Hoe vind ons vrede in God se wil vir ons?

Hoe vind ons vrede in God se wil vir ons?
Photo by Klavs Krumins / Unsplash

Soos met enige vraag, is dit eerstens belangrik om te bepaal wat presies met die vraag bedoel word. Wanneer ons kyk na hoe om vrede te vind in God se wil, moet ons begin by die begin - wat bedoel ons met ‘God se wil’? 

‘God se wil’ verwys na wat God begeer, sowel as wat Hy van ons verwag. Hier moet ons onderskeid tref tussen sy soewereine wil en sy voorskriftelike wil. 

God se soewereine wil behels sy groter plan en heerskappy oor die wêreld. Dit is dinge wat God bepaal wat ons dikwels nie kan verstaan nie, maar waarin ons vertroue kan hê dat Hy ‘n wyer perspektief het op sy plan vir ons. Dit vorm deel van God se ewige plan waarin Hy alles aan sy wil laat voldoen. 

Aan die ander kant is God se voorskriftelike wil – dit wat Hy wil hê ons moet kies en doen in die lewe. Dit sluit dus die duidelike opdragte in sy Woord in, byvoorbeeld die Tien Gebooie. Die mees omvattende teks wat sy voorskriftelike wil uitlê, vind ons in Mattheus 22:37 en 38:

"En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod."

Hierdeur kan ons sien dat God se wil nie net oor spesifieke reëls gaan nie, maar uiteindelik gaan dit oor ons verhouding met Hom en hoe daardie verhouding ons lewe beïnvloed. Dit is ook opmerklik dat ons nie elke opdrag wat deel vorm van God se wil uitgeskryf in die Bybel vind nie. God gee vir ons beginsels waarvolgens ons ons lewens moet lei.

Noudat ons ‘n basis het vir die betekenis van "God se wil", kan ons nader kyk na hoe hierdie waarheid in ons persoonlike lewens toegepas word. Die volgende vraag is dus: Hoe kan ons God se wil verstaan? 

Om God se wil te verstaan, moet ons God se karakter ken. God gee vir ons sy Woord sodat ons Hom daardeur kan ken. Johannes 7:16-17 sê:

"Jesus antwoord hulle en sê: My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek."

Jesus stel dit baie duidelik: hoe beter ons God se karakter verstaan, hoe makliker word dit om te herken watter keuses met sy wil ooreenstem. 

Behalwe deur God se Woord, kan ons God ook beter verstaan deur te bid vir wysheid (Jakobus 1:5). Dit is belangrik om te besef dat God nie altyd wysheid aan ons openbaar soos ons dit verwag nie. Om te bid vir wysheid beteken nie noodwendig dat God ‘n teken gaan stuur wat vir jou sal aandui wat die regte keuse is nie. God kan kies om wysheid te skenk deur vir jou geduld te leer of selfs om jou te help aanvaar dat jy nie altyd menslik gaan kan verstaan waarom Hy sekere dinge laat gebeur nie. In sulke gevalle is dit belangrik om onderskeid te tref tussen ons begeertes en God se wil. God se wil wys nie altyd vir ons ‘n duidelike en volledige prentjie nie, maar deur sy wysheid word ons opgeroep om Hom genoeg te vertrou om vandag getrou te leef. 

Dit bring ons tot die laaste vraag: Hoe vind ons vrede in God se wil?

Dit is veral toepaslik in daardie gevalle waar God se wil nie ‘n duidelike, volledige prentjie skep nie. Psalm 37:4: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Om vreugde in die Here te hê, beteken nie dat al ons aardse begeertes bevredig word nie. Dit beteken egter dat ons hart en begeertes sal verander. Hoe nader ons aan God leef, hoe meer sal ons begeertes met sy wil ooreenstem. 

‘Vrede’ in hierdie konteks beteken nie noodwendig ‘n totale afwesigheid van onsekerheid nie. Om vrede in God se wil te vind, beteken om Hom genoeg te vertrou om die volgende stap te neem. 

Om saam te vat: God gee vir ons sy Woord waardeur ons Hom beter kan leer ken. Hierdie kennis, saam met gebed, gee vir ons die wysheid om sy wil raak te sien. Daarmee kan ons besluite neem. Laastens, deur ‘n vaste vertroue in Hom, kan ons vrede vind in die uitkomste van daardie besluite. 

Geskryf deur Klarizé van Alten, VGK Bellville