blote geluk nie. Daar is rede gekoppel aan die bewegings in die mark.

Ons as Christene moet egter ook verstaan hoekom ons die aandelemark gebruik. ‘n Christen handelaar se benadering lyk anders as die van ‘n wêreldse handelaar.

Die Bybel leer ons in Hebreërs 13:5 dat ons nie gierig moet wees nie, maar op God moet vertrou vir wat ons nodig het. Dit beteken nie dat ons net moet laat gaan en ophou werk nie, maar dat ons steeds moet voorberei vir die toekoms en als wat op ons wag. Die aandelemark kan ‘n geoefende oog help om dit reg te kry. Talle besigheidsmanne en veral boere gebruik die instrumente wat die aandelemark bied om pryse vooraf vas te maak en hulself te beskerm teen die seisoenale verskille in markpryse.

Ons glo egter ook dat ons volle vertroue op God is en ons nie onsself willens en wetens in gevaar moet stel nie. Maar in dieselfde asem beteken dit nie dat ons glad nie risiko’s mag neem nie. Ons vertrou en hoop dat die Here ons veilig sal hou gedurende ‘n lang reis, maar die risiko is steeds daar dat ons kan verongeluk en dus sit ons, ons sitplekgordels aan. Dieselfde beginsel geld vir aandelemarkte. ‘n Christen handelaar is dus een wat die risiko verstaan en verminder so vêr hy kan, en deur ‘n goeie verstaan van sy omgewing is daar instrumente tot sy beskikking om die risiko so na aan nul te maak as moontlik.

Een van die grootste gevare van die aandelemark is die emosionele tol wat dit eis. Baie mense swig voor die bevrediging van ‘n vinnige wins en raak roekeloos. Hulle waag meer kanse in toenemende riskante transaksies. ‘n Christen daarteenoor is tevrede met sy wins, al is dit hoe klein, en besef dat selfs dit uit God se hand gegee is.

1 Timotheus 6: 17 waarsku ons teen die einste liefde vir geld en riskante gedrag, en herinner ons dat ons vertroue op Hom moet wees en nie op geluk nie: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet.”

Christene weet wanneer om op te hou, gee hulself nie oor aan die aanloklikheid van geld nie, en raak nie verslaaf aan die opwinding wat die risikogedrag inhou nie.

Die aandelemark is nietemin ‘n gevaarlike en uitdagende ekskursie om aan deel te neem en alhoewel baie mense al baie geld gemaak het daaruit, het baie meer mense al baie meer geld verloor.

Dus as u risiko-sku is, u winsbejag is tot ‘n ongesonde mate, of u nie die aandelemark en statistieke daaragter verstaan nie, vermy liefs eerder die platvorms of gebruik “demo”-rekeninge om eers te oefen. Aandele verhandeling is nie ‘n aktiwiteit wat self aangeleer kan word oor Youtube of vinnige aanlyn-kursusse nie en goeie mentorskap, datahantering, basiese statistiese vaardigheid en sterk selfbeheersing is krities.

Ons as gelowiges en Christene moet wel bly besef dat dit ‘n mensgemaakte sisteem is, en soos enige ander mensgemaakte sisteem is dit nie perfek nie. Daarom plaas ons steeds ons vertroue in God en Sy voorsienigheid en gebruik Sy Woord om ons voor te berei en te begelei in ons verantwoordelike hantering van geld en finansies.

Matteus 6:20: “want waar julle skatte is, daar sal julle hart ook wees.”

Jy kan oor enigiets skryf vir ons! Gebruik gerus die volgende skakel vir meer inligting: Skryf vir ons!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp