Om ‘n Christen tiener te wees

Tiener wees is ‘n ingewikkelde tyd van groei en ontwikkeling in ‘n jongmens se lewe. As tiener begin jy jou eie mens raak, met jy ou eie idees en opinies. Jy begin weg beweeg van hoe jy dink jy moet wees (in verband met wie jou ouers is) en vorm jou eie identiteit

Om ‘n Christen tiener te wees
Photo by Wayne Lee-Sing / Unsplash

Geskryf deur Salomien van der Linden, VGK Bellville

Tiener wees is ‘n ingewikkelde tyd van groei en ontwikkeling in ‘n jongmens se lewe. As tiener begin jy jou eie mens raak, met jou eie idees en opinies. Jy begin weg beweeg van hoe jy dink jy moet wees (in verband met wie jou ouers is) en vorm jou eie identiteit. Tieners word oor die algemeen gekonfronteer met baie dinge, baie opsies en invloede. Vir beide Christelike en nie-Christelike tieners kan dit moeilik wees om hierdie stadium van hulle lewe te navigeer. Dit is egter ekstra moeilik vir Christelike tieners, aangesien ons as Christene ernstiger kyk na hierdie invloede en hoe dit ons, sowel as ons verhouding met die Here, beïnvloed.

In Prediker 11:9-10 staan daar, “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen.” Die Here vra dus nie van tieners om niks wat lekker is te doen en jouself af te sluit van die wêreld nie. Inteendeel, Hy sê jy moet die lewe en dit wat dit jou bied, geniet. Hy waarsku egter wel dat jy dinge wat jou liggaam negatief gaan beïnvloed vermy en onthou dat Hy jou verantwoordelik sal hou vir dit wat jy doen.

Dit kan vir tieners soms moeilik wees om te verstaan hoekom hulle sekere dinge nie mag doen nie en dan voel Christendom soms soos tralies wat jou inperk en keer dat jy jou lewe werklik kan uitleef en geniet. Dit is egter nie die geval nie. As Christene word daar sekere beperkings vir ons gestel, maar dit is nie om ons vas te keer nie. Dit is eerder om ons vry te laat om ons verhouding met die Here te laat groei en te beskerm.

Soos voorheen genoem is die tienerfase die stadium van jou lewe wat jy begin om jou eie mens te raak – dit handel dus baie oor die soeke en vind van jou identiteit. Dit is ongelooflik belangrik om jou identiteit in die Here te vind en nie in die vriende wat jy maak, die loopbaan wat jy kies of die aktiwiteite waarin jy deelneem nie, aangesien dit alles kan verander en net so onder jou kan weg val. As kinders van God vind ons ons identiteit in die Here, want Hy verander nooit.

Wanneer ons dan kyk na die rol van ‘n tiener in ‘n gesin, sien ons dat tieners hulle ouers moet gehoorsaam. “Kinders, julle moet julle ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.  Eer jou vader en jou moeder - dit is die eerste gebod met ‘n belofte - sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Efesiërs 6:1-3).

Dit is belangrik om raak te sien dat meeste van die konflik tussen tieners en hulle ouers handel oor reëls wat gestel word en dan nie nagekom word nie, of deur die kind as beperkend beskou word. Hierdie reëls word nie opgestel om ons vas te keer of terug te hou nie, maar juis om ons te beskerm. Ouers wat reëls vir hulle kinders neerlê of hulle kinders op ‘n Christelike wyse tugtig doen dit nie om hulle seer te maak nie. Net soos wat God ons teregwys, so doen ouers dit ook om hulle kinders te beskerm en leer.

Dit is verder ook ‘n tiener se verantwoordelikheid om onderdanig te wees en te leer by die mense rondom hulle, om so kennis op te doen wat hulle dan self in die koninkryk van God kan gebruik, nou en in die toekoms.

As gevolg van die blootstelling en onsekerhede wat tydens hierdie fase van ‘n jongmens se lewe voorkom is dit belangrik om dan ook jouself met die regte mense te omring sodat die invloede wat jy ontvang en dit wat jy leer van beide jou portuurgroep en ouer mense die regte invloed is.

“Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:5-7).

Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp