Here, red my!

Vir Romeinse voetsoldate was die skild ‘n noodsaaklike item van hul wapenrusting om die vlieënde en vurige pyle te weerstaan. Op dieselfde wyse roep Paulus gelowiges op om die skild van geloof op te neem om die vurige pyle van die Bose te weerstaan. Maar wat is hierdie skild van geloof?

Here, red my!
Photo by Yaren Kılıç / Unsplash
“Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efesiërs 6:16)

Tot ongeveer die middeleeuse tydperk was pyle ‘n effektiewe lang-afstand tegniek om die vyand op ‘n afstand te hou en aan te val. Die Romeinse voetsoldate het eers ronde skilde gebruik en later groot reghoekige skilde van hout of yster gebruik sodat die soldaat sy hele liggaam teen die pyle kon beskerm. Hierdie skilde was oorgetrek met natgemaakte leer om die pyle van vuur uit te blus. Later het die skild onderdeel van ‘n gevegstegniek, die testudo-formasie (wat beteken “skilpad”), geword waar voetsoldate hul skilde bo hul koppe gehou het om ‘n dak van skilde te vorm. Vir voetsoldate was die skild dus ‘n noodsaaklike item van hul wapenrusting om die vlieënde en vurige pyle te weerstaan. Op dieselfde wyse roep Paulus gelowiges op om die skild van geloof op te neem om die vurige pyle van die Bose te weerstaan.

Die pyle van die Bose

In die Wapenrusting-oordenkingreeks het ons sover die nodige items van die wapenrusting aangetrek om staande te kan bly teen die Bose. Wanneer die Bose egter vurige pyle op ons afvuur, sal die items, wat ons sover aangetrek het, nie voldoende wees nie. Wanneer die Bose die daaglikse pyle van swaarkry, siekte, dood, huweliksprobleme, slapeloosheid, samelewingsdruk, versoeking, verleiding, groepsdruk, en egoïsme op ons afvuur, wat kan ons daarteen doen?

Paulus skryf dat ons die skild van geloof op ons moet neem. Hierdie skild, sê Paulus, sal ons kan help om die “vurige pyle van die Bose” uit te blus. Watter skild van geloof word hier van gepraat? As ons eerlik is, sou ons eie geloofskild sonder Christus ‘n skild van papier teen die vurige pyle wees - dun, vlambaar, en swak. Ons sink gereeld in twyfel saam met Petrus wanneer ons na die vurige pyle om ons heen kyk in plaas van om na Christus te kyk (Mattheüs 14:28-31).

Wie is my skild?

Regdeur die Ou Testament word God ‘n skild genoem (vgl. Genesis 15:1, Deuteronomium 33:29, 2 Samuel 22:3, Psalm 5:13, Psalm 115:9-11, en Spreuke 30:5). In Psalm 91 sien ons dat God ons sy beskerming bied deur ‘n skild, ‘n toevlug, en ‘n bergvesting te wees in die dag van onheil. Geloof kan gesien word as die “hand” waarmee ons God en al sy beloftes aangryp en daarop vertrou. Deur die geloof mag ons deel hê in God se krag (Efesiërs 1:19). Paulus bid daarom ook dat Christus deur die geloof in ons harte kan woon (Efesiërs 3:17), sodat ons versterk kan word met sy krag. In geloof, kan ons soos Psalm 91:9 sê, die Here ons toevlug en beskutting maak. God bied sy beskerming, sy skild, aan - gryp u dit aan in geloof?

U tog, U is hul roem, hul sieraad en hul prag,
wat hul beklee met sterkte en onverwinb're mag.
Uit vrye guns alleen, uit eewge mededoë,
hef ons die hoof omhoog, weer sterk deur Gods vermoë.
Want God is ons 'n skild, die weerkrag van ons lewe;
en onse Koning is deur Isr'els God gegewe.
(Psalm 89:7 berymd)

God se skild maak ons egter nie blind vir die leuens van die duiwel nie (Psalm 91:8). Hierdie skild van geloof gee ons ‘n breër visie om die sigbare dinge sowel as die hoop op die onsigbare ewige dinge raak te sien (2 Korinthiërs 4:16-18, Hebreërs 11:1). Geloof leer ons dat wat groot is vir die wêreld (bv. rykdom, mag, en status) klein is in vergelyking met God wat in ons woon (1 Johannes 4:4).

In ‘n donker wêreld is dit soms moeilik vir gelowiges om vas te hou aan God se beloftes. Ons wil in beheer wees van ons eie situasies en ons plaas ons geloof in wêreldse dinge wanneer God se beloftes nie sinmaak in ons lewens nie. So vol soos wat die Psalms vol van God as ‘n skild is, is dit ook vol van vrae oor God se afstand (vgl. Psalm 10:1, 42:3, 44:23-25, 69:1-3, 74:10-11). Met die sondeval het ons God verlaat, maar God het ons nooit verlaat nie. Die Satan wil ons sif soos koring, maar Christus bid voortdurend vir ons dat ons geloof nie sal ophou nie (Lukas 22:31-32). Ons veiligheid lê dus nie in die sterkte van ons eie geloof en ons eie vertroue in God se beloftes nie, maar eerder in Christus se getrouheid en die lewendmaking deur sy genadige werk vir ons aan die kruis (Efesiërs 2:4-10). Die geloof wat in ons gewerk word, gee vir ons toegang na Christus se genadewerk (Romeine 5:1-2).

Deur die skild van geloof op ons te neem, bied God ons sy beskerming aan en verlaat ons nie tydens die worstelstryd nie (Psalm 23:4). Terselfdertyd is hierdie worstelstryd op aarde ook nie ons eindbestemming nie, maar ons word ‘n hoopvolle toekoms beloof waar God die goeie werk wat Hy begin het, in ons sal voleindig (Filippense 1:6). Vir ons mag die vurige pyle van die Bose dalk die toekoms duister laat lyk, maar deur geloof mag ons vertrou dat God alles ten goede sal meewerk (Romeine 8:28). Wanneer ons geloof klein raak mag ons saam met Petrus ons hand uitsteek na ons Verlosser en uitroep “Here, red my!” en die Here sal ons krag gee in die dag van stryd (Psalm 139:8). Gryp daarom in geloof die skild van die Allerhoogste aan en vertrou op sy beloftes!

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is. Ons dank U dat ons tot U mag nader in gebed. Vader, uit onsself moet ons erken dat ons nie ‘n enkele oomblik die vurige pyle van die Bose sal kan weerstaan nie, maar U is self ons skild en U het u Seun gestuur om ons lewend te maak deur sy genadige werk aan die kruis. Ons dank U dat ons te midde van ons aardse bekommernisse na U mag gryp om die skild van geloof op te neem. Ons dank U vir hierdie skild wat beskerming en krag bied teen die Bose, dat ons so onder u vaderlike sorg mag skuil. Wil U ook die geloof in ons harte werk sodat ons met ons hele hart op u beloftes mag vertrou. Here, waar sommige van ons dalk sukkel om U beloftes in hul lewens raak te sien, bid ons dat U hulle in die geloof sal versterk en u weldade aan hulle bekend sal maak. Ons bid dit alles in die Naam van Jesus Christus, ons Redder en Verlosser. Amen.

Vir verdere lesing

Bronne

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata