Een Middelaar tussen God en mens

In die brief aan Hebreërs word Christus as ons Middelaar aangedui. Die uitdrukking ‘Middelaar van die verbond’ vind ons in Hebreërs 8:6 en 9:15.

Een Middelaar tussen God en mens
Photo by Aaron Burden / Unsplash

Geskryf deur Martha de Winter, VGK Pretoria

In die brief aan Hebreërs word Christus as ons Middelaar aangedui. Die uitdrukking ‘Middelaar van die verbond’ vind ons in Hebreërs 8:6 en 9:15.

‘n Middelaar is ‘n tussenganger wat as ‘n skakel tussen twee partye optree. Die middelaar help die twee partye om hulle met hul verskille te versoen. “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Timotheüs 2:5). Ons is besmet met sonde en daarom het ons Christus as Middelaar nodig om vrede tussen God en ons te bevestig.

Die mens se sonde is so oorweldigend, dat geen goeie werke van ons of die navolging van ‘n stel godsdienstige reëls ons regverdig by God maak nie. Artikel 26 van die Nederlandse Geloofsbelydenis handel oor Christus se voorspraak wat hy vir ons by God is. Daar is dus geen ander toegang tot God nie as deur Jesus Christus. Ons ontvang vergewing as ons, ons sonde bely. Dit vind slegs plaas omdat ons ‘n “helper” het wat vrede met God het (Efesiërs 2:14: “Want Hy is ons vrede”). Die mens kan nie op hul eie hul met God versoen nie. God kan ook nie sonde vergewe sonder dat geregtigheid plaasvind nie.

’n Middelaar was nodig om dinge reg te maak, iemand wat volkome sondeloos was, maar tog volkome mens ook was. Jesus was volkome in staat om die sondes van die wêreld op hom te neem. Gelukkig hoef ons as sondige mense nie op ons eie optrede staat te maak nie.

Christus, ons Voorspraak, verstaan ook presies wat in ons lewe aangaan. Hy is nie ver van hierdie lewe van ons verwyder nie. Hy het self ook op hierdie aarde geleef en gely, daarom het Hy ook volkome begrip vir ons huidige situasie op aarde. Slegs die offer van die sondelose, vlekkelose Seun van God kan ten volle die losprys betaal wat nodig is om mense vry te maak van sonde en die ewige dood. Jesus het ons straf op Homself geneem, wat dit vir ons moontlik maak om vergifnis van sonde en vryheid van die vernietigende beheer daarvan te ervaar.

Christus is ons enigste volmaakte Middelaar. Geen mens kan ooit in Christus se plek staan nie. Hy alleen staan ​​in die gaping tussen God en mens. Hy alleen voldoen aan die regverdige vereistes van die wet, wat die weg oopmaak na God se teenwoordigheid vir eens en vir altyd deur Sy kruisdood en opstanding tot lewe. Ons moet ons aandag rig op Christus. Ons moet ons besig hou met die Woord van die Here, want dan bly jou aandag op jou enigste Middelaar. Soos ons herinner word in Johannes 16:23: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.”  Hy is die verskil tussen ewige redding en ewige dood. Daar is uiteindelik net Een aan wie ons behoort: aan Jesus Christus (1 Korintiërs 3:23: “maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God”)!

In Christus lê die oproepe en die beloftes van die HERE God in hulle volle krag by ons op die tafel. Christus staan in die middel van die verhouding tussen God en die sondige mens. Dit is Hy in wie God se versoening na ons kom. Christus is ons Middelaar van die verbond van Genade.

Christus het namens die mens gewerk en ‘n nuwe en beter verbond gebring met die versekering van die ewige lewe vir almal wat op Hom vertrou.

Bronne:

Got Questions. 2020. https://www.gotquestions.org/one-mediator-between-God-and-man.htmlDatum van toegang: 22 September 2022

Ds. C Kleijn. 2006. Christus is ons enigste en volmaakte Voorspraak.

Ds PG Boon. 2010. Christus is ons enigste Middelaar en Voorspraak.

Ds. HH van Alten. 2011. Ek deel nie my Christus nie.

Ds. PG Boon. 2021. Christus is ons Voorspraak.

N. Hendriks. Daar Word vir Ons Gebid! https://www.christelikemedia.org/article/daar-word-vir-ons-gebid Datum van toegang: 22 September 2022

T Brienen. 2018. Die Middelaar van die Verbond.