Die Arend in die Bybel: 'n Simbool van Krag, Beskerming, Onsterflikheid en die Heilige Gees

Die arend is een van die mees kragtige simbole in die Bybel. Hierdie majestueuse voël word gebruik om diep geestelike betekenis oor te dra, soos God se krag en beskerming, die ewige lewe, en selfs die werking van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges. 

Die Arend in die Bybel: 'n Simbool van Krag, Beskerming, Onsterflikheid en die Heilige Gees
Photo by Kea Mowat / Unsplash

Geskryf deur Jorienke van der Linden, VGK Bellville

Die arend is een van die mees kragtige simbole in die Bybel. Hierdie majestueuse voël word gebruik om diep geestelike betekenis oor te dra, soos God se krag en beskerming, die ewige lewe, en selfs die werking van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges. 

Krag en Oorwinning

Een van die mees bekende beelde van die arend in die Bybel is dié van krag en volharding. In Jesaja 40 word die krag van God wat Hy aan hulle gee wat op Hom vertrou, uitgebeeld: “Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.” Jesaja 40:31 (AFR20)

Gelowiges wat in hierdie wêreld leef het bonatuurlike krag nodig. Ons eie krag is nie genoeg om regop te bly staan in geloof terwyl daar allerlei aanvalle van buite (en soms ook van binne) is nie [1]. Ons het God se krag nodig om aan Hom gehoorsaam te bly en om ons oog op die eindstreep van die ewige lewe te hou. Ons kan dit slegs doen deur na sy stem te luister, deur sy Woord te lees. Eers wanneer ons verhouding met God so intiem is, word sy krag ons s’n. 

Hierin sien ons die beeld van die arend op ‘n baie gepaste wyse: die arend gebruik nie sy eie krag en vlerke om ver bo die storms te vlieg nie, maar dit is die windstrome wat hom in die lug hou. Ons weet alreeds hoe die Bybel telkemale die Heilige Gees, God se krag, met die wind vergelyk.[2] Ons as gelowiges sweef soos ‘n arend op die krag van die Heilige Gees deur middel van Bybelstudie en gebed. Deur die Heilige Gees ontvang ons die krag om te volhard, om ons roeping as getuies van Christus te vervul en om te leef volgens God se wil.

Beskerming en Toevlug

Nog ‘n belangrike simbool van die arend in die Bybel is een van beskerming. In Eksodus 19 word die beeld van ‘n arend gebruik om God se beskermende liefde vir Israel te beskryf. Soos ‘n arend haar kuikens dra en beskerm, só dra God ons deur moeilike tye. “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het.” Eksodus 19:4 (AFR20).

Hierdie beeldspraak word op baie ander plekke in die Bybel ook gebruik, veral in die boek Psalms. In die skadu van sy vleuels bied Hy ‘n veilige skuilplek en beskerming vir sy volk.[3] Verder sien ons reeds in die Ou Testament hoe die Heilige Gees ‘n aktiewe rol in die lewens van gelowiges speel. “Hy het sy volk in 'n woestynland gevind, in 'n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die Here hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie.” Deuteronomium 32:10-12 (AFR20).

Die Heilige Gees, die krag van God, lei ons deur die lewe. Hy moedig ons aan om te vlieg en om te groei in ons geloof, maar tog is Hy nooit te ver weg nie. Hy is altyd gereed om ons te vang wanneer ons in die moeilikheid kom of vir die versoeking van vleeslike begeertes val.

Onsterflikheid en Ewige Lewe

Soos reeds genoem is die Psalms vol beeldspraak en metafore. Deur die invloed van oosterse volke het die arend ook die simbool van onsterflikheid en ewige jeug geword. Psalm 103 toon hierdie invloede deur te verwys na die oosterse spreekwoord waar die arend elke tien jaar in die see duik en al sy ou vere agterlaat, waarna hy jonk en met vernuwe kragte weer uitkom [4][5].

“Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos 'n arend word jou jeug dan weer nuut.”
Psalms 103:3-5 (AFR20).

Die verlange na onsterflikheid is deel van die mens se natuur sedert die paradys. Die Bybel stel ons gerus dat daardie verlange na ewigheid nie verkeerd is nie, aangesien ons sterflik geword het na die sondeval. Maar, soos die arend nuut gemaak word, ontvang ons in Christus en deur die Heilige Gees die belofte van ewige lewe en vernuwing. Die arend as simbool van onsterflikheid herinner ons aan die opstanding en ewige lewe wat ons in Christus het. Hierdie belofte staan sentraal in ons geloof en word versterk deur die Heilige Gees.

Gevolgtrekking

Die arend is ‘n diep simboliese beeld in die Bybel wat God se krag en beskerming, die ewige lewe en die werking van die Heilige Gees uitbeeld. Die arend se krag, beskermende natuur en beeld van vernuwing bied ‘n ryk prentjie van hoe God in ons lewens werk en hoe die Heilige Gees ons lei en versterk. Of dit nou gaan oor die oorwinnende krag van God, sy beskermende liefde, die vernuwing van ons jeug of die geestelike insig wat die Heilige Gees bring, die arend simboliseer die volheid van God se werk in ons lewens. Deur God se genade word ons verlos van die verderf en van die verdoemenis van die graf. Slegs deur volkome vertroue op Hom kan ons elke dag begin met ons oë gerig op die ewige lewe.

Bronne:

  1. Ds HH van Alten. 2012. Die Skepper gee krag aan wie op Hom wag! Jesaja 40:30-31. VGKSA. https://www.vgk.org.za/preke/24522
  2. Ds FJ Bijzet. 2000. Die aanwesigheid van die Heilige Gees in ons lewe. Heidelbergse Kategismus Sondag 20. VGKSA. https://www.frc.org.za/preke/23564 
  3. Ds PG Boon. 2021. Hoog op die vaste rots van ons behoud. Psalms 61. VGKSA. https://www.frc.org.za/node/25468
  4. FB Meyer. 1914. Psalms 103:1-12 - The Lord’s abundant mercies. Through the Bible Day by Day. e-Sword® version 14.1.0. www.e-sword.net/support.html
  5. Ds PG Boon. 2013. Om te lewe is om te loof. Psalms 103. VGKSA. https://www.vgk.org.za/preke/24588 

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp