Die opstanding van Jesus is die gelowige se bron van lewe

Die hiernamaals is ‘n skrikwekkende gedagte. Elke mens verstaan dat die dood ‘n onvermydelike gedeelte van die lewe is. Meeste is bang daarvoor. Dit is ‘n misterie, want daar is so baie teorieë van wat met ons gebeur as ons dood gaan.

Die opstanding van Jesus is die gelowige se bron van lewe
Photo by Aaron Burden / Unsplash

Geskryf deur Biance De Beer, VGK Kaapstad

Inleiding

Die hiernamaals is ‘n skrikwekkende gedagte. Elke mens verstaan dat die dood ‘n onvermydelike gedeelte van die lewe is. Meeste is bang daarvoor. Dit is ‘n misterie, want daar is so baie teorieë van wat met ons gebeur as ons dood gaan. Wanneer dit kom by gesprekke oor die dood, gaan dit meestal oor die dinge wat agtergelaat word: jou familie, jou goed, jou nalatenskap.

Maar wat dan van na die dood? Wat is die doel van lewe, as alles maar net eendag gaan vernietig word deur een of ander natuurlike ramp? Hoe leef mens doelgerig met die wete dat jou liggaam elke dag ouer en sieker word, en eendag sterf?

1. Deur Jesus se opstanding het ons oorwinning oor die dood

God het die mens geskep om Hom te aanbid en Sy heerlikheid uit te straal. Ons was goed in God se oë en heeltemal perfek.

Adam en Eva was egter ongehoorsaam aan die wet van God en het in sonde geval. Skaamte het die mens oorval. Sonde het korrupsie van die natuur en die menslike hart veroorsaak. En deur die sonde het verval en die dood in die wêreld gekom.

Die dood het die natuur en die mensdom binnegedring, wat orals sigbaar is. In die natuur hang als af van oorlewing. Diere verskeur en verslind mekaar om bo ander in die voedselketting te bly. In die wêreld, maak mense hoe hulle wil en elkeen dra net sy eie belang op sy hart. Bowenal het die mens geestelik gesterf en kontak met sy Skepper verloor.

Maar God het van ewigheid af beskik dat Jesus sou kom om te sterf. Deur Sy bloed kan ons weer met God versoen word. Want deur Sy opstanding sou Hy die fisiese en die geestelike dood vernietig.

Jesus het die oordeel wat ons toekom op Hom geneem en daarvoor betaal. Deur Sy dood is ons vergewe en deur Sy opstanding staan ons nou heilig voor God (Rom 4:25). Nou kan ons deur Sy opstanding uit die geestelike en fisiese dood opgewek word.

Daardeur kan ons nou ʼn lewendige verhouding met God hê. En ook ‘n lewende hoop om eendag uit die dood opgewek te word. Deur Jesus se opstanding het sonde en die dood nie meer ‘n houvas op ons nie.

2. Deur Jesus se opstanding het ons ‘n nuwe lewe

As nageslag van Adam, word almal in sonde gebore en ontvang.

Dit beteken die mens is geestelik dood vir die dinge van God. Ons het geen begeerte na die Woord van God en om Hom te gehoorsaam nie. In ons diepste wese het ons sleg geword. Ons harte was verrot.

Dit het ons verhouding met God en mekaar beskadig. Ons het ander dinge buiten God begin aanhang. Selfsug, afgodery en seksuele sondes.

Kyk byvoorbeeld hoeveel haat en nyd daar in ons wêreld is. Identiteitlose mense probeer identiteit vind in hul sondes, soos byvoorbeeld die LGBTQ+ gemeenskap.

Die definisie van menslike lewe is deesdae so afgewater, dat aborsie op amper enige fase van ‘n baba se lewe moontlik is.

Goddank vir die dood en opstanding van Jesus. Daardeur kan mense gered en verander word.

Kyk byvoorbeeld na Paulus. Iemand wat Jesus gehaat en die kerk vervolg het. God het hom verander na iemand wat Jesus passievol liefgehad het.

Deur die Gees verenig God ons met die opstanding van Jesus. Daardeur verlos Hy ons van ons ou sondige bestaan, om in ‘n nuwe lewe te wandel. Deur Jesus se dood kan ons ou, sondige mens, wat lief is vir die sonde, sterf. En deur Sy opstanding, kan ons as nuwe mense opstaan, wat lewe vir die dinge van God (1 Pet 4:1-2; Kol 3:1-4).  Iemand wat die lewe en liefde van God uitstraal rondom hom/haar. Iemand wat nederig en Godvresend is, en die Woord van God liefhet en gehoorsaam. En ook sy naaste liefhet soos wat Jesus ons liefgehad het.

Ons fokus moet wees om God se wil te verstaan. Dit vind ons net deur daaglikse Bybelstudie, oordenking van God se Woord, gebed en die samekoms van die heiliges.

3. Deur Jesus se opstanding het ons die ewige lewe

Nie net gee Jesus se opstanding ons ‘n nuwe lewe hier en nou nie, maar ook die vaste hoop op ‘n ewige lewe, wanneer Hy weer terugkom. As gevolg van die hoop, het ons ‘n passie vir die goeie nuus dat ons gered is. Dit word die enigste rede waarom die lyding hier op aarde die moeite werd is.

Hy het liggaamlik gesterf sodat Hy met ‘n nuwe verheerlikte liggaam kon opstaan. Hy het ook met dieselfde liggaam opgevaar na die hemel, waar Hy aan die regterhand van God sit. Sy liggaamlike verheerliking beteken dat ons ook met ‘n verheerlikte liggaam opgewek sal word. Ons siel sal weer met ons eie liggaam verenig word, maar hierdie liggaam sal ‘n verheerlikte liggaam wees.   Ons weet nog nie hoe dit sal lyk nie, maar ons kan verseker wees dat dit vêr beter sal wees as ons aardse liggaam.

As versekering daarvan, het Hy die Heilige Gees as ‘deposito’ gestuur om in ons te woon. Deur die Gees ontvang ons die krag om God te dien in ons roeping as beelddraers (1 Kor 15:58).

Daardeur word ons hemelse burgers, wat die terugkeer van ons Koning verwag. In ‘n oogwink sal die wat lewe verander word, en die wat reeds dood is, verenig word met ‘n nuwe verheerlikte liggaam. Ons gaan dan op die nuwe hemel en aarde saam met ons geliefdes, wat in Christus gesterf het, woon.

Daar gaan geen dood wees nie, want Jesus gaan self ons trane afdroog en alle pyn en smart wegvat. Ons nuwe liggaam sal geen sonde ken nie, maar slegs liefde en aanbidding van ons Here Jesus Christus.

Ten slotte

Ons kan ons hoop vind in die kruising en opstanding van Jesus, want deur Hom is ons vergewe. Die opstanding gun ons die moontlikheid om gered te word deur die genade wat God ons skenk. Ons word eenmalig geheilig deur die werk van Jesus. En dan word ons daagliks deur die Heilige Gees gely in ‘n heilige lewe om God te verheerlik.

Deur Jesus Christus is ons erfgename van die ewige lewe, ‘n geskenk wat net moontlik is deur die opstanding. Ons word ook deel van God se bruid, sy kerk. Ons word geroep om te dien, om ‘n lig en sout in die wêreld te wees, selfs deur die bespotting en veragting van die wêreld. En deur dit alles, leef ons met die vaste hoop dat ons Here Jesus Christus weer gaan terugkeer om sy uitverkorenes, sy bruid, te kom haal.