Geanker in die Evangelie van vrede!

Te midde van die worstelstryd moet ons skielik skoene aantrek wat vrede bring. Is ons nie besig om te veg vir die waarheid nie (die gordel)? Om die Satan geen plek in ons hart te gee nie (die borswapen)? Hoekom is vrede ter sprake hier?

Geanker in die Evangelie van vrede!
Photo by Maxime Horlaville / Unsplash
Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.” (Efesiërs 6:14-15)

In die laaste item van die drie “staan dan vas”-items van die wapenrusting van God bevind ons onsself met die skoene van bereidheid vir die evangelie van vrede. Te midde van die worstelstryd teen die owerhede, magte, wêreldheersers, en die bose geeste in die lug moet ons skielik skoene aantrek wat vrede bring. Is ons nie besig om te veg vir die waarheid nie (die gordel)? Om die Satan geen plek in ons hart te gee nie (die borswapen)? Hoekom is vrede ter sprake hier?

Die beloofde Messias het na die wêreld gekom om vrede te bring. Die herders van Betlehem was omsingel deur die hemelse leërskare wat God prys vir die vrede wat Jesus bring deur sy versoeningswerk (Lukas 2:14). Efesiërs 2:13-18 vorm die evangelie van vrede vir ons. Christus is self ons vrede. Hy het die “middelmuur van skeiding” afgebreek (vers 14) tussen ons en God, asook tussen ons en ons naaste (vers 15-16) deur sy versoeningswerk aan die kruis (vers 16) en deur self die evangelie van vrede te verkondig (vers 17). In die worstelstryd, wat ons Verlosser self oorwin het, het die blye boodskap nie op die boekrak bly staan nie, maar selfs te midde van die stryd het Christus die evangelie van vrede gebring (vgl., Johannes 4:1-26).

Dit is wanneer ons kyk na Christus se lewe, te midde van versoekings en lyding, dat dit sinmaak dat die evangelie van vrede ons woorde en gedagtes moet vul te midde van die worstelstryd. Die wapenrusting van God is dus nie net ‘n uitrusting van verdediging nie, maar dit is ook ‘n uitrusting om vas te staan in die evangelie van vrede wat Christus gebring het. Watter vrede het Christus gebring?

Vrede met God

Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! (Jesaja 52:7)

Christus, die beloofde Boodskapper, het die goeie tyding gebring deur sy verlossing. Die verbreekte vrede met God deur die sondeval het ons gelaat in ‘n tydelike blyplek in ‘n wingerd (Jesaja 1:8), totdat ‘n takkie sou uitspruit (Jesaja 11:1) en die boodskap van vrede gebring is aan die herders (Jesaja 40:1-11). In Christus word hierdie boodskap vervul: God seën ons met alle geestelike seëninge nog voor die grondlegging van die wêreld (Efesiërs 1:3-14) - dit bring vrede vir ons met God. Hierdie seëninge van vrede is waarmee Paulus sy brief aan die gemeente van Efese begin en eindig (Efesiërs 1:2 en 6:23). Ons mag ook elke Sondag hierdie seëninge van vrede hoor. God het ons met Homself versoen en nader in genade tot ons deur sy Seun (Jesaja 43:1-2). Maar hoe leef ons in vrede met God te midde van gesondheidsprobleme, rotsagtige verhoudings, en talmende depressie, angs, en finansiële winters?

Jesus het nie in die eerste plek gekom om wonders te doen nie, maar Hy het vir sondaars, soos ek en jy, gekom om ons met God te versoen deur sy werk aan die kruis (Romeine 8:32). Ons aardse lyding is tydelik en ons toekoms is hoopvol: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11). Deur die lens van die evangelie het Paulus verby sy aardse lyding na ‘n hoopvolle toekoms gekyk, in Christus, om vrede met God te ervaar (Fillipense-reeks). Ons mag die vrede van God ervaar wanneer ons die seën van vrede elke Sondag hoor, wanneer ons die Skrif oopmaak, wanneer ons in stil vertroue ons hoop op sy beloftes plaas (Psalm 42:12 en 62:2-3), en wanneer daar onderlinge vrede is (Psalm 133).

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus - verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:35-39)

Vrede met ons naaste

“Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!” (Psalms 133:1)

Hierdie onderlinge vrede in Psalm 133 is nie vanselfsprekend nie. Deur Christus se werk aan die kruis is ons ook met ons naaste versoen, maar ons word opgeroep om “met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Efesiërs 4:2-3). Wanneer daar onderlinge vrede is, raak die kerk van Christus beter bestand teen die aanvalle van die Satan. Satan probeer daarom om tweedrag (Galasiërs 5:20) onder gelowiges te laat ontvlam deurdat daar wanpersepsies oor medegelowiges ontstaan, mense mekaar vermy, en mense oor mekaar skinder. Vrede met ons naaste beteken dat ons die waarheid spreek, nie toornig word teenoor hulle nie, nie steel nie, en vergewingsgesind, vriendelik en vol ontferming teenoor hulle is (Efesiërs 4:25-32 en Kolossense 4:6). Dit is daarom ook dat Christus beveel om eers met jou broeder te gaan versoen voordat jy tot God nader (Mattheüs 5:23-24). Vrede met ons naaste loop daarom hand aan hand met ons vrede met God.

Geanker in die Evangelie van vrede!

Dit was ongewoon (selfs sondig in die Jode se oë!) dat Christus, ‘n besnyde Jood, met tollenaars en sondaars geeët (Mattheus 9:10-13) en met ‘n Samaritaanse vrou gepraat het (Johannes 4:1-26). Maar, Christus bring die evangelie van vrede vir tollenaars, sondaars, Samaritane, Jode, en ons. Anders as aardse konings, het hierdie Koning van Jesaja 52:7 sy vyande lief en het vrede nagejaag. Daar is nie enige beter nuus vir ons, as anders hopelose sondaars, dat God ons sy kinders wil noem en ons in genade wil aanneem nie!

Hierdie skoene van bereidheid (miskien beter verstaanbaar as readiness (ESV) of preparation (NKJV)) maak ons gereed om vas te staan in die Waarheid. Om gereed te wees is noodsaaklik om staande te bly tydens verdediging. Deur die skoene van gereedheid te dra, kan ons heilig lewe, bereid om verantwoording te doen oor die hoop wat in ons is deur die vrede met God (1 Petrus 3:15). Die vers vervolg ook dat ons dit “met beskeidenheid en respek” moet doen (1 Petrus 3:16 AFR20). Die gesindheid waarmee Petrus ons beveel om die Waarheid te verdedig spreek van vrede. Deur hierdie skoene aan te trek, kan ons staande bly en gereed wees om die vredevolle Goeie Nuus te verdedig en met ander te deel in die dag van stryd!

Coram Deo

Die skoene, wat ons aantrek vir die bereidheid vir die evangelie van vrede, is die laaste item in die wapenrusting wat ons help om vas te kan staan tydens die stryd. Deur geanker te wees in die vrede wat Christus bewerk het met God en ons naaste, kan ons regstaan met die evangelie om, te midde van die stryd, die Blye Boodskap te bring, ‘n boodskap van ‘n hoopvolle toekoms, wat spreek van God se beloftes en ryke seëninge!

Gebed

Onse Vader, wat in die hemele is. Here, U wat ons deur u Seun versoen het sodat daar vrede mag wees. Ons dank U vir u Seun se verlossingswerk aan die kruis sodat ons nou na U mag nader, in vrede met u beloftes en seëninge vir ons. Ons vra of U ons sal help dat ons hierdie vrede, wat U aan ons gegee het, in geloof raak sal kan sien, sodat ons dit ook onder mekaar kan najaag. Laat hierdie vrede ons ook lei na eenheid. Eenheid om staande te kan bly in die dag van stryd, sodat ons altyd bereid sal wees om rekenskap te gee van die hoop wat in ons leef. Ons vra U of U die kerk wêreldwyd sal bewaar teen tweedrag, dat die goeie nuus wat U gebring het deur u Seun vrede sal bring vir almal in wie U ‘n welbehae het! Amen.

Vir agtergrond en verdere lesing

Romeinse soldate het leersandale gedra wat ysterknoppies (spykers) onder aan die sole gehad het (Fig. 1). Hierdie spykers was ontwerp om die soldaat se voete stewig in die grond te plant. Dit wys dat die skoene nie net vir beweeglikheid bedoel is nie, maar ook om vas te kan staan in die stryd.

Figure 1: Romeinse caligae [Link]
  • 2 Sam 18:24-27 skep die beeld van die boodskapper. Die voete van die boodskapper sou lieflik wees as hy die goeie nuus gebring het. So het ons Verlosser vir ons die blye nuus gebring!

Bronne

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata