Van stof tot heerlikheid!

Die menslike liggaam is onsettend interessant. Ons is uit stof van die aarde gevorm, God het sy lewensasem in ons ingeblaas en ons liggaam het ‘n lewende wese geword (Genesis 2:7).

Van stof tot heerlikheid!
Photo by jesse orrico / Unsplash

Geskryf deur Lydia Boon, VGK Pretoria-Maranata

Die menslike liggaam is onsettend interessant. Ons is uit stof van die aarde gevorm, God het sy lewensasem in ons ingeblaas en ons liggaam het ‘n lewende wese geword (Genesis 2:7). Eendag sal ons weer terugkeer tot stof (Prediker 12:7). Maar tussen die stof tot stof is daar ‘n groot wonderwerk: Die menslike liggaam - ek en jy wat die lewe met ons liggame beleef.

God het die menslike liggaam wonderbaarlik geskape! Geskape in sy beeld, die kroon van Sy skepping. In die vier jaar wat ek al die menslike liggaam bestudeer, bly ek verwonderd staan oor hoe ongelooflik perfek ons liggame geskape is. ‘n Tempel van God. Ek wil graag ‘n paar voorbeelde noem om julle ook verwondered te laat staan oor die kroon van God se skepping.

Dawid skryf in Psalm 139 oor hoe wonderbaar die HERE hom geweef het in sy Moeder se skoot. Ontwikkeling begin as een sel, wat dan verder ontwikkel in meer selle en verskillende soorte selle. Rondom die vierde week na bevrugting is die embrio net ‘n plat skyf, maar begin dan vou. Hierna kan jy direk sien dat dit ‘n babatjie word! Binne 8 weke is al die organe gevorm, selfs al is die fetus net nog die grootte van ‘n framboos. Vir nog 32 weke groei en ontwikkel die babatjie, en is dan reg vir die buitewêreld.

Indien jy al die bloedvate in jou lyf in ‘n lyn sou pak, sou dit so lank wees dat dit meer as 2 keer om die aarde kan gaan. En hierdie is nie net eenvoudige waterpype nie. Bloedvate is verantwoordelik om jou liggaam se temperatuur te beheer. Daar is ook selle aan die wand van jou bloedvate om infeksies te bestry. Daar is komplekse prosesse wat voorkom dat jy aanhou bloei indien jy seerkry.

Deur neurone (senuweeselle) word inligting wat jy waarneem na jou brein gestuur, die inligting geïnterpreteer en dan teruggestuur na jou lyf vir aksie. Ons het ongeveer 85 biljoen neurone in ons brein. Maar, laat ek bietjie beskryf hoe ‘n neuron van binne lyk! ‘n Neuron is ‘n baie komplekse stad. Daar is ‘n stadsaal (nukleus) wat al die  inligting van die stad (genetiese material) bevat en besluite neem wat met die stad (neuron) moet gebeur. Daar is ook ‘n poskantoor (akson), wat inligting in die sel inbring, en daarna ‘n ingewikkelde padnetwerk (dendriete) wat die stad soos ‘n spinnekopweb bedek.  Hierdie paaie gaan weg van die kern na die omliggende neurone. Op hierdie paaie ry boodskappers wat pakkies aflaai na die volgende neuron se poskantoor. So versprei die inligting van die brein na waar die aksie nodig is. Om die paaie is daar hekke (mielienomhulsel) gebou om die paaie te beskerm sodat die inligting vining versprei kan word. In die stad is daar ook ‘n fabriek (endoplasmiese retikulum) wat alles maak wat die sel nodig het. Daar is ook herwinningsmanne (lysosome) wat alle ongewenste stowwe opruim. Die kragstasie (Mitochondria) verskaf krag aan die sel (wat meer effektief is as Eskom). ‘n Stadspatrollie (microglia) patroleer die stad om enige tekens van gevaar, soos infeksies of beskadiging aan te spreek. ‘n Neuron is inderdaad ‘n piepklein effektiewe stad in die kontinent van die senuwees.

Neurologie is ongelooflik. ‘n Brein wat slegs 1,5kg weeg, grys en wit van binne is, bevat soveel inligting: hoe jou Ouma se huis geruik het, die graad 1 ‘Lin se vis’-leesboek en al die ander stapels boeke van jou opleiding se inhoud. Jou brein bevat die instruksies om blitsvinnig te kan tik op jou selfoon, of te hardloop en ‘n bal te skop. Jou taal, jou persoonlikheid, jou seerkry en jou drome is alles opgebondel in jou brein.  Jou brein interpreteer al die inligting wat inkom, maak dit moontlik dat jy gesigte kan herken, sit frekwensies in geluide om – sodat jy die wonder van die skepping rondom ons kan waarneem.

Ek het pas besef hoe ongelooflik die brein is toe ek gesien het hoe iemand sukkel as daar slegs ‘n klein deeltjie van hul brein aangetas is. Skielik is doodnormale bewegings nie meer vanselfsprekend nie. Dit is nie meer moontlik om tande te borsel nie, of om woorde te vorm wat sin maak nie.

Die vernuwingsvermoë van ons liggaam is ongelooflik. Indien jou kar se venster ‘n kraak kry, kan die kar nie self die kraak regmaak nie, selfs al is ‘n kar se venster soveel eenvoudiger as ‘n mens. Indien jy die helfte van jou lewer sou skenk, sal dit weer binne ‘n jaar teruggroei tot die oorspronklike grootte. Jou vel word elke twee weke vervang. Jou liggaam produseer 3,8 miljoen nuwe selle elke sekonde om ou selle te vervang. En elke sel funksioneer soos ‘n stadjie, soos ek vroeër verduidelik het.

Indien jy die menslike liggaam so bestudeer kan jy nie anders as om in bewondering te wees van jou Skepper nie, om sy ewige krag en goddelikheid te besef nie (Romeine 1: 20, 21). Die liggaam is so ingewikkeld, en nie een stukkie van hierdie kompleksiteit kan net weggehaal word nie.

Ongelukkig is nie alles in ons liggame volmaak nie, en werk al die prosesse nie altyd soos wat dit moet nie. Ons sien die invloed van die sonde ook op ons liggame. Ons raak oud, grys, kry rimpels, kroniese siektes, kanker... Dit is belangrik om te onthou dat ons nie so geskape is nie, en eendag sal God ook dit weer heel maak. Eendag sal ons met ‘n verheerlikte liggaam opstaan uit die stof. Verheerlik - hoe ongelooflik sal so ‘n liggaam nie wees nie?!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp