Oupa en Ouma – wat is hulle rol in die gesin?

Wat sê die Bybel oor oupas en oumas? Die antwoord is: baie min. Die Bybel praat nie spesifiek oor die rol van grootouers in die gesin nie. Die woord oupa, ouma, of grootouers kom nie eenkeer voor in die Bybel nie. Maar dit beteken nie dat hulle geen rol of plek het in die gesinslewe nie.

Oupa en Ouma – wat is hulle rol in die gesin?
Photo by Christian Bowen / Unsplash

Geskryf deur Arjan van der Meer, VGK Pretoria-Maranata

Wat sê die Bybel oor oupas en oumas? Die antwoord is: baie min.

Die Bybel praat nie spesifiek oor die rol van grootouers in die gesin nie. Die woord oupa, ouma, of grootouers kom nie eenkeer voor in die Bybel nie. Maar dit beteken nie dat hulle geen rol of plek het in die gesinslewe nie. Hulle is belangrike instrumente in God se hand, ook in die gesin en die vorming van kinders.

As mens gaan soek na die woord “kindskinders”, wat ons verstaan as kleinkinders, dan is daar wel verse wat grootouers aanspreek oor hulle kleinkinders.

In die eerste plek wil ek wel noem dat die primêre rol van opvoeding van kinders by hulle ouers lê. Ouers het die taak om hulle kinders op te voed in die vrees van die Here. Hulle het die gesag oor hulle kinders. Grootouers is nie direk oor hulle kleinkinders aangestel om ‘n soort van gesagsposisie te beklee nie. Dit lê by die ouers. Maar grootouers speel wel ‘n rol in die opvoeding van kinders, al is dit nie op ‘n direkte manier soos ouers nie. So wat is die rol van grootouers in die lewe van hulle kleinkinders?

Deuteronomium 4:9: “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak”.

Hier het ons ‘n duidelike voorbeeld van grootouers en hul kleinkinders. Die grootouers het die taak om die dade van die Here aan hulle kinders en kleinkinders bekend te maak. Die taak eindig nie as hulle dit aan hulle kinders vertel het nie. Nee, dit gaan voort ook aan hulle kleinkinders. Grootouers kan hulle kleinkinders leer oor die dade van die Here. Hulle speel ‘n rol in die geloofsopvoeding van hulle kleinkinders. Grootouers wat die Here vrees het meer kennis en ervaring oor die lewe wat hulle met hulle kleinkinders kan deel. So word die dade van die Here verkondig van geslag tot geslag. Deur die getuienis van grootouers leer kinders oor die geloof.

Nog ‘n vers wat ons hierby kan betrek is Spreuke 13:22 “ ’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.”

Ons is geneig om dadelik te dink aan finansiële en materiële erfporsies. Dit kan dit wees, maar dit is nie die primêre bedoeling van hierdie vers nie. Dit gaan in die eerste plek nie oor geld en goed nie. Dit gaan hier eerder oor ‘n geestelike erfporsie, wat die kinders en kleinkinders ontvang en saam met hulle neem deur die lewe. Die goeie man kan ons verstaan as die regverdige waarvan daar net bietjie later in die vers gepraat word. Hierdie regverdige mens is iemand wat ‘n verhouding met God het, wat deel het aan die verlossing van Jesus Christus. Die grootouer wat ‘n goeie of regverdige mens is, deel in die verlossing van Jesus Christus. As grootouers deel hulle dan daardie verlossing en weldade van Jesus Christus met hulle kinders en kleinkinders.

Hiermee saam kan ons ook die opdrag sien vir grootouers om ‘n Christelike voorbeeld te wees vir hulle kleinkinders. Dit gaan hier dus nie oor direkte onderrig nie, maar ‘n algemene voorbeeld deur ‘n Godvresende lewe te lei. Hulle moet wys wat dit beteken om ‘n lewende offer te wees vir Christus. Die roeping vir alle Christene bly dieselfde, maak nie saak wat jou ouderdom is nie. Daarom het grootouers daardie selfde roeping, en kan hulle ‘n voorbeeld wees vir hulle kleinkinders. Dit sluit in om vir hulle kleinkinders te bid, self te groei in heiligmaking, die kerk en die Hoof van die Kerk lief te hê, en ook om te belê in hulle kleinkinders. Dit kan op verskillende maniere gedoen word, soos om weekliks te kuier met jou kleinkinders, of om hulle op hulle verjaardae uit te vat vir ete. Wat ook al gedoen word, grootouers moet ‘n verhouding bou met hulle kleinkinders.

Grootouers het ‘n belangrike plek in die familie. Hulle het lewenservaring en wysheid wat hulle met hulle kinders en kleinkinders moet deel. Hulle moet ‘n voorbeeld wees vir hulle kleinkinders en hulle vertel van die wonderdade van God, vir hulle bid en betrokke wees in hulle lewens.

Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp