Depressie

Dit is donker. Jy kan nie slaap nie. Dit was ‘n lang dag van niks doen. Jy moes eintlik werk en stort, maar jy het nie krag nie - alles vat so lank. Jy was selfs nie lus om met jou hond te gaan stap nie, wat jy vroeër baie geniet het.

Depressie
Photo by Gadiel Lazcano / Unsplash

Geskryf deur Lydia Boon, VGK Maranata

Dit is donker. Jy kan nie slaap nie. Dit was ‘n lang dag van niks doen. Jy moes eintlik werk en stort, maar jy het nie krag nie - alles vat so lank. Jy was selfs nie lus om met jou hond te gaan stap nie, wat jy vroeër baie geniet het. Jy tel gewig op en eintlik wil jy net nie meer lewe nie. Hierdie is depressie.

Teen die tyd wat jy die laaste woord van hierdie Olielampartikel gelees het, het 9 mense hul eie lewe geneem. (World Health Organisation, 2019)

Ek is gevra om ‘n artikel oor depressie te skryf. Om die waarheid te sê, hierdie taak maak my so ‘n bietjie benoud. Depressie is ‘n moeilike onderwerp met uiteenlopende opinies en filosofieë. Aan die een kant dat depressie net ‘n anatomiese of fisiologiese wanbalans in die brein is en aan die ander kant die ekstreem dat depressie nie bestaan nie en dat die persoon hulself net moet regruk. Verder tref hierdie onderwerp vir baie van ons na aan die hart. In hierdie artikel sal ek probeer om ‘n paar hoekies van hierdie saak af te breek. Dit is ‘n onderwerp waarin ek nog altyd belangstel en waarvan ek geleer het tydens ons psigiatrie klasse en psigiatrie rotasie, waar ek dit eerstehands kon ervaar.

Kan ‘n Christen depressief wees?

In die Bybel word ons keer op keer opgeroep om vol van vreugde te wees (“Wees bly in die Here en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” Psalm, 32:11). Blydskap is ‘n vrug van die Gees. En hoekom nie? Daar is dan soveel rede tot vreugde? Kan ‘n Christen dan depressief wees? In die Bybel sien ons ook voorbeelde daarvan:

  • Job. Job 30:16-20: “Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.”
  • Elia. 1 Konings 19:4: “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here.”
  • Dawid. Psalm 6:5-7 “Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane.”
  • Heman seun van Korag. Psalm 88: 5-7: “U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.”
  • Jeremia. Klaagliedere 2:11: “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering.”

Net soos die sondeval gelei het tot siektes in ons lyf, so ook in ons brein. Depressie is net nog ‘n kreun van die skepping wat wag tot die wederkoms om volmaak te word. Indien hierdie lewe net maanskyn en rose was, sou ons nooit verlang het na die ewige volmaakte lewe by God nie. In ons is verlangens wat nie op aarde gevul kan word nie. Slegs by God is ewige vreugde vir altyd! In die donker van depressie skyn God se lig net nog helderder.

So, wanneer is depressief voel ‘n siekte?

Ons almal is van tyd tot tyd hartseer en neergeslaan deur die lewe. Dit is normaal om soms so te voel. Maar soms is dit so veel dat dit net nie meer normaal is nie. Die DSM 5 (Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesversteurings) is ‘n kriteria wat gebruik word om te onderskei tussen net “af” voel en depressie as siekte.

DSM 5 Diagnostiese kriteria vir depressie

A: 5 (of meer) van die volgende simptome is ervaar gedurende 'n 2 week periode wat verskil van vorige funksionering.

(Ten minste een van die volgende 2 moet teenwoordig wees)

  • ‘n Depressiewe gemoed vir die meeste van die dag, amper elke dag, soos aangedui deur jou eie subjektiewe ervaring asook ander mense om jou.
  • Verlies aan belangstelling of genot in aktiwiteite vir die meeste van die dag, amper elke dag soos deur jou eie subjektiewe ervaring asook ander mense om jou.
  • Betekenisvolle gewigsverlies of gewigstoename.
  • Slapeloosheid of te veel slaap gedurende die dag, amper elke dag.
  • Psigomotoriese gejaagheid of vertraging vir amper elke dag.
  • Verlies aan energie amper elke dag.
  • Gevoelens van waardeloosheid.
  • Verminderde vermoë om te konsentreer, amper elke dag.
  • Herhalende gedagtes aan dood of herhalende selfdoodgedagtes

B: Die simptome veroorsaak ongemak en belemmer normale funksionering.

C: Die episode is nie as gevolg van die effek van 'n middel (“substance”) of mediese toestand nie.

D: Die episode kan nie beter toegeskryf word aan 'n ander psigiatriese kondisie nie.

E: Daar was nog nooit 'n maniese episode of hipomaniese episode nie.
(American Psychiatric Association, 2013)

Hoe werk depressie?

Oor die fisiologie van depressie is daar nog baie onsekerheid. Verskeie hipoteses word gemaak en ondersoek. Een teorie is dat daar te min neurotransmitters (serotonien, noradrenalien en dopamien) in die brein is. Om op te maak vir die verminderde neurotransmitters vermeerder die reseptore waarop hulle werk, om so veel as moontlik van die neurotransmitters wat daar nog is, op te vang. Antidepressante werk op hierdie reseptore. Ander teorieë is dat daar inflammasie in die liggaam is wat verskeie sisteme aantas, dat depressie ontwikkel as gevolg van oksidatiewe stres of dat daar spesifieke gene betrokke is. Daar is nog vele meer teorieë (Roos, 2016).

Risikofaktore vir depressie sluit in: gene (indien een van jou ouers, broer, suster of kind aan depressie ly is jou kans vir depressie drie keer meer as die gewone bevolking), stresvolle lewensgebeure (verlies van geliefde, werk), chroniese siekte, slapeloosheid, ontwrigting van verhoudings, sekere medikasie en middelgebruik (Roos, 2016).

Tog is daar steeds eie verantwoordelikheid. Voer ons nie gemorskos vir ons siele met ure se skermtyd totdat ons uitgeput aan die slaap raak vir ‘n nagrus van te min ure nie? Met wegneemetes, die gejaag van die een doelwit na die volgende, min sonlig, onopgeloste konflikte en konstante geluide in ons ore, met geen tyd om na te dink nie? Ons kan nie verwag dat ons breine optimaal moet funksioneer as ons heeltyd moeg is nie. Net soos jy jou liggaam moet oppas deur groentes te eet, nie te rook nie, te beweeg en genoeg water te drink, so moet ons ook kyk na ons geestesgesondheid. Beweeg, wees gesond, bid, spandeer tyd met familie, vriende, stokperdjies, slaap genoeg, hê stiltetyd en wees in die natuur. 150 minute se oefening per week is 1.5 keer meer effektief as enige antidepressant of psigoterapie. (University of Western Australia, 2023)

Kom ons hou ons liggaam en psige gesond sodat ons krag het om die taak wat die Here vir elkeen van ons op aarde gee, ten volle te kan verrig.

Vir die wat aan depressie lei

Jy is nie alleen nie. ‘n Studie gedoen in 2022 wys dat 25,7% van Suid-Afrikaners depressief is (Wits University, 2022). Moet nie te lank wag voordat jy hulp gaan soek nie. Praat met jou familie, vriende, beraders, kenners en meeste van alles jou ware Geneesheer. Moenie moed opgee nie. Hou vas aan die Here. Hy laat jou nooit alleen nie. Hy het ‘n plan met jou lewe. Jy is waardevol vir Hom. Baie, baie kosbaar. Onthou ook dat depressie die mag het om jou persepsie van die waarheid te verdraai. Dit kan dalk voel of niemand meer lief is vir jou nie of dat God nie met jou is nie. Maar onthou dat dit nie waar is nie. Hou vas aan die waarheid van God se Woord: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” Mattheus 28:20.

“Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;” - 2 Korinthiërs 4:8-10

Bronnelys

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp