Gaan ons in die hemel net sing?

Waaraan dink ons as ons oor die Hemel dink? Dink ons aan ‘n plek daarbo iewers in die ruimte buite bereik van ons menslike verstand? Die Bybel sê dit gaan ‘n fisiese plek wees wat bestaan uit ‘n nuwe aarde en Hemel (Openbaring 21:16-18).

Gaan ons in die hemel net sing?
Photo by Ilyass SEDDOUG / Unsplash

Geskryf deur Biance de Beer, VGK Bellville

Waaraan dink ons as ons oor die Hemel dink? Dink ons aan ‘n plek daarbo iewers in die ruimte buite bereik van ons menslike verstand? Die Bybel sê dit gaan ‘n fisiese plek wees wat bestaan uit ‘n nuwe aarde en Hemel (Openbaring 21:16-18). Die ou aarde en Hemel gaan vernuwe word met die tweede koms van Jesus Christus, die Seun van God. Die skepping – waaraan ons ook behoort – sal vrygemaak word van die vloek wat oor ons geplaas was na die sondeval (Romeine 8:19-21, 23).

Daar sal nie meer dood, hartseer of lyding wees nie. Ons sal nuwe verheerlikte liggame ontvang wat perfek sal wees (Filippense 3:20-21). Daar sal geen sonde meer wees nie. Dit is amper ondenkbaar vir die menslike verbeelding. Maar wat gaan ons doen in die Hemel? Gaan ons net heeldag sing? Ons sal definitief sing, maar dit is nie al nie.

In die teenwoordigheid van God

Jesus het gesê dat ons by Hom sal wees (Johannes 14:3). Dit is waarna ons smag wanneer ons tot God bid, of wanneer ons Hom loof en prys en weer herinner word aan Sy beloftes. Ons sal in die teenwoordigheid van die Skepper van die heelal, die drie-enige God, die Verlosser en die Heerser oor alle magte – goed of kwaad – wees. Daar is nie ander woorde om te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Dit sal groot vreugde tot gevolg tevoorskyn bring. ‘n Vreugde wat ons nog nooit beleef het nie. ‘n Vreugde wat ons nog net ‘n klein deel van ken, omdat ons die genade van God het. Die vreugde van ‘n ewige lewe saam met God (Psalm 16:11).

Daar sal ‘n fees wees

Ons sal almal rondom een tafel feesvier saam met Christus. Al die heiliges sal in goddelike gemeenskap saamvier op die manier waarop God dit so bestem het. In Jesaja 25 was dit al geprofeteer:

“Die Here, Heerser oor alle magte, sal op hierdie berg vir al die volke ‘n feesmaal van ryk geregte voorberei.”

Dit is nie net feesviering oor die oorwinning van sonde en dood nie, maar ook die feesviering van die huwelik tussen die bruid en die Lam. Die bruid, wat die kerk simboliseer, is nou waardig vir haar man, wie Christus is (Openbaring 19:7-8). Die redding van die kerk is net as gevolg van die werke van die Lam (Efesiërs 2:8-10).

Daar sal rus wees

In die Hemel sal ons rus vind (Openbaring 14:13) terwyl ons in diens van God is (Openbaring 7:14-15). Rus vir ‘n Christen beteken rus van die ewige stryd wat ons elke dag voer teen die sondige natuur. Ons rus vind ons in Christus en dus wanneer ons in die Hemel kom, sal ons rus in sy teenwoordigheid. Om in diens van God te wees kan nooit vermoeiend wees vir die Christen nie. So sal dit ook nie werk of moeite wees om God te aanbid in die Hemel nie. In die Hemel sal daar ook nie kerkdienste wees soos wat ons op die ou aarde het nie. Dit sal nie nodig wees nie, want ons sal konstant in aanbidding wees. Verder, wanneer ons die Hemel bereik, sal ons heilig gemaak word. Dus sal ons ook rus in die genade van ons liewe Vader.

Ons sal sing!

Wanneer ons sing in die Hemel, sal dit ‘n nuwe loflied wees. Dit sal ‘n loflied wees wat vertel van die terugkoms van Christus en die glorieryke feesviering van die huwelik tussen die Lam en sy bruid. Dit sal so gaan:

“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” (Openbaring 5:13-14)

Ons sal juig, want dit is volbring! Die Here Jesus Christus sit op sy troon en Hy regeer. Ons sal sing van die oordeel van die bose (Openbaring 18:20). Uit dankbaarheid sal ons sing oor God se regverdigheid, want Hy is onwrikbaar. Hy bly by sy beloftes. Hy sorg vir sy kinders. Hy neem wraak oor die sonde, maar hy bewys ook liefde aan die wat Hom liefhet. As ons al hierdie dinge weet, wat anders kan ons doen as om te sing?

Halleluja, prys die Heer!

Bronne

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp