Ek is die Lig van die Wêreld

Ek is die Lig van die Wêreld
Photo by Victoria Medvedeva / Unsplash
“En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre: die eerste dag.”
Genesis 1:3–5

Toe die Here in die begin die aarde geskep het, lees ons in Genesis dat Hy gesê het dat daar lig moet wees. In Genesis 1:2 word daar beskryf hoe die aarde woes en leeg was en hoe duisternis oor die wêreldvloed gelê het. God het beveel dat daar lig op die aarde moet wees. Hy het die lig van die duisternis geskei en die lig “dag” genoem en die duisternis “nag”. Ná die dag kom die nag. 

Wanneer dit donker is en jy nie kan sien nie, skakel jy ’n lig aan sodat jy beter kan sien. Wanneer dit byvoorbeeld donker is en jy op die pad ry, skakel jy jou voertuig se ligte aan sodat jy kan sien. Straatligte skakel ook outomaties aan om ons te help om te sien en ongelukke te voorkom. Ons het lig nodig om te kan sien.

God wou die lewe vir ons makliker maak. Dit is die fisiese betekenis van lig. Maar wat is die geestelike betekenis van lig?

“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Johannes 8:12

Jesus Christus is die Lig van die wêreld. Hy is ons Helper en die Lig op ons pad. Dit is die geestelike betekenis van lig. Wanneer Hy by ons is, lei Hy ons en help Hy ons om op die regte pad te wandel. Soos God in die begin die lig van die duisternis geskei het, so wys Christus ook vir ons die verskil tussen reg (lig) en verkeerd (duisternis).

Christus is die ware Lig wat na die wêreld gekom het om sy Lig vir ons te laat skyn. Johannes 1:11–13 verduidelik dat almal wat Hom aangeneem het en in sy Naam glo, dat Christus aan hulle die reg gee om kinders van God te word. Om in Jesus Christus, die Lig, te glo, beteken dat ons Hom volg en op Hom vertrou vir die ewige lewe.

Verder maak lig dit vir ons moontlik om die waarheid te sien. Dink byvoorbeeld daaraan dat jy alleen in ’n donker huis slaap en iets in die kombuis val. Jy kan bang word omdat jy nie weet wat geval het nie. Jy kan dit nie sien nie; jy hoor net die geluid. Die onbekende kan ons bang maak. Wanneer jy egter die lig aan skakel, kan jy sien wat die geluid veroorsaak het—byvoorbeeld ’n teelepel wat geval het.

Die lig help ons dus om die waarheid te sien en tussen waarheid en leuens te onderskei. Ons kan ook beter tussen reg en verkeerd onderskei, onder andere wanneer ons dink aan die mense met wie ons ons omring, soos ons vriende. As jy bely dat Christus die Lig op jou pad is, maar doelbewus in die duisternis leef, is jy nie eerlik teenoor God, die gemeente of jouself nie.

Laastens het die geestelike betekenis van Jesus as die Lig van die wêreld ook ’n praktiese toepassing. Ons kan ander lei en vir hulle rigting wys. Ons kan hulle van die regte pad vertel en hulle deur ons lewenswyse in die regte rigting wys. In Mattheüs 5:14–16 leer Jesus ons dat ons die lig van die wêreld is en moet wees. Wanneer ons lig voor ander skyn en hulle ons goeie werke sien, kan hulle ons Vader, wat in die hemel is, verheerlik.

Jesus Christus is ewig, en die lewe wat Hy gee, is ewige lewe. Hy is die Lig van die wêreld. Daarom moet ons Hom volg en in sy lig wandel. Deur sy genade kan ons aanhou om op die pad van die lig te loop.

“I once was lost, but now I’m found; Was blind, but now I see.”

Coram Deo

U Woord is ’n lamp wat die donker verdryf,’n lig wat die pad vir my helder wys. U raad is betroubaar, want U is getrou. Heer, deur u genade wil ek daarby hou.

U Woord is ’n lamp; dit wys my die weg. Maak lig oor ’n saak, laat my die regte keuse maak. Dit is waar en ewig; daarop kan ons bou. Heer, deur u genade wil ek daarby hou.

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, ons dank U vir u Woord en dat U deur u Woord aan ons openbaar wat ons moet weet. U Woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Dankie, Vader, dat ons deur u lig, wat ewig skyn, kan sien waar ons verkeerd gaan. Ons vra dat U ons ook as instrumente sal gebruik om u lig te laat skyn. Help ons, Here, om aan te hou leef volgens die voorbeeld van ons Here Jesus, die Lig van die wêreld en die Bron van die lewe. Dit bid ons in Christus se Naam. Amen.

Bronne

Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius