Moenie die garing van God se weefsel knip nie

Ek dink enigiemand wat al ‘n pasgebore baba vasgehou het, weet hoe spesiaal dit is. Twee selle wat gegroei het tot ‘n volledige miniatuur mens. Tog is die nuus van swangerskap nie vir almal goeie nuus nie.

Moenie die garing van God se weefsel knip nie
Photo by Isaac Quesada / Unsplash

Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria

Ek dink enigiemand wat al ‘n pasgebore baba vasgehou het, weet hoe spesiaal dit is.  Twee selle wat gegroei het tot ‘n volledige miniatuur mens. Wanneer jy na daardie klein skepseltjie se vingertjies kyk en sien hoe perfek dit is, wanneer jy die klein voetjies sien, dan borrel groot respek op in jou hart vir God die Skepper en Beheerder van lewe.

Tog is die nuus van swangerskap nie vir almal goeie nuus nie.  Ons lewe in ‘n wêreld waarin die reg om oor daardie ongebore lewe te besluit, deur sommige as ‘n basiese mensereg beskou word.

Waarom aborsie?

Waarom sal ‘n paartjie/swanger vrou die beëindiging van ongebore lewe oorweeg?  Sommige Pro-choice aanhangers voer verkragtings, gesondheid en tienerswangerskappe as die hoofredes vir aborsies aan.  Sulke gevalle maak die afkeur van aborsies inderdaad meer kompleks, maar is dit regtig hoekom aborsies gepleeg word?

Die Wêreld Gesondheid Organisasie reken daar vind per jaar ongeveer 73 miljoen aborsies wêreldwyd plaas.  29 % van alle swangeskappe word met ‘n aborsie beëindig (WHO, 2021).  ‘n Studie wat in 2013 in Amerika gedoen is (Foster, 2013), het bevind dat slegs 12% abosies gepleeg word as gevolg van gesondheidsredes. 6% hiervan was egter as gevolg van die moeder se gebruik van alkohol of dwelms en is dus die moeder se eie lewensstyl keuse.  Die studie bevat nie inligting oor verkragtings nie, maar 3% het gesê hulle het “abusive partners”.  Meeste vroue het meer as een rede gegee, die hoofredes was: Finansies (40%), nie die regte tyd nie (36%), lewensmaat verwante oorsake (31%), ander kinders (29%), die baba sal toekomsplanne omverwerp (20%), en nie emosioneel of geestelik gereed vir ‘n baba nie (19%).

Die oorsaak vir aborsies is hoofsaaklik selfgesentreerd.  Mense wil net lewe vir hier en nou, sonder om verantwoordelikheid te dra vir dit wat hulle doen. ‘n Onskuldige lewe moet opgeoffer word vir loopbane, plesier en toekomsdrome.

‘n Moeiliker probleem is dalk wanneer verkragting inderdaad die oorsaak van ‘n swangerskap is. Maar is aborsie die oplossing vir ‘n seksueel gevrotte samelewing?

Kom ons bekyk die saak van ‘n minder ernstige oogpunt: 29 miljoen Suid-Afrikaners ontvang sosiale toelaes van die regering terwyl net 7.4 miljoen belasting betaal (Daily Investor, 2023). Ek vermoed dat die meerderheid lesers hulle koppe skud, wanneer hulle sulke statistiek hoor.  Meeste van u sal waarskynlik meen dat dit die domste ding is om te doen.  Eerder as om daardie 29 miljoen persone afhanklik van die staat te maak, kan die regering eerder die geld in werkskepping investeer.

Die einste argument is ook van toepassing op aborsie.  Is moord van onskuldige babas die oplossing vir seksuele losbandigheid? Spreek dit die groter probleem enigsins aan?  Vanuit ‘n Christelike perspektief moet ons onsself afvra waar dinge verkeerd gegaan het dat verkragting en tienerswangerskappe hoegenaamd plaasvind.

Die kerk se doel is egter nie om te droom oor hoe mooi ‘n teokratiese samelewing sou kon wees nie.  Ons is nou in die wêreld om nou ‘n verskil te maak.  Hoe gaan ons om met tienerswangerskappe en verkragtings. Miskien is ons taak om daardie mense op te vang. Om hulp te bied. Om alleenstaande moeders te help.  Om vaders te wees vir kinders wat nog nooit hulle pa ontmoet het nie. Dit is ‘n swaar taak.  Baie moeliker as om Pro-life optogte te hou, of om krities kommentaar te lewer.  Onthou Jesus het self die hoere en tollenaars op gesoek. Die gesondes het immers nie ‘n dokter nodig nie, maar die siekes (Lukas 5:31).

Hoe het dit algemeen geword?

Die groot aantal aborsies laat mens wonder hoe dit so algemeen geraak het. Ek dink oor die afgelope jare is baie moeite gedoen om die moord van onskuldige kinders baie sag en aanvaarbaar te stel.  Frases soos “swangerskap beëindiging” en “aborsie” word nie gekoppel aan moord of doodmaak nie.

‘n Algemene argument is dat die fetus nog nie ‘n mens is nie.  Dit bring ons voor ‘n ingewikkelde vraag.  Wanneer klassifiseer daardie selle in die baarmoeder as ‘n lewende mens?  As dit nie ‘n mens is nie, kan ek myself indink dat daar nie soveel morele rede is om aborsie teen te staan nie. Kom ons dink daarom na oor ‘n paar moontlike stadiums in die menslike ontwikkeling wat as die begin van mens-wees kan klassifiseer:

  • Eerste asemhaling:  Eerstens is dit vir my ‘n gruwelike gedagte dat sommige pro-choice aanhangers durf om asemhaling as die kriteria vir menswees te gee.  Die implikasie is dat ‘n baba nog reg voor geboorte geaborteer kan word. As ons daardie gruwelike gedagte uit ons breine skuif en net logies argumenteer sal ons gou tot die konklusie kom dat ‘n persoon wat KPR nodig het nie meer mens is nie en dat enigiemand daarom die vryheid het om daardie persoon the vermoor.
  • Eerste hartklop: Almal sal saamstem dat iemand wie se hartklop gereguleer word deur ‘n pas-aangeër, steeds ‘n mens is. ‘n Menslike embrio se hart begin al klop na 5-6 weke (Haghighi, 2023).
  • Kommunikasie en selfstandig lewend onderhoudend: As ‘n geliefde in ‘n koma is en die dokter verseker die familie dat, alhoewel die pasiënt op die oomblik deur mediese masjienerie in die lewe gehou word, die persoon na 9 maande weer by sy volle verstand sal wees, sal niemand vir daardie dokter sê om die masjienerie af te skakel nie.

Al wat oorbly is om te erken dat die baba al ‘n menslike persoon is van die oomblik van bevrugting af.  As die embrio of fetus inderdaad ‘n menslike persoon is, is aborsie niks minder as moord nie.

In Suid-Afrika moet ‘n vrou wat gekies het om haar swangerskap te beëindig, dit doen voor die dertiende week (Suid-Afrikaanse Regering, 2023).

Figuur 1 is ‘n foto van ‘n werklike 12 weke oue baba. Vir my is dit duidelik dat die veronderstelde bondel selle al ‘n mens is.

A person holding a baby

Description automatically generated with medium confidence
Figure 1: 12 weke, (Flanders, 2015)

Wat is ons verantwoordelikheid?

Ek hoop van harte dat aborsies nie ‘n algemene probleem in ons kerk is nie.  Tog lewe ons almal in ‘n samelewing waar dit aan die orde van die dag is.  Dalk ken van ons mense vir wie dit normaa; is.  Hoe hanteer ons dit?  Ek dink dit is belangrik om nie uit die middel van nêrens sulke mense van moord te begin beskuldig nie.  Onthou meeste van hierdie mense is waarskynlik ook gebreinspoel dat aborsie nie moord is nie en dat dit wat in die baarmoeder groei net ‘n bol selle is.  Miskien kan ‘n mens eerder begin deur met die persoon oor die mooi van nuwe lewe te praat, om te verduidelik hoe groot die wonder van elke gesonde baba is.  Vir baie mense mag dit dalk net nodig wees om die groter voldoening van ouerskap in te sien om oortuig te word om vir lewe te kies.

Indien die persoon ‘n Christen is, het ons natuurlik Bybelse gronde om op terug te val. As Christene bely ons dat God die Skepper en Onderhouder van lewe is.  In Psalm 139 lees ons so mooi:

Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!

God was al betrokke by ons lewens toe ons nog ‘n ongevormde klomp selle was.  God gee lewe, God neem lewe.  Ons as mense het nie daardie mag ontvang nie. Waardeer opnuut elke nuwe lewe, wat so wonderlik deur God geweef is.

Bronne

Baker, F. (2015, September 1). Powerful photos of a loved baby born at 19 weeks. Retrieved from kidspot.com.au: https://www.kidspot.com.au/birth/pregnancy/pregnancy-galleries/powerful-photos-of-a-loved-baby-born-at-19-weeks/image-gallery/a53aa56f2385a92d1b7406150a133676

Daily Investor. (2023, Januarie 9). 29 million South Africans receive grants – with only 7.4 million taxpayers. Retrieved from Daily Investor: https://dailyinvestor.com/south-africa/7135/29-million-south-africans-receive-grants-with-only-7-4-million-taxpayers/

Flanders, N. (2015, March 19). Stunning photo of Noah, miscarried at 12 weeks, will amaze you. Retrieved from Live Action: https://www.liveaction.org/news//stunning-photo-of-noah-miscarried-at-12-weeks-will-amaze-you/

Foster, M. A. (2013). Understanding why women seek abortions in the US. BMC Women's Health, 13. Retrieved February 23, 2023, from https://bmcwomenshealth.biomedcentral.com/articles/10.1186/1472-6874-13-29

Haghighi, A. S. (2023, Januarie 6). When does a fetus have a heartbeat? Retrieved from Medical News Today: https://www.medicalnewstoday.com/articles/when-does-a-fetus-have-a-heartbeat

Suid-Afrikaanse Regering. (2023). Beëindig ’n swangerskap. Retrieved from www.gov.za: https://www.gov.za/af/services/birth/terminate-pregnancy

WHO. (2021, November 25). Abortion. Retrieved from World Health Organization: https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/abortion

Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp