Hoe om jou naaste lief te hê
Ons weet ons moet ons naaste liefhê, want ons hoor dit al ons hele lewe lank by die kerk, die skool en by die huis. Maar hoe doen ’n mens dit nou eintlik?
Ons weet ons moet ons naaste liefhê, want ons hoor dit al ons hele lewe lank by die kerk, die skool en by die huis. Maar hoe doen ’n mens dit nou eintlik? Dit is maklik om te sê dat ons ander mense moet liefhê, maar wanneer iemand ons seermaak, irriteer, teleurstel of eenvoudig baie anders as ons is, word hierdie opdrag baie moeiliker. Jesus vat die hele wet saam in die opdrag: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” en “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheus 22:37-40).
Enige vorm van ware liefde begin by God. Ons kan ons naaste liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. Naaste liefde is daarom nie bloot ’n gevoel wat in ons ontstaan wanneer ons iemand besonder aangenaam vind nie. Dit is ’n antwoord op God se genade en ’n teken van dankbaarheid vir wat Hy reeds aan ons gedoen het. 1 Johannes 4:19 sê: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” Ons moet dus eers die genade en liefde van God in ons eie lewe raaksien en leer verstaan voordat ons ons naaste werklik kan liefhê. God se liefde word vir ons geopenbaar in sy Woord en veral in die evangelie van Jesus Christus.
Johannes 3:16 herinner ons aan die omvang van God se liefde: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hierdie liefde is onverdiend. Romeine 3:24 sê dat ons “deur sy genade sonder verdienste geregverdig” word deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Dit beteken dat God ons nie liefgehad het omdat ons dit verdien het nie. Die kruis wys juis vir ons dat genade beteken om goedheid te ontvang wat ons nie kan verdien nie. Daarom behoort ons ook bereid te wees om liefde aan ander te bewys selfs wanneer hulle dit nie volgens ons oordeel verdien nie.
Jesus Christus is self ons grootste voorbeeld hiervan. Hy het Homself verneder en die gestalte van ’n dienskneg aangeneem. Sy hele lewe wys dat liefde nie bloot iets is wat ’n mens voel nie, maar iets wat jy doen. Hy het sy dissipels gedien en selfs Judas se voete gewas, alhoewel Judas Hom sou verraai. Hierdie voorbeeld wys vir ons hoe anders Christelike liefde is. Ons liefde vir ander kan nie altyd wag totdat hulle eers verander, jammer sê of bewys dat hulle ons liefde waardig is nie. Christus het Homself gegee. Sy liefde was opofferend.
Naaste liefde vra daarom dat ons onsself verloën. 1 Korintiërs 13:5 leer dat liefde “nie sy eie belang soek nie”. Dit beteken nie dat ons geen grense mag hê of dat ons onreg moet goedpraat nie. Dit beteken wel dat ons nie voortdurend moet vra: “Wat kry ek hieruit?” of “Wat doen hierdie persoon vir my?” nie. Ons moet ook leer vra: “Hoe kan ek hierdie persoon dien? Hoe kan ek sy of haar beswil soek?” Soms beteken dit om te luister wanneer ons eerder wil praat. Soms beteken dit om te vergewe wanneer ons eerder kwaad wil bly. Soms beteken dit om iemand te help wat ons nie eers bedank nie.
Ons selfsugtige natuur maak hierdie opdrag besonder moeilik. Van nature wil die mens die beste vir homself hê: die grootste huis, die mooiste motor, die beste posisie, erkenning en sukses. Ons wil hê dat ons behoeftes eerste moet kom. Tog sê Galasiërs 5:14: “Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Om iemand lief te hê soos onsself beteken dat ons ook aan ons naaste die goeie dinge gun wat ons vir onsself begeer. Filippense 2:3-4 sluit hierby aan wanneer Paulus ons leer om nie net na ons eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
Dit is belangrik om te besef dat naasteliefde nie by goeie wense en gedagtes eindig nie. Liefde moet sigbaar word in ons dade. Jakobus 2:14-17 wys daarop dat dit nie genoeg is om iemand goeie wense toe te spreek as ons niks doen om in sy nood te help nie. Ons kan dus nie bloot sê dat ons mense liefhet nie; ons liefde behoort sigbaar te word in hoe ons praat, hoe ons optree, hoe ons ander behandel en hoe bereid ons is om te dien. ’n Mens kan sê: “Ek wens hom net die beste toe,” maar ware liefde vra dikwels dat ons iets van onsself gee.
Daar is egter nog ’n belangrike onderskeid. Om iemand lief te hê beteken nie dat ons alles wat daardie persoon doen, moet goedkeur nie. Christelike liefde en waarheid hoort bymekaar. Ons kan iemand liefhê en tog sê dat ’n sekere optrede verkeerd is. Efesiërs 4:15 praat daarvan dat ons “die waarheid in liefde” moet betrag. Liefde beteken dus nie dat ons sonde ignoreer of onreg aanvaar nie. Dit beteken dat selfs wanneer ons iemand aanspreek, ons dit moet doen met die begeerte dat dit vir daardie persoon goed sal wees en nie bloot omdat ons hom wil afbreek nie.
Ons moet egter eerlik wees oor die mens se onvermoë om hierdie liefde volmaak uit onsself te leef. Ons sonde maak ons selfgesentreerd. Ons natuurlike neiging is om mense te beoordeel volgens wat hulle aan óns doen en volgens of ons van hulle hou. Daarom is die vraag nie net: “Hoe kan ek harder probeer om almal lief te hê?” nie. Ons moet eerder vra: “Hoe verander God my hart sodat ek ander kan liefhê?” Die Heilige Gees werk in die gelowige en bring vrug voort wat ons eie natuurlike vermoëns oortref. Galasiërs 5:22-23 noem onder andere liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing as vrug van die Gees.
Uiteindelik is naasteliefde nie ’n bewys van hoe goed óns is nie, maar ’n vrug van God se genade in ons. Ons liefde begin by God, word sigbaar in Christus se voorbeeld en word deur die Heilige Gees in ons harte gewerk. Ons sal hierin dikwels faal, maar die evangelie herinner ons telkens daaraan dat ons nie op ons eie volmaaktheid staatmaak nie. Ons behoort aan Christus. Daarom kan ons telkens weer opstaan, ons sonde bely, God se genade ontvang en weer probeer om ons naaste lief te hê. Nie omdat elke mens maklik is om lief te hê nie, maar omdat Christus ons geleer het wat ware liefde is.
Geskryf deur Hilga Bunk en Alisha Drijfhout, VGK Pretoria