As God drie-enig is en nie geskei kan word nie, hoe is Christus op die kruis deur God verlaat?
Jesus Christus en sy lyde en sterwe aan die kruis staan sentraal in ons geloof. Sonder dit sou ons nie toegang tot die ewige lewe saam met God kon verkry nie. Een van die laaste woorde wat Jesus aan die kruis uitgeroep het was: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Geskryf deur Mathys de Wit, VGK Pretoria
Jesus Christus en sy lyde en sterwe aan die kruis staan sentraal in ons geloof. Sonder dit sou ons nie toegang tot die ewige lewe saam met God kon verkry nie. Een van die laaste woorde wat Jesus aan die kruis uitgeroep het was: “Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Markus 15:34, AFR53). Dit beklemtoon die ontsaglike lyding en angs wat ons Verlosser deurstaan het aan die kruishout, terwyl Hy die straf van ons sondes betaal het.
Die Here openbaar aan ons deur sy Heilige Woord dat Hy Drie-enig is. God is een wese wat Hom onderskei in drie Persone. God die Vader, Sy enige gebore seun, Jesus, en die Heilige Gees wat aan ons geopenbaar is en waarvan Jesus verkondig het net voor sy Hemelvaart in Handelinge 1. Ons lees in Johannes 5:19 dat Jesus een in Wese is met sy Vader. Daar staan naamlik: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook netso.’’ (AFR53) Net so kan ons aflei dat die Heilige Gees van die Vader uitgaan om van Hom te getuig (Johannes 15:26).
As ons dit in gedagte hou en dink aan Jesus se woorde aan die kruis, kan verskillende vrae in ons opduik. Wat beteken Jesus se woorde aan die kruis? Hoe moet ons dit verstaan met die gedagte van die Drie-eenheid? Het God hom regtig afgeskei van sy Seun toe Hy neergedaal het na die hel? Of moet ons dit uit ‘n ander perspektief lees?
Die Drie-eenheid
Om die woorde van Jesus aan die kruis te verstaan moet ons eers tot ‘n mate verstaan hoe die Here Hom as Drie-enig openbaar. Die Heilige Skrif leer ons op verskeie plekke in die Ou en Nuwe Testament van die Drie-eenheid (NGB Artl 9). God sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” (Genesis 1, AFR53) Die ‘Ons’ dui op meerdere Persone.
Ons word geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike wese is: Vader, Seun en Heilige Gees. Al drie Persone staan gelyk tot mekaar en is tot in ewigheid saam verenig in een Wese. Elke Persoon van die Drie-eenheid het wel verskillende rolle en ampte in die Goddelikheid:
- Die Vader is die oorsaak, begin en skepper van alle sigbare en onsigbare dinge. (Genesis 1)
- Die Seun is die woord, die wysheid, die beeld van die Vader en ons
saligmaker en verlosser deur sy bloed. (Johannes 1:1-3, Kolossense 1:15) - Die Heilige Gees is God se gees wat ewig krag en mag het tot in ewigheid. Hy gaan vanuit die Vader en die Seun en is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons harte. (Johannes 14:26, 15:26-27)
In die Drie-eenheid sien ons ‘n volmaakte eenheid van liefde tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees (2 Korinthiërs 13:13). Dit is noodsaaklik om hierdie liefdevolle verhouding te verstaan as jy die diepte van Jesus se woorde geestelik en emotioneel wil verstaan. Om Jesus se woorde te verstaan kyk ons eers na die konteks daarvan.
Die konteks van Jesus se woorde aan die kruis
Jesus hang aan die kruis. Hy is deur die volk gekruisig as deel van God se raadsplan, om vir ons sondes te sterwe. Ons sien in Markus 15:33 dat daar staan: “En toe dit die sesde uur was, kom daar ‘n duisternis oor die hele aarde tot aan die negende uur toe.” (AFR53)
Die sesde tot die negende uur verwys na twaalfuur tot drieuur in die middag. In hierdie tyd is die son op sy hoogste en helderste in die hemel. Deur hierdie gebeurtenis, die duisternis oor die hele aarde, beklemtoon die Here iets. As ons na die Ou Testament kyk, sien ons in verskillende gedeeltes dat die Here totale duisternis met sy oordeel gepaard laat gaan. Neem as voorbeeld die woorde van oordeel wat God gespreek het deur Amos in Amos 8:9. Hier sê Amos vir die volk dat die Here die son sal laat ondergaan in die middel van die dag. Dit sal duister word terwyl dit nog dag is. Terwyl dit gebeur sal die Here feeste verander na klaagsang en die oordeel sal ervaar word deur die volk. Hier word verwys na die oordeel op die dag van die Here.
In Eksodus lees ons van die negende plaag wat oor Egipte gekom het toe Farao nie die Israeliete wou laat gaan nie. Dit het gebeur net voor die tiende plaag en die instelling van die pasga. Die Here het die pasga ingestel om sy volk te beskerm, vir die wat op Hom vertrou het vir hul redding.
Dieselfde het gebeur toe ons Paaslam (1 Korinthiërs 5:7) gedood is tydens die pasgaviering in Jerusalem. Op die helderste van die dag het dit donker geword. Die Here het sy toorn oor sy enige gebore seun laat kom en Jesus het die toorn van God vir sy volk gedra.
Ons sien dus dat duisternis oor die aarde ‘n teken van God se oordeel is. Maar in plaas daarvan dat ons die toorn van God ontvang en die straf moet dra vir wat ons verkeerd gedoen het, is die beker van God se toorn uitgegiet op ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Dit lei ons na die volgende punt.
Die betekenis van Jesus se woorde aan die kruis: angs
Daar is ‘n paar dinge wat ons kan sê oor die uitroep van Jesus aan die kruis. Eerstens moet ons onthou in watter angs die Here Jesus verkeer het voor en tydens sy kruisiging. Hy het geweet wat voorlê. Hy het meerdere kere gepreek oor sy lyding, vir sy dissipels, maar ook vir die volk. In die tuin van Getsemane het Jesus die vorige aand angstig gebid, want Hy was bevrees oor die dinge wat voorgelê het (Mark 14:32-36). Jesus het gevra of die beker van Hom af weggeneem mag word, die beker wat Hom uitermate bedroef gemaak het tot die dood toe. Jesus verwys hier na die beker van die toorn van God wat ook so genoem word in Jesaja 51:17: ‘Ontwaak, ontwaak, staan op Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid gedrink het.’ (AFR53)
Jesus het gepraat oor die toorn van God wat op Hom uitgegiet sou word. Toe Hy aan die kruis uitgeroep het: ‘My God, my God waarom het U My Verlaat?’ het hy die ervaring beskryf van die toorn van God. Op hierdie oomblik het die Here sy Seun die straf laat dra. Oor sy Seun het Hy by sy doop gese: ‘Dit is my geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het.’ (Mark 1:11, AFR53) Ons moet onthou dat die Here nog steeds lief is vir sy Seun oor wie hy die beker van toorn uitgegiet het. Jesus self was nog steeds lief vir sy Vader, want Hy was bereid om sy Vader se plan uit te voer.
Daardeur kan ons sekerlik sê dat Jesus angs ervaar het aan die kruis toe Hy die toorn van God ervaar het. Die Drie-eenheid is nie verbreek aan die kruis nie. Hy was selfs in wil nie geskei van die Vader nie, Hy het die Here bly dien deur na sy wil te luister. Die Vader was tevrede met sy Seun. Jesus was bereid om dit te doen deur God sy verlossingsplan te gehoorsaam. Dit neem ons na die volgende punt.
Die betekenis van Jesus Sy woorde aan die kruis: geloof
Ook al roep Jesus uit: ’Hoekom het u my verlaat?’, noem Hy God die Vader nog steeds ‘My God, my God’. Hy is nie geskei van Hom nie, maar bid tot Hom deur Hom as sy God aan te roep. Dit beklemtoon die geloof wat Jesus gehad het. Ja, selfs aan die kruis terwyl Hy die beker van God se toorn ervaar het. Hy het nog steeds ‘n liefdevolle verhouding met sy Vader gehad en Hy het nog steeds vertrou dat sy Vader besig was om sy plan te vervul. Deur dit te sê haal Jesus hier Psalm 22 aan, wat met presies dieselfde woorde begin.
Jesus het geroep uit angs aan die kruis, want sy Vader was nie daar om Hom te help nie. Hy moes die volle las alleen dra. As ons die res van Psalm 22 lees sien ons dat die Here homself nie verwyder het nie. God is nog steeds daar en dit is hoekom Jesus na hom roep. Die manier wat Jesus tot die Vader roep, bevestig dat Hy weet Hy is besig om sy plan te vervul. Hy het vertrou dat God die Vader hom gehoor het toe Hy aan die kruis gehang het. Dit word bevestig deur die laaste woorde wat Hy aan die kruis gesê het en wat opgeskryf is deur Lukas: ‘En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gese: Vader, in u hande gee ek my gees oor!’ Toe Jesus dit gesê het, het Hy sy laaste asem uitgeblaas. (Lukas 23:46, AFR53)
Dit verseker die vertroue en geloof wat Hy in sy Vader het. Om weer terug te val op Psalm 22, staan daar in vers 25: ‘Want hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe die Hom aangeroep het om hulp.’ (AFR53) Dit is uit dieselfde psalm as wat die Here Jesus die Vader aanroep. Al het Jesus doodsangste aan die kruis ervaar, het Hy nog steeds sy Vader verheerlik daardeur, want Hy het sy aangesig nie verberg vir Hom nie. Hy was tevrede met Hom soos Hy dit gedoen het. Net soos Jesaja dit geprofeteer het. (Jes 53:10-12)
Konklusie
Ons kan die gevolgtrekking maak dat die Drie-eenheid nie aan die kruis verbreek is nie. Jesus het aan die kruis in sy menslike natuur die toorn van God alleen gedra, maar net deur sy Goddelike natuur kon hy dit dra (HK Sondag 6). Hy het God se plan ten volle vervul om ons straf vir die sondes te dra en verlossing te voorsien vir wie Hom liefhet. Dit is hoekom die wat waarlik in Hom glo nie hoef te vrees vir God se toorn nie, want die toorn is alreeds uitgegiet oor sy Seun. Ons kan ons troos met die woorde van 1 Petrus 2:24-25: ‘Hy het self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie julle wonde genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou is julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.’ (AFR53)
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp