Dankdag vir gewas en arbeid

Ondanks wêreldwye pogings om voedselsekerheid te bereik, ervaar miljoene mense nog steeds honger. Hoe kan ons, as gelowiges, hierdie realiteit verstaan en tog hoop in God se voorsiening hou?

Dankdag vir gewas en arbeid
Photo by Max Böttinger / Unsplash

Geskryf deur Henri van den Bout, VGK Maranata

Voedselsekerheid word deur die Food and Agriculture Organization (FAO) van die Verenigde Nasies gedefinieer as: "'n Situasie waar alle mense te alle tye fisiese, sosiale en ekonomiese toegang het tot voldoende, veilige en voedsame voedsel wat aan hul dieet-behoeftes en voedselvoorkeure vir 'n aktiewe en gesonde lewe voldoen." Die Verenigde Nasies het verder 17 doelwitte opgestel met die doel om die wêreld ‘n beter en meer volhoubare plek vir alle mense te maak. Van hierdie doelwitte sluit dinge in soos: "No poverty", "Quality education" en "Zero hunger". (Lees gerus meer hieroor: https://openknowledge.fao.org/server/api/core/bitstreams/28b2fb42-a8f6-4274-91c7-ea10df6b43c8/content)

Volgens statistiek was daar in 2022 ongeveer 725 miljoen mense op aarde wat kroniese honger ervaar het, terwyl ongeveer 2.4 biljoen mense matig tot ernstig honger gely het. Hierdie getalle dui ‘n styging van 390 miljoen mense vanaf 2019 aan. Dit is skrikwekkend, maar verbaas dit ons? God het immers alreeds in die begin bepaal dat die gevolg van die sonde sal wees dat die mens sal swoeg en sweet om sy daaglikse brood te verdien (Genenis 3: 17-19) en dat hongersnood, natuurrampe en allerhande ellendes die mens se lewe op aarde swaar sal maak.

Die wêreldse leiers het egter ‘n ander siening en wend allerhande pogings aan om te voldoen aan voedselsekerheid. Sulke pogings sluit in alternatiewe vorme van boerdery en nuwe, meer volhoubare tegnologie. Planne word beraam, statistieke word uitgewerk en nuwe implemente word getoets. Hiermee is absoluut niks verkeerd nie – God het ons immers beveel om as verantwoordelike rentmeesters oor sy skepping te heers en die aarde te bewoon en te bewerk. 

Dit sluit inderdaad ook in om meer volhoubaar met Sy skepping om te gaan. Verder moet ons ook die gawes en talente wat God ons gegee het ontwikkel en ten volle benut tot eer van sy naam (Matthéüs 25: 14-30). Maar, ten spyte van die mens se wanhopige pogings om die wêreld ‘n beter plek te maak, sien ons elke jaar weer hoe die hongersnood en ellende net toeneem. 

Dit is omdat die mens op homself vertrou. Die mens dink dat hy op sy eie krag en kennis kan staatmaak en God word glad nie in die prentjie gereken nie. Juis daarom sal dit nooit volkome suksesvol wees nie. God herinner ons telkemale in Sy woord dat ons alleen van Hom alles kan verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (Psalm 104: 27-30 ; Jeremia 31: 25). Alleen as dit sy wil is sal die sluise van die hemel geopen word. Alleen as dit sy wil is sal peste en siektes iets van die verlede wees. Alleen as dit sy wil is sal daar ‘n einde kom aan hongersnood, water tekorte, natuurrampe en allerhande ellendes.  

Daarom mag ons as christene met alle blydskap Dankdag vir gewas en arbeid vier! Dit is ‘n dag afgesonder daarvoor om na te dink en te besef waar alles eintlik vandaan kom. Om weereens te besef Wie in beheer van alles is en Hom daarvoor te loof en te dank: ons Hemelse Vader. Van Hom alleen kan ons alles verwag. Hy het deur al die eeue heen, van die skepping af, nog altyd vir sy volk gesorg. Selfs toe hulle in die woestyn was het Hy manna uit die hemel laat reën sodat sy volk nooit gebrek gely het nie. Daarom mag ons ook vertrou dat Hy in die toekoms altyd vir Sy kinders sal sorg. 

Matthéüs 7:11 (AFR53): “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”  Ons mag vertroosting vind in hierdie beloftes, soos ook in Matthéüs 6: 25-34. Ons mag God ook herinner aan hierdie beloftes van Hom. Ons doen dit daagliks as ons tot Hom bid, “gee ons vandag ons daaglikse brood” soos in die Onse Vader. Ons het egter ook ‘n dag spesiaal hiervoor afgesonder, bekend as Biddag vir gewas en arbeid. Maar op Dankdag vir gewas en arbeid mag ons Hom dank en loof vir alles wat Hy voorsien, nie net kos alleen nie, maar vir alles wat ons uit Sy hand ontvang. 

Hierdie vreugde mag ons in volheid uitleef, veral ook op Dankdag vir gewas en arbeid. Die gewoonte in Suid-Afrika om Dankdag te vier is grotendeels eie aan die VGKSA kerkverband. Ons mag egter hierdie vreugde en blydskap nie vir onsself hou nie. Ons word juis opgedra om dit ook met ander te deel! (Hebreërs 13:16). Met dankbaarheid mag ons die gawes wat God ons skenk ook weer teruggee aan die minderbevoorregtes deur middel van kollektes, skenkings en soveel meer. 

Met die viering van Dankdag mag ons verder ook uitsien na die dag wat God sal terugkeer op die wolke wanneer Hy ‘n einde aan alle ellende sal maak (Openbaring 7:16-17). Laat ons daarom elke dag, maar spesiaal ook op Dankdag vir gewas en arbeid, ons gawes met oorgawe gee, ons blydskap en vreugde deel en met alles God verheerlik vir sy voorsienigheid! “Halleluja! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” (Psalm 106:1, AFR53)

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp