Evangelisasie onder die Jode – Erken vir Christus!

Die Jode is ‘n besondere volk wat ‘n belangrike rol speel in die geskiedenis van die wêreld en in God se verlossingsplan vir die mensdom.

Evangelisasie onder die Jode – Erken vir Christus!
Photo by Noah Holm / Unsplash

Geskryf deur Ruben Agema, VGK Pretoria

Die Jode is ‘n besondere volk wat ‘n belangrike rol speel in die geskiedenis van die wêreld en in God se verlossingsplan vir die mensdom.

Volgens 1 Korinthiërs 10:32, kan ons in Nuwe Testamentiese tye die wêreldbevolking in drie groepe verdeel naamlik Jode, heidene en Christene. Maar wie is ‘n Jood, wie is ‘n heiden, en wie is ‘n Christen? Hoe kan ‘n Jood Bybels gedefinieer word? Hierdie kwessies is veral belangrik vir mense wat betrokke is by Joodse evangelisasie, want vandag word die vraag dikwels gevra: “Hoe is dit moontlik dat iemand beide ‘n Jood en ‘n Christen kan wees?”

Wie is ‘n Jood?

‘n Jood is ‘n lid van die 12 stamme van Israel, ‘n Israeliet, ‘n lid van ‘n volk wat in Palestina bestaan het vanaf die 6de eeu voor Christus tot die eerste eeu na Christus. ‘n Persoon wat as gevolg van herkoms of bekering aan die voortsetting van die antieke Joodse mense behoort, is iemand wie se godsdiens bekend staan as Judaïsme.

Wie is ‘n heiden?

In vandag se tyd beskryf die woord heiden, goddelose optredes in die algemeen, veral onbeskaafde en barbaarse gedrag waaraan agterlike mense hulle maklik skuldig maak. In ‘n geestelike sin dui die woord ‘heiden’ egter op almal wat buite die Christelike geloof staan en dinge leer wat teen die Bybel ingaan. Dit het baie ooreenstemming met die Ou Testament – almal wat buite die Joodse geloof staan en hulle besig hou met dinge wat teen die leer ingegaan het is as heidene geag.

Wie is ‘n Christen?

‘n Mens kan nie fisies as ‘n Christen gebore word nie. Kenmerke van ‘n ware Christen is wel dat jy glo in Christus as jou Verlosser, jy wys jou geloof in jou werke en dat jy nie volmaak is nie en bly vlug na Christus toe.

Hoe verskil dan die Christen se geloof met die van die Judaïsme?

Die grootste verskil is dat hulle nie in Jesus Christus se verlossingswerk vir ons glo nie, en is dit juis dan nie die belangrikste nie?

Christene glo dat hulle nie deur hul werke gered word nie, maar deur geloof alleen! So is die Christendom die ware en ewige Godsdiens en die Judaïsme ‘n afwykende sekte. Daar is talle Jode regoor die wêreld wat hulleself tot die Christendom bekeer.

Die Bybel leer nie dat alle verskille tussen Jode en heidene uitgewis word wanneer hulle gelowiges word nie. Hoewel dit waar is dat die weg tot redding dieselfde is vir beide Jood en heiden, beteken dit nie dat alle ander verskille tussen hulle terselfdertyd daardeur opgehef word nie, net so min as wat die verskille tussen vryman en slaaf, man en vrou, opgehou het om te bestaan (vgl. Galasiërs 3:28). Die weg tot redding, lidmaatskap van die Liggaam van Christus en geestelike volwassenheid is dieselfde vir beide Joodse gelowiges en heidengelowiges, maar op ander  terreine bestaan daar steeds verskille tussen hulle.

Die skeiding tussen Israel en die volke is weggeneem. Die Ou Testamentiese Israel word vervang met ’n Nuwe Testamentiese volk wat bestaan uit bekeerde Jode en gelowiges uit die heidendom. Israel is die erenaam van die gemeente van Christus. Ware gelowiges het tog vir Abraham as vader. Paulus betoog dit uitvoerig in sy briewe aan die Galasiërs en veral ook aan die gemeente in Rome. Is dit nie deel van die evangelie waarvoor hy hom as apostel nie hoef te skaam nie (Romeine 1:16–17)? Die evangelie is ’n krag van God eerste vir die Jode, maar sekerlik ook vir die heidene wat saam met die Jode daarop mag roem dat hulle saam vir Abraham as vader het. Vader van alle gelowiges – Jood en nie-Jood. In Christus het die onderskeid tussen Jode en nie-Jode finaal verdwyn – in Christus is daar nie meer Jood en nie-Jood nie (Galasiërs. 3:28).

By ons behoort daar egter wel die opregte en ernstige begeerte te wees vir die bekering van die Jode. Dit vra van ons ’n lewe vanuit die evangelie en ’n liefdevolle verkondiging daarvan aan die Jode, sodat hulle jaloers gemaak sal word (Romeine 11). Hulle moet besef dat hulle hul erfporsie verspeel wanneer hulle nie glo in en leef vanuit die trou van die Here wat in die evangelie bekend gemaak word nie.

Ons het dus vandag ‘n belangrike taak as ons evangeliseer onder die Jode wat Judaïsme aanhang, om hulle te oortuig van Christus  se verlossingswerk en dat ons redding afhang van ons geloof daarin. Almal wat die woord hoor en Jesus as die Messias aanvaar, het die ewige lewe. Dit het die taak van die kerk geword:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mattheus 28:19).

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp