Die mag van die tong

“Maar die tong kan geen mens tem nie, dit is ‘n onbedwingbare kwaad vol dodelike gif.” (Jakobus 3:8) Oordryf hierdie vers nie te veel nie? Het die tong dan so baie mag? Is die tong so dodelik en gevaarlik soos wat ons hier lees?

Die mag van die tong
Photo by Oleg Laptev / Unsplash
“Maar die tong kan geen mens tem nie, dit is ‘n onbedwingbare kwaad vol dodelike gif.” (Jakobus 3:8) Oordryf hierdie vers nie te veel nie? Het die tong dan so baie mag? Is die tong so dodelik en gevaarlik soos wat ons hier lees?

Geskryf deur Saskia Moes, VGK Pretoria

Boosheid van die tong

“Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.” (Spreuke 13:3) Die tong het die mag om ons weg te ruk van die ewige lewe saam met God. Ons moet besef dat die gebruik van ons tonge baie ernstige gevolge vir ons toekoms inhou. Dit is ‘n saak van lewe of dood. Ons lees in Mattheus 15:18: “Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.” Dit wat ons sê en hoe ons iets sê, weerspieël wat in ons harte aangaan. Dit dui aan hoe ons in ons verhouding met God staan. Die gebruik van ons tonge kan ons werklik onrein en vuil voor God laat staan.  Dat ons self die verantwoordelikheid moet neem vir ons woorde, blyk duidelik uit Spreuke 18:21: “Dood en lewe is in die mag van die tong, en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet”.  God sal op die laaste dag oordeel oor elke woord wat ons gespreek het.

“Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.” (Jakobus 3:6)

In hierdie vers word ons gekonfronteer met die onaangename waarheid. Wanneer jy met iemand baklei of lelik van iemand praat, voel jy dalk vir ‘n kort tydjie beter oor jouself, maar op die ou end voel jy net meer skuldig en verwyderd van God. Net soos die spoed waarteen droë gras deur vuur verbrand en vernietig word, so vinnig vernietig die tong ons verhoudings. Jou woorde beskadig nie net die persoon waarmee of waaroor jy praat nie, maar ook jouself. Die tong neem jou hele liggaam oor. Dit het so baie mag dat dit die hele lewensloop besoedel! Baie van die probleme in vandag se lewe het ontstaan as gevolg van slegte kommunikasie en bedrog. Jakobus gaan selfs so ver om te sê dat ons tonge uit die hel aan die brand gesteek word. Dit is baie duidelik dat die Bose juis hierdie geskape liggaamsdeel gebruik om ons in sy mag te kry. Ons moet egter besef dat dit die teenoorgestelde is van wat God wil hê. Hy het op Pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, tonge van vuur laat verskyn as simbool van Sy teenwoordigheid. Is dit nie ironies nie? Die keuse lê tussen tonge van vuur wat uit die hel aan die brand gesteek word, of tonge van vuur wat die teenwoordigheid van die Heilige Gees aandui.

Die boosheid van die tong is egter nie net ‘n probleem in die hedendaagse wêreld nie, maar dit was al vanaf die sondeval ‘n struikelblok vir die mens. God sê in Mattheus 15:8: “Hierdie volk nader My met hulle monde en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van my af.” By baie van ons Christene heers die gevaar van skynheiligheid. Ons gaan getrou kerk toe en ons sing psalms. As ons sing, is dit net uit gewoonte? Of let ons werklik op na wat ons sing? As ons met ons medegelowiges oor God praat, bedoel ons dit werklik uit ons hart uit? Of is dit maar net oppervlakkig?

Maar hoe moet ons dan wel die tong gebruik?

“So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Ons moet voordat ons met ander mense praat, eers goed nadink oor wat ons gaan sê, hoe ons dit gaan sê, en of dit ooit nodig is om te sê. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29). Ons moet onsself weerhou van kras woorde en laster. Ons moet nie onder die wêreld se druk val en die soort taal gebruik wat hulle as “cool” sien nie. “Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie” (1 Petrus 3:10). As ons volgens God se wil wil leef, moet ons onsself weerhou van leuens, kwaadpratery, verkleinering en skinder, asook neerhalende boodskappe op sosiale media. 

Ons as Christene is deel van die liggaam van Christus. Ons moet dus in liefde en gemeenskap met mekaar lewe. Dit beteken dat ons ons tonge moet gebruik om ander in die gemeente te bemoedig en te ondersteun. Ons moet mekaar kan vertrou as ons ons bekommernisse of pyn deel, met die wete dat die ander lid nie daaroor sal skinder of ‘n grap daarvan sal maak nie. Ons moet ons tonge gebruik om te vergewe en vrede te maak. Ons moet die waarheid teenoor mekaar spreek. Ons is deesdae geneig om te veel oor die negatiewe probleme van die lewe te kla, wat so aansteeklik vir die mense om ons is. As ons egter weer besef waaroor ons lewe hier op aarde gaan en hoe groot die onverdienstelike genade van ons verlossing is, dan moet ons die negatiwiteit aflê en ons lewe met positiewe gesprekke vul.  Ons moet ons woorde so kies dat dit ander sal opbou. Probeer om die mooi in jou naaste raak te sien en hulle oor hul talente te komplimenteer.

Die belangrikste van alles is dat ons die Skepper van hierdie klein, maar magtige, liggaamsdeel die eer toesing. Elke Sondag in die kerk, maar ook in ons daaglikse lewe. Ons moet Hom prys met lofgesange en liedere. God het ons tonge van vuur geskenk om die Evangelie in die wêreld uit te dra. Laat ons God vra om ons lippe ook soos Jesaja s’n te reinig met vuur (Jesaja 6), sodat ons van Hom en Sy ongelooflike liefde en almag kan getuig. Ons moet ons lewe vul met gebede tot God, waardeur ons met ons tonge persoonlik nader aan God kan groei. Mag ons dan ook naspreek wat Dawid in Psalm 19:15 tot God bid: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”, asook “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalm 141:3).

Laat ons die groot en moeilike verantwoordelikheid van hoe ons praat ernstig opneem, soos wat ons lees in 1 Petrus 4:11: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God…”. Ons wat na Sy Beeld geskape is, moet ook Sy voorbeeld navolg in hoe ons kommunikeer en praat. Om hierdie verantwoordelikheid na te kom moet ons begin by ons harte, “want uit die oorvloed van die hart spreek die mond.” (Lukas 6:45)

Laat ons leef met die bewustheid van die mag van die tong en onsself voorneem om ook te bely: “Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie, ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is” (Psalm 39:2).

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp