‘n Goddelike ontwerp vir seksualiteit

Seksualiteit is 'n onderwerp wat dikwels met kontroversie omhul is, veral in die laaste paar dekades. Hierdie onderwerp sien verskeie perspektiewe en sienings. As mense moet ons eerlik erken dat ons nie die wonderlike realiteit van ons eie biologie uitgedink het nie.

‘n Goddelike ontwerp vir seksualiteit
Photo by Norbu GYACHUNG / Unsplash

Geskryf deur Johann Snijder, VGK Pretoria-Maranata

Seksualiteit is 'n onderwerp wat dikwels met kontroversie omhul is, veral in die laaste paar dekades.  Hierdie onderwerp sien verskeie perspektiewe en sienings. As mense moet ons eerlik erken dat ons nie die wonderlike realiteit van ons eie biologie uitgedink het nie. Dit is egter wel wat die trotsaards van die pride-beweging sê.

Dit sou ‘n gruwelike skande wees as ons daarvoor krediet neem. Ons moet eerder nederig na die Maker van hierdie wonderlike biologie gaan en in vertroue en gehoorsaamheid vra:  “Here, hoe het U dit geskape? Wat is U wil daarmee?”

Vanuit hierdie oogpunt is seksualiteit 'n Godgegewe gawe wat binne die raamwerk van die Bybel en die Goddelike ontwerp geleef moet word. Daarom gaan raadpleeg ons ook God se woord.

Die Goddelike ontwerp vir seksualiteit vind sy grondslag in die skepping van die mens as man en vrou. In Genesis 1:27 lees ons: "God het die mens geskep na Sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep." Reeds hier in die begin het God in sy heerlike wysheid die mens as twee geslagte (sexes) geskape. Dit is die Here wat die biologie bepaal het en elke sel in ons liggaam geskape het om uiteindelik sy heerlikheid en wysheid daarin te openbaar. Die hele LGBTQ (pride) -beweging in vandag se samelewing probeer ons wysmaak dat ons as mense die biologie uitgedink het en daarom kan ons ook self bepaal watter geslag ons is.

Die geskape seksualiteit wat die Here aan ons gee is pragtig en heilig. Net so is die verdraaiing daarvan ‘n gruwel. In die Romeinse ryk alreeds was daar geen skaamte oor die naaktheid van die mens nie. Dit is openlik in kuns en selfs in die atletiek voorgehou. En dit is vandag ook steeds so. Met moderne kuns, pornografie, die LGBTQ-beweging, platvorms soos OnlyFans en selfs die manier hoe mense hulleself ontbloot op sosiale media, sien ons hoe die samelewing die seksualiteit wat die Here geskape het ontheilig en verafgod.

Vanuit die skepping spruit die begrip voort dat seksualiteit 'n intieme en heilige eenheid is tussen 'n man en 'n vrou binne die huwelik. Jou seksualiteit is heilig omdat dit sy betekenis in Jesus Christus vind. Dus: pas dit op!

Binne hierdie konteks het seksualiteit verskeie belangrike aspekte. Eerstens, dit is 'n uitdrukking van liefde en eenheid tussen die eggenote. Dit is ‘n heilige band wat die Here gebruik om twee siele inmekaar te weef (Markus 10:8, Efesiërs 5:31, Genesis 2:24). In die Bybel leer ons dat die man sy vrou moet liefhê soos Christus die kerk liefgehad het (Efesiërs 5:25). Seksualiteit is dus nie bloot 'n fisiese handeling nie, maar 'n manier om 'n dieper verhouding van liefde, vertroue en eenheid te bevestig tussen ‘n man en vrou, binne die konteks van ‘n huwelik.

Tweedens, seksualiteit is 'n middel tot voortplanting. In Genesis 1:28 word ons opdrag gegee om vrugbaar te wees en die aarde te vul. Die Here het dit in sy wysheid besluit om die voortbestaan van die mensdom op hierdie manier te bewerkstellig. Dit moet ons uitleef in vertroue en gehoorsaamheid aan hom in die konteks van die huwelik, soos God dit geskape het.

Derdens, seksualiteit behoort binne die raamwerk van moraliteit en reinheid plaas te vind. Die Bybel waarsku teen onsedelike optrede en verduidelik dat die liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is (1 Korintiërs 6:18-20). Seksuele losbandigheid, pornografie, OnlyFans, moderne kuns en selfs die manier hoe jy jou voorhou op sosiale media word beskou as 'n afwyking van die Goddelike ontwerp vir seksualiteit.

Ons moet daarvan bewus wees dat die seksualiteit wat die Here geskape het nie beskou word as iets om oor skaam te wees of verkeerd en sondig nie. Die wêreld is vol van die verdraaiing daarvan en daarom kry ons ‘n stroom van negatiewe sienings daaroor. Maar God se skepping is pragtig. Jou seksualiteit erken die Godgegewe aard binne die regte konteks. Jou seksualiteit is iets intiem en heilig en iets wat binne die grense van die huwelik beoefen behoort te word. En binne hierdie raamwerk kan dit 'n bron van vreugde, vervulling en geestelike groei wees.

Laat dit ook duidelik wees dat die Bybel en die Evangelie van Christus hoop bring vir diegene wat met seksuele identeit of versoekings worstel. Daar is genade ook vir ons wat elke dag versoek word en vir seker ook val in seksuele sondes, waarvan pornografie vir seker die mees algemeen is. Laat ons wat daarmee worstel, in nederigheid voor die Vader kniel en ons lewe in sy hande oorlaat. Vertrou op Christus se verlossende werk en soek in gehoorsaamheid sy wil op vir jou lewe. Bring jou sonde na die lig, want dit is waar die oorwinning lê!

In 'n samelewing waar seksualiteit dikwels verdraai en verminder word tot 'n oppervlakkige, selfsugtige aktiwiteit, bied Christus ons in die grense van die evanglie 'n uitnodiging om ons heilige seksualiteit in sy volheid en betekenis te verstaan. Dit is 'n oproep om seksualiteit te benader met respek, liefde en baie diepe verantwoordelikheid teenoor God en ons medemens.

Laat ons daarom geanker wees in die Goddelike ontwerp vir ons seksualiteit en in gehoorsaamheid na die Bybelse riglyne luister om sodoende 'n vervulde en geestelik gesonde benadering tot ons seksualiteit kan geniet. Dit is 'n uitnodiging tot heiligmaking, groei en getrouheid binne die grense wat deur God gestel is. Moenie trots (Pride Month) wees nie, maar vertrou op Christus alleen en leef in ‘n soekende gehoorsaamheid na sy wil.

Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp