God se liefde: ‘n Onveranderlike waarheid in ‘n veranderende wêreld

Verandering. Mense hou oor die algemeen nie van verandering nie. Ons is gemaklik daarmee as alles net bly soos wat dit is. Maar dis nou maar eenmaal so dat ons in ‘n wêreld leef waar verandering konstant plaasvind. Soos wat ‘n mens ouer word ervaar jy dit eerstehands.

God se liefde: ‘n Onveranderlike waarheid in ‘n veranderende wêreld
Photo by Lilian Dibbern / Unsplash

Geskryf deur Danielle van den Bout, VGK Maranata

Verandering. Mense hou oor die algemeen nie van verandering nie. Ons is gemaklik daarmee as alles net bly soos wat dit is. Maar dis nou maar eenmaal so dat ons in ‘n wêreld leef waar verandering konstant plaasvind. Soos wat ‘n mens ouer word ervaar jy dit eerstehands. Dit is nie altyd lekker vir ons as mense om te sien hoe ons liggame agteruit gaan nie. Die plooie raak meer en jy is nie meer in staat om alles te doen wat jy ‘n paar jaar gelede nog reggekry het nie.

Verhoudings verander ook. Mense raak lief vir mekaar en trou, maar na ‘n rukkie water die liefde maar af en mense groei van mekaar af weg. Vriende of familie trek weg of gaan dood. Jou kinders word groot en trek uit die huis uit. Jou werk, wat jy eers geniet het, is nie meer so opwindend nie en word eerder ‘n las as iets waarna jy uitsien. Verandering kan ons onseker laat voel en ons kan maar net wonder wat die volgende dag, week of jaar vir ons gaan inhou. Ons kan seker wees dat solank as wat die wêreld bestaan, die jare net meer verandering sal bring, want die wêreld waarin ons leef, is ‘n wêreld van sonde, dood en duisternis.

In hierdie chaotiese wêreld waar verandering heeltyd plaasvind, mag ons rus vind in ons God, want Hy is onveranderlik. Jakobus 1:17 stel dit so mooi: “die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

Nou mag jy dalk vra: “Wat behels die onveranderlikheid van God nou eintlik?” Die woord ‘onveranderlik’ is in die verlede uitgelê as iets wat onbeweeglik is. ‘n Mens kan byvoorbeeld dink aan die hemelliggame, maan, sterre en planete as onveranderlik. Of rotse wat onbeweeglik op dieselfde plek bly lê. Hulle lyk en bly altyd dieselfde. Ons moenie aan God dink as ‘n dooie stuk materie wat altyd op dieselfde plek bly nie.

In Exodus 3:14 verduidelik God aan Moses wat sy naam beteken. “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

In hierdie teks word God se onveranderlikheid en daarom ook sy betroubaarheid duidelik uitgelig. Ons kan op God vertrou, want hier sê God duidelik vir die volk (en ook vir ons) dat Hy nie is soos ander wisselvallige gode nie. Hy is ‘n betroubare God op wie ons kan staatmaak. As jy vasgevang is in die storms van die lewe, is Hy daar om jou te ondersteun. As jy Christus as jou fondasie het, sal jy staande bly. Maar wanneer jy jou lewe gaan bou op die veranderlikheid van die wêreld, dan is jy soos die dwase man wat sy huis op die sand bou. Wanneer moeilike tye kom, gaan jou huis baie vining inmekaarstort.

Dis egter nie waar die onveranderlikheid van God ophou nie. God se onveranderlikheid beteken ook dat Hy standvastig is. Hier op aarde is die raad van die mens maar wisselvallig. Wat sestig jaar gelede belangrik was vir mense is nou al vergete en oor ‘n paar jaar gaan mense hulle nie meer bemoei met die dinge wat vandag vir ons belangrik is of waarmee ons onsself besig hou nie. God is nie so nie. “Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.” (Psalm 33:11)

Die Woord van die Here hou vir ewig stand en sal nie vergaan nie.
Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat sê: “Adapt or die.” Dit wys daarop dat enige lewende wese op die aarde geskik moet wees om te leef in ‘n sekere omgewing. Wanneer hierdie omgewing verander, is oorlewing afhanklik van die vermoë om in lyn met hierdie veranderinge aan te pas. So kan ‘n mens redeneer dat jy moet aanpas by die wêreldse beginsels, anders gaan jy dit nie oorleef nie. Maar kan ons as Christene dit ook as ons lewensmotto aanvaar? Het ons geen ander keuse as om maar net met die wêreldse veranderinge meegesleur te word nie? Wel, ons het vir seker ‘n keuse! Selfs in die voortdurend veranderende wêreld mag ons vrede, vreugde en hoop vind wanneer ons steun op God se onveranderlike goedheid en liefde. Hy moet ons skuilplek wees in gevare. Al woed die lewe rondom ons, mag ons weet dat alles in God se hande lê en dat Hy alles ten goede sal laat meewerk.

Romeine 8:28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Dit bring ons uiteindelik by God se liefde in terme van sy onveranderlikheid. Met die skepping van die aarde het God die mens na sy beeld gemaak en dit was goed. Hy het die mens voorsien met alles wat nodig is. Maar ten spyte daarvan val die mens in sonde en rebelleer teen God. Wat doen God toe? Het Hy die mens toe maar net gelos om verder in sonde te leef en die ewige verderf binne te gaan? Nee, God se liefde het nie in die minste verander nie. Ja, Hy haat die sonde, maar Hy het ons steeds lief. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)

Jesus Christus is die sigbare gestalte van God se liefde vir ons sondige mense.
God se liefde vir sy kinders is ewig en onvernietigbaar en niemand sal dit ooit van jou weg kan neem nie. “Wie sal ons kan skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” (Romeine 8:35)

In hierdie sondige wêreld is alles aan die verganklikheid onderworpe en niks het meer ewigheidswaarde nie. God se liefde is egter van ewigheid tot in ewigheid en ons mag troos daarin vind. God se liefde is ook grensloos. Ons kan nie grense of beperkinge op die liefde van God stel nie. Ons kan bewus wees van die rykdom van sy liefde, maar ons sal dit nooit ten volle kan begryp nie. Ons kan God daarvoor dank en in verwondering staan oor Sy oneindige liefde.

God wys vir ons wat ware liefde in ‘n gebroke wêreld is. God is liefde en daarom moet daar ook liefde vanuit ons lewens na buite uitstraal. Ware, egte liefde verdryf alle vrees. As jy daarom só liefhet, sal daar nie plek in jou lewe wees vir vrees nie. Dan hoef ons ook nie bang te wees vir al die veranderinge wat gaan plaasvind nie, maar ons mag dit eenvoudig in die onveranderlike God se hande plaas en weet dat alles in Sy beheer is en dat niks sonder sy wil gebeur nie!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp