Ek is.

God is vol van liefde en genade. Hy het ons so lief gehad dat Hy sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gestuur het om vir ons sondes te sterf (Johannes 3:16). Deur sy genade openbaar God sy karakter aan ons in die Johannes-evangelie met die gebruik van sewe afsonderlike beelde.

Ek is.
Photo by Aperture Vintage / Unsplash

Geliefdes, God is vol van liefde en genade. Hy het ons so lief gehad dat Hy sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gestuur het om vir ons sondes te sterf (Johannes 3:16). Jesus Christus was nie net ten volle God nie, maar ook ten volle mens (Sondag 6 v&a 16 en 17). Deur sy genade openbaar God homself aan ons op verskeie maniere. In die Johannes-evangelie openbaar Hy sy karakter aan ons met die gebruik van sewe afsonderlike beelde. Dit bring ons by die doel van die Evangelie volgens Johannes:

"Maar hierdie dinge is opgeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus, die Seun van God, is, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê." (Johannes 20:31)

Die doel van hierdie boek is daarom om ons te lei in geloof in die Here Jesus Christus, die Seun van God, want deur Hom alleen kan ons ewige lewe beërwe.

In die eerste “Ek is” uitspraak openbaar Jesus homself as die Brood van die Lewe (Johannes 6:35). Nadat Hy vyfduisend mense met brood en vis gevoed het, het almal genoeg gehad om te eet. Christus se doel was egter nie bloot om hulle fisiese honger te stil nie, maar om te wys dat Hy iets veel groter bied, naamlik die versadiging van die diepste geestelike honger van die menslike siel. Want die menslike siel is geestelik dood sonder Christus. Jesus alleen kan die diepste honger van die siel bevredig.

In die tweede uitspraak sê Jesus: "Ek is die Lig van die wêreld" (Johannes 8:12). Jesus bring geestelike leiding en waarheid na 'n wêreld wat in duisternis verkeer. In die ou tyd was daar geen elektrisiteit nie, en mense moes hulle pad in die donker vind. Net soos Hy brood gee om ons honger te stil, gee Hy ook lig om ons pad te verlig. Daarom hoef ons nie in die duisternis rond te dwaal of te struikel nie - Jesus is die Lig van die wêreld. In 'n wêreld vol pyn, hartseer, gevaar en sonde skyn Christus, as die Lig, helder.

Derdens sê Jesus: "Ek is die Deur" (Johannes 10:9). Hierdie beeld sluit nou aan by die vierde uitspraak: sy beskrywing van Homself as die Goeie Herder (Johannes 10:11, 14). 'n Herder se verantwoordelikheid was om die skape te beskerm en te versorg. Christus, as die Deur, bied veiligheid, beskerming en die enigste weg tot verlossing. Hy het sy lewe afgelê sodat jy en ek die ware lewe kan vind. Hy is ons Goeie Herder wat sy skape ken, hulle liefhet en vir hulle sorg.

Jesus Christus weet wie jy is, waar jy is, en Hy het jou lief. Hy sorg vir jou en sal alles doen om jou terug te bring sodat jy saam met Hom op die pad van geregtigheid kan wandel. Maar wees versigtig - dit geld slegs vir sy skape. Daarom moet jy jouself afvra: Wie is my Herder? As die Deur het Jesus verklaar dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie. Daar is geen ander weg nie. Alle godsdienste of oortuigings wat 'n ander weg leer, is vals en staan in teenstelling met God se waarheid.

Verder, in die vyfde uitspraak sê Jesus: "Ek is die Opstanding en die Lewe" (Johannes 11:25). Net soos Hy hoop aan Lasarus gegee het, gee Hy ook aan ons die hoop dat die dood nie die finale oorwinning het nie. Jesus het self die dood oorwin, en ons sien dit deur sy opstanding. Daarom is die dood nie die einde van ons bestaan nie.

As ons in Hom glo, soos Johannes 20:31 leer, ontvang ons nie net lewe op aarde nie, maar ook die ewige lewe saam met die Seun van die lewende God in die hemel. Wie die Seun het, het die lewe; en wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.

Jesus sê ook: "Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe" (Johannes 14:6). Dit is die sesde uitspraak. Ware waarheid word slegs in Jesus Christus gevind. In Johannes 8:31-32 leer Johannes dat die waarheid ons vrymaak. Jesus sê vir sy volgelinge dat hulle die waarheid sal ken as hulle in sy Woord bly, en dat daardie waarheid hulle sal vrymaak van die slawerny van die sonde. Soos Johannes in sy doelverklaring sê, het hy geskryf sodat ons kan weet wie Christus is. Daarom openbaar die Skrif Hom aan ons. As ons die regte rigting in die lewe wil vind, moet ons Jesus volg, want Hy is die Weg. As ons eendag by die Vader wil wees, moet ons Hom volg. Leef volgens sy Naam, soos Johannes se doelverklaring ons leer.

In die sewende uitspraak sê Jesus: "Ek is die Ware Wingerdstok" (Johannes 15:1). Hy het hierdie woorde met sy dissipels gedeel die aand voordat Hy gevange geneem is. Ons lewens moet aan ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verbind bly. Net soos 'n loot aan die wingerdstok verbind moet bly om vrug te dra, moet ons aan Christus verbonde bly. As ons geestelik wil groei en vrug wil dra, moet ons naby Hom leef. Daarom behoort ons ons Christelike lewe en ons geloof ernstig op te neem.

Net soos God Homself in Exodus 3:14 as "Ek is" geopenbaar het, openbaar hierdie Naam sy wese:

  • Selfbestaan: God is ongeskape en die uiteindelike bron van alle bestaan. Hy is enkelvoudig (NGB Artikel 1).  
  • Ewige Bestaan: God verander nooit en bestaan vir ewig verlede, hede en toekoms.  
  • Soewereine Getrouheid: God is van niemand en niks afhanklik nie. Sy karakter en sy beloftes is volkome betroubaar.

Coram Deo

Die sewe "Ek is”-uitsprake leer ons hoe diep God ons liefhet, hoeveel Hy vir ons omgee en dat Hy die beste vir ons weet. 

Daarom is die doel van die “Ek is”-uitsprake dat jy in Jesus Christus sal glo, sal glo dat Hy die Gesalfde is, die Christus, en die ewige lewe sal hê. Om nie in Hom te glo nie, verander nie wie Hy is nie. Hy het ons nie nodig nie; ons het Hom nodig.

Hoe meer jy jou verhouding met Jesus Christus versterk deur die krag van die Heilige Gees, hoe meer sal jy sy teenwoordigheid en leiding in jou daaglikse lewe ervaar. Hy is jou beste Vriend en die enigste Verlosser.

Gebed

Ons almagtige hemelse God en Vader, ons dank U vir u Seun. Ons dank U Here dat daar lewe mag wees deur u Seun Jesus Christus. Ons vra U, Vader, dat ons rus mag vind in Hom. En ons vra Here dat ons Hom sal liefhê soos wat Hy ons liefhet. Ons vra dat U hierdie reeks sal seën en dat u kinders mag opgroei in kennis. Alles bid ons in Christus se Naam. Amen.

Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius