Getuienis van geloof in vriendskap

Hoe getuig ons as gelowiges in vriendskap of ander alledaagse verhoudings? Of eerder, hoe moet ons getuig en optree teenoor die mense om ons? In Matteus 5:16 word ons as gelowiges opgeroep om die lig van die lewe uit te straal deur hoe ons op ‘n daaglikse basis optree.

Getuienis van geloof in vriendskap
Photo by Priscilla Du Preez 🇨🇦 / Unsplash

Geskryf deur Ewan Smit, VGK Pretoria

Hoe getuig ons as gelowiges in vriendskap of ander alledaagse verhoudings? Of eerder, hoe moet ons getuig en optree teenoor die mense om ons?

In Matteus 5:16 word ons as gelowiges opgeroep om die lig van die lewe uit te straal deur hoe ons op ‘n daaglikse basis optree. Ons moet ons lig laat skyn deur ons goeie werke en gedrag, om sodoende ons Vader in die hemel te verheerlik.

Hoe doen ons dit?

Die maklikste en eenvoudigste manier om God se lig uit te straal is om volgens sy wil te lewe. Mense sal hopelik opmerk dat jy jouself anders gedra as die res van die samelewing en dit sal die gedagte laat opkom wat sê: “Hoekom is die persoon so gaaf of bedagsaam?”

Soos ons kan lees in 1 Korinthiërs 9:14, moet die wat die evangelie verkondig ook volgens die evangelie leef. Ons as Christene moet lewende ligte vir ander wees. Ons moet vermy om hipokrities te wees deur ander aan te spreek uit liefde, in plaas van haat en afguns. Die meeste mense lees nie die Bybel nie. Ons moet reg optree teenoor ander, want ons is miskien die enigste Bybel wat hul ooit sal lees.

Ons as gelowiges moet meer en meer streef om nader aan God leef deur Bybel te lees, te bid en God te verheerlik, elke kans wat ons kry. Wanneer ons nader aan God is, spoel sy liefde deur ons uit na ander mense toe.

Praktiese toepassing

Al die bogenoemde is in teorie baie maklik, maar die toepassing daarvan is waar die meeste mense hulself vasloop. Mense is verskillend gemaak en wat vir die een maklik kom, kom vir 'n ander baie moeilik. Dit geld ook vir evangelisasie of woordverkondiging.

Om oor die geloof te praat met onbekende mense (of selfs naasbestaandes) kan 'n moeilike taak wees. Om ‘n gesprek oor geloof te betree kan sommige mense verdedigend of selfs aanvallend maak. Dit is belangrik om te onthou dat jy nie met die persoon praat om hul argument te vermorsel nie, maar eerder net om hul kant van die saak te hoor en ook jou eie kant te verduidelik.

Probeer om vrae te vra wat die gesprek kan stuur na geloof toe, soos: “Dink jy die Big Bang het regtig gebeur?” of “Dink jy om 'n vegetariër te wees is die regte ding om te doen?” Met vrae soos die kan jy geloof maklik in die gesprek bring deur te verwys na hoe jy glo die aarde geskep is of wat die Bybel vir ons sê oor eetgewoontes.

As voorbeeld het ek en een van my vriende op kampus 'n gesprek gehad oor of dit verkeerd is om Monster energiedrankies te drink, omdat daar blykbaar satanistiese simbole op die blikkie verskyn. Hierdie gesprek het 'n derde persoon, wat agter ons was, betrek en dit het 'n bespreking van die Bybel tot gevolg gehad.

Geduld

Daar is nie een gevestigde manier of metode om die woord te verkondig wat vir almal sal werk nie. Jy gaan self moet probeer om te sien wat werk en wat werk nie. Een van die grootste aspekte wat in ag geneem moet word is geduld. In 2 Tim 4:2 lees ons: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.” Ons moet dink daaraan as 'n stroom water wat oor 'n lang tydperk sy pad vorentoe uitkerf. 

Evangelisasie is 'n langdurige proses. Dit gebeur nie net oornag nie. Ons moet die geloof na ander bring, maar net so belangrik is dat ons moet bid. Ons werk is nie om mense te forseer om gelowig te word nie, maar eerder om mense te wys wie God is en wat geloof alles behels. 

Samevatting

Om doeltreffend woordverkondiging te doen aan vriende, familie of vreemdelinge moet ons die Woord van God uitleef. Ons moet probeer om die Woord in ons alledaagse lewe in te werk en ons moet geduldig wees. 

Ons moet vissers van mense wees, maar op die einde van die dag is ‘n persoon se saligheid in God se hande.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp