Global Warming - Moet Christene bekommerd wees?

Dit is duidelik dat ons die opdrag gekry het om die aarde te bewerk en te bewaar vanuit Genesis, maar hoe gemaak met aardverwarming of die sogenaamde klimaatsverandering? Is dit ooit waar dat die klimaat besig is om te verander?

Global Warming - Moet Christene bekommerd wees?
Photo by Marek Piwnicki / Unsplash

Geskryf deur Stefan Koning, Calvary Baptist Church

Dit is duidelik dat ons die opdrag gekry het om die aarde te bewerk en te bewaar vanuit Genesis, maar hoe gemaak met aardverwarming of die sogenaamde klimaatsverandering? Is dit ooit waar dat die klimaat besig is om te verander? En word dit werklik deur ons veroorsaak? As dit deur ons veroorsaak word, hoe vêr gaan ons om dit teen te werk?

God het aan die mens beveel: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen 1:28) En, “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” (Gen 2:15) Hiervan leer ons dat dit van die begin af die plan was dat die mens oor die aarde heers en dit bewerk, en dat die aarde duidelik gemaak is om gevul te word. Herken u die benoude gevoel as u sien dat daar nog ’n mooi oop veld toegebou is? Ek dink nie ons hoef benoud te word nie. Dit is naamlik die idee dat die aarde bewerk word. Ons moet ook versigtig wees met uitsprake dat daar genoeg of te veel mense op die aarde is. Dit is nog altyd die plan dat die aarde gevul word. Kortom, dit is mooi en goed as die mens die aarde gebruik om te skep en te vermenigvuldig.

Dit is presies hieroor waar die groot verskil lê tussen Christene en hedendaagse klimaataktiviste. Laasgenoemde sien die mens as ’n plaag wat Moeder Aarde infekteer. Die oorsprong hiervan is natuurlik die leuen van evolusie: dat die mens eintlik maar ’n bietjie laat gekom het op die aarde wat al miljoene jare voor hom hier was. Hierdie wêreldsbeskouing verhef die skepping en ontken die Skepper.

Maar laat ons nie te haastig wees nie. ‘n ‘Environmentalist’ is nie per definisie sleg nie. Dit is juis goed as daar mense is wat voltyds hulle aandag daaraan kan bestee om die omgewing se gesondheid dop te hou. Ongelukkig is baie van hulle mense met ’n anti-Christelike wêreldsbeskouing. Hierdeur is daar dan die gevaar dat ons so gekant raak teen die omgewingsaktiviste dat ons nie gewillig is om enige sorg vir die aarde te erken nie. Omgewingsbewustheid kan onder ons so ’n swaarbelaaide term word dat ‘n mens skeef aangekyk word as jy ‘n voorstander is vir die omgewing bewaar. As Christene moet ons dus bepaal watter tipe skeppingsorg toepaslik is. As dit so is dat die mens bydra tot klimaatsverandering, moet ons as Christene dit proaktief benader. Ons moet dan ’n oplossing vind wat minder skadelik is as die probleem.

U kan dalk ook wonder oor hoe ons moet sorg vir ’n aarde wat tog eendag in sy geheel verbrand sal word? (2 Petrus 3:10) Ek dink op dieselfde manier as wat ons vir ons liggame sorg. Ons liggame gaan ook eendag begrawe word en vergaan, maar tog moet ons mooi daarvoor sorg terwyl ons nog in die lewe is. Die uiteindelike vernietiging van die aarde en die uiteindelike vergaan van ons liggaam maak nie die aarde en ons liggaam waardeloos nie. Die feit dat beide vergaan voorkom hopelik wel dat ons dit verafgod.

Voordat ons kyk of klimaatsverandering wel deur die mens veroorsaak word of nie, laat ons eers kyk wat die Bybel hieroor sê. Ons het naamlik goeie Bybelse rede om te glo dat die aarde oor die algemeen stabiel sal wees. Gen 8:22 sê: “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” Met dit gesê, is dit ook nodig om te onthou dat die skepping onderworpe is aan nietigheid (Rom 8:20). Ons kan nie ’n ‘utopia’ verwag hier op aarde nie. Kyk ook na die sewe voorspoedige jare en die sewe maer jare in die tyd van Josef. Eintlik kan ons hier al stop en weet dat ons nie bekommerd hoef te wees nie, omdat God dit vir seker onder beheer het.

Kom ons kyk nou na ’n paar feite. Twee belangrike punte om te oorweeg is:

  1. Die atmosferiese CO2 het toegeneem sedert 1860 vanaf ’n beraamde 285 ppm (‘parts per million’) of 0.029% van die atmosfeer tot 410 ppm of 0.041% in 2020. Die tempo van toename is sowat 2 ppm per jaar of ‘n 50% toename oor 160 jaar.

Die planeet het sowat 0.8°C warmer geword sedert 1880 en die helfte van hierdie verwarming het geskied nog voor daar noemenswaardige veranderinge in CO2 vlakke was. Dus kan ten minste die helfte van die verwarming nie deur die mens se toedoen wees nie!

Neem kennis dat die menslike bydrae van CO2 deur verbranding van fossielbrandstowwe minder as 5% van die aarde se CO2 vrystelling is. Ander bronne sluit in: ontbossing, volkane, verweer van rotse, die oseane en die afbreek van organiese oorblyfsels.

Kweekhuis gasse is - glo dit of nie - belangrik vir die leefbaarheid van die aarde. Daarsonder sou die gemiddelde temperatuur van die aarde ’n beraamde 33°C laer wees, wat die aarde vir seker onleefbaar sou maak. Verder is hierdie 33°C verwarming hoofsaaklik te danke aan waterdamp. Slegs sowat 3.3°C van die 33°C kan toegeskryf word aan CO2.

Nog ’n detail wat nie onbelangrik is nie, is dat CO2 slegs ‘n klein deel van die infrarooispektrum absorbeer. Dit sorg dat die verwarmende effek van CO2 afneem met hoër konsentrasies. Met hoër konsentrasies CO2 word al die radiasie in daardie klein venster van die spektrum opgeneem en geen verdere hitte kan opgeneem word nie, ongeag of die CO2 konsentrasie toeneem. Hierdie effek is heel gerieflik uitgelaat in die opsomming van die IPCC (‘International Panel on Climate Change’) wat aan owerhede se beleidmakers verskaf is.

Die bewering dat 97% van wetenskaplikes saamstem dat mensgegenereerde CO2 katastrofiese aardverwarming sal veroorsaak is nie waar nie. Wat die studie eintlik bevind het, is dat van ’n poel van twaalfduisend klimaatgerigde artikels van 1991 tot 2011, waar mense wel hul menings lug, 97% van die artikels die mening het dat die mens aardverwarming veroorsaak. Hulle sê dus nie dat dit katastrofiese gevolge sal hê nie. Slegs 64 van die 12 000 beweer dat die meeste van die verwarming deur die mens veroorsaak is. Ons moet ook rekening daarmee hou dat hierdie slegs gaan oor artikels waar daar ’n opinie gelug word. Twee derdes het nie ’n opinie gelug nie. In 2016 is daar 500 artikels in wetenskapsjoernale gepubliseer wat die sogenaamde ‘konsensus’ oor klimaatsverandering ernstig bevraagteken.

Om jou op konsensus te beroep is nie ’n argument nie. As dit gaan oor wat die meerderheid se mening is, dan is dit nie meer wetenskap nie. As dit werklik wetenskap is, dan hoef ‘n mens nie ’n argument op konsensus te bou nie.

Mislukte voorspellings regverdig dit ook om skepties te wees oor klimaatsverandering. So te sê alle doemvoorspellings sedert die 1970s is verkeerd bewys. Een van die voor spellings was dat getal ysbere sou afneem en hulle selfs gedreig sou word met uitsterwing, maar sedert 2005 is die getalle stabiel. Dit is ’n voorbeeld van waar daar op die emosies van mense ingespeel word om radikale aksie te neem vir klimaatsverandering. Hoekom maak dit vir hulle saak dat die ysbere uitsterf? Iets anders sal mos in hulle plek ontwikkel deur evolusie? Of dalk nie? Dit maak in elk geval nie saak nie – die lewe het tog mos net perongeluk ontstaan. Die feit dat hulle morele argumente maak wanneer hulle geen basis daarvoor het nie, wys dat dit meer gaan oor manipulasie as wetenskap.

Slegs vanuit hierdie enkele stukkies inligting is dit duidelik dat die bydrae van die mens nie so klinkklaar helder is nie. Dit is dus ook nie geregverdig om sulke radikale aksie te neem soos wat deur die doem profete van ons tyd gepreek word nie. Ons rede om nie bekommerd te wees nie is dus tweevoudig – ons Vader in die hemel, wat alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, het ook die weer in Sy hande, en daar is baie rede om skepties te wees oor dit wat die klimaatprofete alles kwyt raak.

Om meer uitgebreid hieroor te lees verwys ek u na ’n artikel gepubliseer deur Creation.com met die titel “Anthropogenic Global Warming – a biblical and scientific approach to climate change”.

Inligting verkry deur: Anthropogenic Global Warming – a biblical and scientific approach to climate change – Creation.com

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp