“Entertainment” met ‘n Christelike insig

Sê nou jy wil ‘n vrug eet, maar jy sien ‘n deel daarvan is vrot. Wat sal jy doen? Sal jy dit in elk geval eet? Sal jy dit weggooi? Of sal jy die vrot deel uitsny en die goeie deel eet?

“Entertainment” met ‘n Christelike insig
Photo by Mollie Sivaram / Unsplash

Geskryf deur Danielle van den Bout, VGK Maranata

Sê nou jy wil ‘n vrug eet, maar jy sien ‘n deel daarvan is vrot. Wat sal jy doen? Sal jy dit in elk geval eet? Sal jy dit weggooi? Of sal jy die vrot deel uitsny en die goeie deel eet?

Ons kan vermaak met hierdie vrug vergelyk. ‘n Deel daarvan is miskien goed, maar ‘n groot deel daarvan is “vrot”, omdat dit dalk onsedelik of gewelddadig is. Sal jy dan sê: “Dis my besluit. Ek kan enige vermaak kies wat ek wil.” of sal jy sê: “Alle vermaak is sleg?” Gaan jy versigtig kies sodat jy slegte vermaak kan vermy en die goeie kan geniet?

Ons almal het vermaak nodig, maar hoe maak ons wyse besluite daaromtrent?

1 Korinthiërs 10: 31 sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” Ons moet dus daaraan dink hoe ons keuse van vermaak ons aanbidding van en verhouding met God gaan beïnvloed. Is dit waarna jy kyk, wat jy lees of wat jy doen, tot eer van God? Of doen jy dit maar net vir jou eie plesier?

Hoe kies ons dan ons vermaak wys? God gee immers nie vir ons ‘n duidelike lys van dinge wat ons wel en nie mag kyk, lees of onsself mee besig hou nie.

Ons kry vandag baie verskillende vorme van vermaak. Sommige daarvan is aanvaarbaar vir Christene, maar baie daarvan is nie toepaslik nie. Daar is baie flieks, televisieprogramme, webwerwe, liedjies en videospeletjies wat vol onsedelikheid, geweld of demone is. Slegte dinge word dikwels as onskuldig of selfs snaaks uitgebeeld. Kan ons as Christene onsself hiermee assosieer of moet ons daarvan wegbly? Sommige mense mag dalk sê: “Maar ek sal nooit self die dinge doen wat ek op die skerm sien nie.” Wanneer ‘n mens so redeneer bedrieg jy net jouself. Want hoe meer jy jouself blootstel aan sulke dinge, hoe meer sal jy dit as normaal beskou. Dis miskien so dat jy die dinge waarna jy kyk nie self sal doen nie, maar dit wys jou dalk iets oor die persoon wat jy reeds is.

Alhoewel God nie vir ons ‘n duidelike lys gee van wat ons wel na mag kyk, lees of luister nie, kan ons nog steeds Bybelse beginsels gebruik om besluite rondom vermaak te neem.
1 Petrus 1:15-16 sê: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” God beveel ons dus om ‘n heilige lewe te lei en daarom moet ons dit wat sleg is, haat. Moenie jouself besig hou met dinge wat jy weet verkeerd is nie. God het ons almal immers met ‘n gesonde gewete geskape en jy sal weet wanneer dit wat jy doen verkeerd is.

Maar wat nou gemaak as jy nie duidelik kan onderskei wat goed of sleg is nie? Dink hieraan: Sê nou jy loop hoog teen ‘n berg op ‘n paadjie. Sal jy kyk hoe naby jy aan die rand kan loop en so jou lewe in gevaar stel? Nee, as jou lewe vir jou kosbaar is, sal jy ver van die gevaar af wegbly. Dis presies dieselfde in ons keuse van vermaak. Moet daarom nie net die vermaak wat jy weet sleg is, vermy nie, maar bly weg van enige vermaak wat jy dink sleg is vir jou en wat jou verhouding met God kan benadeel.

As ons eerlik is met onsself, sal ons almal erken dat ons meestal vermaak gebruik om die realiteit te ontsnap. Dit laat ons vir ‘n oomblik vergeet van al ons probleme en sorge. Vermaak bied egter net ‘n tydelike oplossing vir ons probleme. Wanneer jy die oggend wakker word nadat jy die vorige aand ure op sosiale media spandeer het, wag jou probleme nog steeds om gekonfronteer te word. Al wat jy gedoen het, is om dit uit te stel.
Ons moet daarom mooi kyk na hoeveel tyd ons aan vermaak bestee. Het dit jou grootste prioriteit geword? Het jy dalk ‘n slaaf daarvan geword en is dit al waarom jou lewe draai?

Mattheus 6:24 sê “Niemand kan twee here dien nie, want of hy sal die een haat en die ander liefhê, of hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” Volgende keer wanneer jy weer ‘n fliek kyk of ontspan terwyl jy op sosiale media ‘scroll’, vra jouself af: “Waarmee vul ek my verstand? Waaraan dink ek nadat ek ‘n fliek of televisieprogram gekyk het? Dink ek aan goeie, opbouende dinge of beskuldig my gewete my alweer daarvan dat dit wat ek gekyk het, verkeerd was? Is die vermaak wat ek kies besig om my te vorm om soos die wêreld te wees?” Wanneer jy hierdie vrae eerlik beantwoord, kan dit jou help om te sien of jy enige veranderinge moet maak ten opsigte van dit waarmee jy jouself besig hou.

Laat ons in alles wat ons doen God se naam verheerlik, selfs wanneer ons ontspan, sodat ons ‘n voorbeeld is vir ander en Sy lig laat straal in ‘n wêreld waar ons slawe geword het van vermaak!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp