Die regsaak van God

Wat is ‘n regsaak nou eintlik? Wel, in ons aardse lewe is dit ‘n saak waar twee partye teenwoordig is en daar dan, op ‘n wettige manier, besluit word watter party skuldig is of vrygespreek word.

Die regsaak van God
Photo by Tingey Injury Law Firm / Unsplash

Geskryf deur Marillie Pouwels, VGK Pretoria-Maranata

Wat is ‘n regsaak nou eintlik? Wel, in ons aardse lewe is dit ‘n saak waar twee partye teenwoordig is en daar dan, op ‘n wettige manier, besluit word watter party skuldig is of vrygespreek word. Ons weet egter dat korrupte en oneerlike hofsake dikwels voorkom. Leuens, omkopery en voortrekkery is dikwels aan die orde van die dag.

God se regsaak werk min of meer dieselfde, maar daar is ‘n belangrike verskil…

God is die hoogste gesag

“In die begin het God die Hemel en aarde geskape.”(Genesis 1:1) So begin die Woord van God. Reeds in die eerste vers kan ons agterkom dat Hy ‘n groot en Almagtige God is. Hy het alles gemaak en dit is Syne. Dit was baie goed. Daarom ook is Hy die hoogste Regter wat oor alles regeer en oor alle sake beslis. Ja, God se regsaak werk dieselfde as die hof, maar ons kan onsself daaraan troos dat Hy ‘n regverdige, liefdevolle en getroue God is. Hy het  ‘n  persoonlike band met sy  kinders en ken elke een van ons deur en deur. Hy weet wat goed is vir ons en sal ons in liefde hanteer.

In die paradys was alles perfek en sonder sonde, maar die Here het die mens geskape met ‘n vrye wil en hulle het gekies om in sonde te val. Hulle eet van die vrug van die boom van goed en kwaad.  Regsake was dus eers na die sondeval nodig.

‘n Regsaak gebeur wanneer iemand verkeerd doen in die oë van die Here. Dit is vir Hom ‘n gruwel en moet reggestel word. Die Here se regsaak is nie vernietigend nie, dit is tot elkeen van Sy kinders se beswil. So begin die eerste regsaak van God. Hy straf Adam en Eva vir hulle optrede. Hulle word die paradys belet. Eva sal met smart kinders baar en Adam sal in die sweet van sy aangesig vir hulle kos voorsien (Genesis 3). Hy vervloek die slang.

Die Wet as riglyn

In die wêreld se hof word  verdagtes op grond van spesifieke landswette skuldig bevind of vrygespreek. Hierdie landswette verskil oor die wêreld heen. In party wêrelddele word aborsie byvoorbeeld gewettig, terwyl dit in ander lande ‘n ernstige oortreding is en daarom strafbaar.

Die Here maak Sy wette vir ons bekend in Eksodus 20 en Deuteronomium 5, waar Hy dit vir Moses op kliptafels geskryf het om vir Sy volk voor te lees. Die 10 Gebooie is vir die gelowige ‘n rigtingwyser vir sy/haar lewe. Die Here het die 10 gebooie ingestel om ons vas te hou en teen onsself en ons sondige aard te bewaar.

God het alles en almal geskape. Daarom geld sy wette vir almal. Hy regeer oor die hele wêreld. Hy is die enigste ware Regter en Sy Regspraak is bo alles en almal verhewe.  Hy eis van ons volkome gehoorsaamheid.

Die Here weet egter dat ons nie daartoe in staat is om ons eie sondige laste te dra nie, daarom stuur Hy Sy eie eersgebore Seun om ons van die lewenslange tronkstraf te verlos.

God het ‘n regsaak teen ons omdat ons gesondig het en ons kan net vrygespreek word deur Jesus Christus. Ons moet tot die volle besef kom dat ons verlore mense is sonder God. Dat sonder God se genade ons eendag vir ons eie sondes moet betaal. Hy het ons gered van die bose en daarvoor moet ons daagliks dankbaar wees. Leer elke dag uit Sy woord. Die 10 gebooie is vaste wette wat Hy vir ons gegee het as riglyn, maar die hele Bybel is vol voorbeelde van regsake van God en daaruit kan ons Hom ook leer ken. Hy straf die sonde en bring verlore skape weer terug op die pad. Soek na dit wat God van jou verwag en streef daarna om uit dankbaarheid vir Hom te lewe, sodat jy nie soos ‘n verlore skapie van die pad af dwaal nie. Hy het nie nodig gehad om vir ons sondes te sterf nie, maar Hy is ‘n regverdige liefdevolle God en ons is Sy kinders.

Doen wat GOD reg ag, nie wat reg lyk in die sosiale situasie waar jy nou is nie. Streef daarna om ‘n pad saam met Hom te stap en jou verhouding met jou Vader op te bou. Hy het vir jou, Sy kind, die ewige lewe bewerk. Lewe dan so dat wanneer die groot Oordeelsdag kom, jy met ‘n vrymoedige hart rekenskap kan gee van jou sondes voor die Regter, die Skepper van Hemel en aarde.

Bronnelys: