Die Rol van die Vrou in die Kerk, Huishouding en Samelewing

In God se soewereine ontwerp is mans en vrouens verskillend geskape, maar met unieke rolle wat mekaar aanvul net soos God die kerk aanvul. Alhoewel dit verskil in funksie en verantwoordelikheid, is die vrou se rol in die kerk, huishouding en samelewing nie minder belangrik of minder waardevol nie.

Die Rol van die Vrou in die Kerk, Huishouding en Samelewing
Photo by Ben White / Unsplash

Geskryf deur Kirsten de Beer, VGK Bellville

In God se soewereine ontwerp is mans en vrouens verskillend geskape, maar met unieke rolle wat mekaar aanvul net soos God die kerk aanvul. Alhoewel dit verskil in funksie en verantwoordelikheid, is die vrou se rol in die kerk, huishouding en samelewing nie minder belangrik of minder waardevol nie. Die moderne feministiese beweging vertel ‘n verhaal van onderdrukking, maar God het die rol van ‘n vrou so gemaak om haar waardevolle talente te beskerm, sodat sy mag floreer in sy goddelike plan. Inteendeel, die Bybel verhef die vrou wat haar Godgegewe rol aantrek en Hom verheerlik daarin (Spreuke 31:10-31).

Christenvroue word hartlik aangemoedig om honger te wees vir die lering van die Woord. In die kerk word vrouens aangemoedig om te groei in kennis en begrip en om wysheid te deel met jonger susters in die geloof.

Alhoewel daar ‘n beperking bestaan wat vroue verbied om gesag oor die kerk uit te oefen, is dit nie ‘n ontkenning van hulle geestelike waarde nie. Dié konsep vir die bediening is deur God ingestel. Die manlike geslag is aangestel oor die gesin, soos God oor sy bruid (die kerk), dus is dit die man se taak om sy gesin geestelik te lei in die weë van die Here.

Vrouens kan beslis in die kerk lering gee, maar net in bedienings wat nie gesag uitoefen oor mans nie (Titus 2:3-4). Paulus het aangeneem dat die vrouens in Korinthe sal profeteer (1 Kor. 11:4–5) en deur die hele Skrif is vrouens medewerkers in diens van die koninkryk (Eks. 15:20–21, Kol. 3:16). Dit is nie 'n beperking nie, maar 'n roeping tot ‘n ander soort diens - een wat ‘n kritieke rol speel in die lewe en gesondheid van God se kerk.

Die huishouding is ‘n mikrokosmos van die samelewing waarin die rol van die vrou en moeder noodsaaklik is. Die vrou se rol is om onderdanig te wees aan haar man in die gesin, net soos die kerk onderdanig is aan Christus. Sy is gemaak om kinders te dra en saam met haar man hulle groot te maak in die weë van die Here.

Die kerk het moeders nodig om vir die familie van God te sorg. Ons moet ons verantwoordelikheid aanvaar en gretig soek na wie die Here wil hê ons moet koester. Daar is geen onvrugbaarheid onder gelowige vrouens nie. Deur die evangelie word almal moeders op verskeie maniere. Anders as biologiese moederskap, kan geestelike moederskap vir honderde, selfs duisende, geslagte geweldige waarde in hou.

Aan die ouer vrouens in die geloof, sien jy die belangrikheid van jou wysheid en voorbeeld? Geestelike babas het hulp nodig om God se Woord oop te maak, om in vrede met God en ander te lewe en om die lig te wees in die donker wêreld. Babas het moeders nodig.

Om medeskeppers te wees met die God van die heelal deur nuwe lewe te kan verwek en te dra, is ‘n geweldige seën. In hierdie samelewing het die rol van moederskap in groot oneer en verwaarloosheid verval. As Christene moet ons onthou: die duiwel is altyd daarop uit om die beeld van God in die wêreld af te breek. So het hy ook gesonde vrouwees afgebreek. Die beeld van die vrou word afgebreek deur pornografie, egskeidings wat ongeveer 20 000 keer per jaar in Suid-Afrika plaas vind en aborsies wat ongeveer 200 000 keer per dag wêreldwyd gebeur.

Eva se rol was om haar Godgegewe vroulikheid te aanvaar. Ons is gemaak om God se instrumente te wees. Hoe kan jy die sout van die wêreld wees as jy nooit uit die soutpot kom nie? Hoe kan jy die lig van die wêreld wees as jy bedek word met 'n mandjie? Hoe kan jy die suurdeeg wees as jy nooit deur die deeg versprei nie? Dit is tyd dat ons, as Christendogters, vrouens en moeders ons lewens absoluut oorgee vir die wil en plan van ons Here God.

Ons samelewing het die invloed en optrede van Christenvroue dringend nodig. Dit is ons plig as Christenvroue om die helder lig van God en sy karakter aan die wêreld te reflekteer.

Bronne

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp