Die nommer ‘twaalf’ in die Bybel

Sekere getalle in die Bybel dra baie betekenis. Die nommer 12 is een wat gereeld voorkom. Deur na ‘n paar voorbeelde van die nommer 12 in die Bybel te kyk, gaan ons begin om die simboliek daaragter te ondersoek.

Die nommer ‘twaalf’ in die Bybel
Photo by Ryan Quintal / Unsplash

Geskryf deur Emily Snyman, VGK Bellville

Sekere getalle in die Bybel dra baie betekenis. Die nommer 12 is een wat gereeld voorkom. Deur na ‘n paar voorbeelde van die nommer 12 in die Bybel te kyk, gaan ons begin om die simboliek daaragter te ondersoek.

Neem wel kennis dat selfs al gaan ons dieper na hierdie nommer in die Bybel kyk, is dit baie belangrik om te besef dat dit nie die nommer 12 self spesiaal maak nie. Nommers self het nie enige krag nie; God gebruik hulle slegs in Sy Woord om betekenisryke verbande in plek te stel sodat ons ‘n dieper verstaan van Sy Woord mag kry. Dit word aangeraai om baie versigtig te wees wanneer jy hierdie onderwerp navors en om alles met ‘n knippie sout te neem. Soos met enige Bybelse onderwerp is dit die beste om die Here se Woord te raadpleeg, daaroor te bid en om die Heilige Gees te hê wat jou help om te onderskei tussen lig en duisternis, sodat jy in Sy waarheid kan leef.

In Genesis 35:22-26 kom ons die 12 nakomelinge van Jakob teë: Ruben, Símeon, Levi, Juda, Íssaskar, Sébulon, Dan, Náftali, Gad, Aser, Josef en Benjamin. Uit hierdie twaalf seuns het die 12 stamme van Israel ontstaan.

In Hebreers 13:8 lees ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” Ons leer hier dat God altyd dieselfde is en nooit verander nie. Daarom kan ons die geskiedenis in Sy Woord gebruik om Sy Goddelike ontwerp vir regering te sien. Hierdie stamme wys ons die manier waarop die Here gesag en regering instel het.

Daar het nie net uit die seuns van Jakob 12 stamme ontstaan nie. Genesis 25:11-18 vertel ons dat die nakomelinge van Ismael ook 12 stamme of prinse gevorm het: Nébajot, Kedar, Ádbeël, Mibsam, Misma, Duma, Massa, Hadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Weens die verbond wat God met Abraham gemaak het, het Hy nie net die beloofde seun, Isak, geseën nie, maar vir Ismael ook. Daarom het Ismael ook 12 seuns gehad, net soos Jakob, die seun van Isak. Ons kan sien dat twee koninkryke vanuit Abraham gekom het. Die een wat die koninkryk van God verteenwoordig en die ander een, die koninkryk van die wêreld. Selfs hierdeur kan ons sien dat dit God se perfekte ontwerp vir gesag en regering is, want dit is nie per toeval dat God beide hierdie koninkryke uit 12 broers laat ontstaan het nie.

‘n Mens kan sien hoe, al was die twee koninkryke amper presiese teenoorgesteldes, dat daar ‘n koninklike bloudruk is wat God saam met die fondasies van die aarde neergelê het. Dit is hoe Hy koninkryke geskep het om te funksioneer. Wanneer die Here iets so verordineer en dit in Sy wil is, dan raak dit ‘n sterk koninkryk. Die koninkryk van die wêreld het altyd verdeeld gebly en teen mekaar geveg – hulle was konstant op soek na meer mag. So kan ons sien dat die uiteensetting van die wêreldse koninkryk reg was, maar hulle het nie hulle gesag reg uitgeoefen nie en dus het hulle nie gefunksioneer soos God dit gemaak het nie. Ongelukkig kan ons deur die geskiedenis sien hoe hulle later uitgewis word.

Om verder te beklemtoon hoe die Here gesag ontwerp het, lees ons in Numeri 13:1-25 oor die 12 spioene. Toe Israel vir die eerste keer by Kanaän, die beloofde land, aankom het hulle 12 spioene, een uit elke stam, gestuur om die area te verken. Hier kan die nommer 12 verwys na autoriteit. Hierdie spioene is in Kanaan ingestuur om te sien hoe die beloofde land lyk en of die land goed was. Hulle was soos voorlopers van die volk en was in ‘n posisie van leierskap aangestel weens hulle taak om die land te verken. Hulle het die gesag gedra en was vertrou met die werk om die volk te vertel, maar sommige van hulle het die situasie deur vleeslike oë gesien en toe met vrees vasgekyk in die fisiese en nie op God en Sy belofte vertrou nie. Omdat hulle bang was en deur hulle autoriteit die res van die volk in onvertroue gelei het, het God hulle en die res van die volk gestraf sodat hulle nie die land kon ingaan nie. ‘n Mens kan sien dat daar ook met autoriteit ‘n groot verantwoordelikheid kom en hoe belangrik dit is om in alle situasies op God te vertrou en Hom te raadpleeg.

Die 12 offisiere wat koning Salomo oor Israel aangestel het, waarvan ons lees in 1 Konings 4:7-19, verwys weer na God se ontwerp vir gesag en regring. God het vir Salomo soveel wysheid gegee en Salomo het geweet wat God se koninklike bloudruk was. Dit wys ons nog ‘n keer hoe die Here wou hê Israel beheer moes word en hoe hulle gesag moes uitoefen.

Weereens kan ons sien hoe die Here autoriteit in plek stel met die nommer 12 as ons dink aan die dissipels: Simon Petrus, Andréas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartholoméüs, Thomas, Matthéüs, Jakobus, Thaddéüs, Simon en Judas Iskáriot. Selfs toe Judas vir Jesus verraai het en later gesterf het, het die Here nog ‘n dissipel gekies. Handelinge 1:15-26 vertel ons van Matthías se verkiesing as dissipel. Hierdie gebeurtenis is eintlik merkwaardig, want deur die feit dat daardie 12 voltooi moes word, sien ons hoe die Here klem lê op Sy perfekte ontwerp. Die Here het Sy getal weer vol gemaak. Dit bevestig weer ‘n keer hoe God baie doelbewus werk, net soos toe Hy die 12 stamme opgerig het.

‘n Ander plek in die Bybel waar die nommer 12 in verband staan met regering is in die boek Openbaring. Met verwysing na die Nuwe Jerusalem lees ons in Openbaring 21:12 die volgende: “En dit het ‘n groot en hoë muur met 12 poorte gehad, en by die poorte 12 engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die 12 stamme van die kinders van Israel.” Dan verder in vers 14: “En die muur van die stad het 12 fondamente gehad, en daarop was die name van die 12 apostels van die Lam.” Die Here wys weer vir ons dat daardie 12 stamme en 12 dissipels baie belangrik is - dit is selfs geïntegreer in Sy ontwerp vir ‘n perfekte stad.

Bietjie verder in hoofstuk 21, vers 19-21, lees ons van die 12 edelgesteentes waaruit die fondamente van die Nuwe Jerusalem gemaak is: Jaspis, saffier, chalcedoon, smarag, sardoniks, sardius, chrisoliet, beril, topaas, chrisopraas, hiasint en ametis. Hier gaan dit ook oor die fondasies. Suksesvolle regering word gebou op sterk fondasies en sisteme. Net soos wat die 12 stene hier ideaal is vir goeie fondasies, was die 12 stamme die fondasies van God se Koninkryk.

Die nommer 12 kan ook die koms van God se Koninkryk beteken. Ons sien in die Ou Testament dat daar 12 klein profete is, naamlik: Hoséa, Joël, Amos, Obádja, Jona, Miga, Nahum, Hábakuk, Sefánja, Haggai, Sagaría en Maleági. Die Here het hulle en hulle profesië gebruik om die koms van Sy Koninkryk en die koms van sy Seun, Jesus Christus, aan te kondig. Op dieselfde wyse het die Here die dissipels gebruik. Hulle was manne wat saam met Jesus gewandel het, by Hom geleer het en later uitgegaan het om Sy Woord te verkondig. Ons kan sien hoe die Here hier die nommer gebruik – eers het Hy het 12 profete in die Ou Testament gebruik om te profeteer oor Sy eerste en tweede koms, en toe het Hy die 12 dissipels aangestel om die toekomstige aankoms van Sy Koninkryk te verkondig!

In hoofstuk 12 van sy evangelie, vertel Matthéüs die verhaal van Jesus wat die 5000 manne voed. Nadat almal geëet het, het die dissipels die orige kos bymekaar gemaak en daar was 12 mandjies vol. Dit kon gewees het sodat die 12 dissipels elk een kon saamvat, maar in die konteks van hoe die Here die nommer 12 gebruik, kan dit wys na Sy bonatuurlike voorsiening. Jesus het, deur Sy Goddelike krag, voorsiening gemaak vir al hierdie mense. Genoeg kos dat daar selfs ekstra was! Ons kan hierin ook Jesus se gesag oor die skepping waarneem.

Nog ‘n gedeelte waar die nommer 12 bonatuurlike voorsiening kan beteken, vind ons in Openbaring 22:1-5. Dit praat daar van die boom van die lewe. Hierdie boom gaan in die Nuwe Jerusalem staan en dit sal elke maand, d.w.s. 12 keer ‘n jaar, vrug dra. Daar sal regdeur die jaar vir ons voorsiening gemaak word deur die boom van die lewe! So sluit dit aan by die verhaal waar Jesus die 5000 manne gevoed het - voedsel en voorsiening in oorvloed. Die Here sal altyd vir ons sorg, hier op die aarde en ook eendag in die Nuwe Jerusalem.

Deur te kyk na die plekke in die Bybel waar die nommer 12 voorkom, kan ons sien dat dit drie dinge kan beteken:

  1. God se perfekte ontwerp vir regering en gesag.
  2. Die koms van God se Koninkryk.
  3. Bonatuurlike voorsiening.

Dit is egter belangrik om te onthou dat nie alle verwysings na die nommer 12 in die Bybel hierdie betekenis dra nie. Partykeer is die nommer net ‘n nommer, en moet dit so hanteer word, of afhangende van die konteks, kan dit dalk ‘n ander betekenis dra. Maar deur dieper na God se Woord te kyk, kan ons ‘n paar van die mees algemene betekenisse van die nommer 12 ontdek.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp