Hoe doen ek Bybelstudie?

Bybelstudie is een van die belangrikste dinge in ons verhouding met God. Deur Bybelstudie leer ons meer van God, die Evangelie en hoe Hy geloof en geprys wil word. Deur die Skrif leer God ons meer van Homself. 

Hoe doen ek Bybelstudie?
Photo by Patrick Fore / Unsplash

Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria

Bybelstudie is een van die belangrikste dinge in ons verhouding met God. Deur Bybelstudie leer ons meer van God, die Evangelie en hoe Hy geloof en geprys wil word. Deur die Skrif leer God ons meer van Homself. 

God het ons op aarde geplaas om Hom te verheerlik. Om Hom te verheerlik soos Hy verheerlik wil word, bestudeer ons die Skrif. Die Skrif leer ons hoe ons meer en meer na die beeld van God kan en moet leef. Dit vind ons nie net in God se wet nie, maar reg deur die Skrif. 

Bybelstudie is om na God te kyk en Hom te leer ken. In gehoorsaamheid aan God se Wet, moet ons nie net luister na wat die Skrif van ons vra nie. Bybelstudie moet ʼn hartsverandering in jou bewerkstellig. 

ʼn Hartsverandering kan nie plaasvind sonder die werk van die Heilige Gees nie. Daarom is gebed ook ʼn belangrike aspek van ons Bybelstudie. Bid dat die Heilige Gees kragtig in jou sal werk, jou hart sal oopmaak om jou te verander en, indien jy afgedwaal het, weer terug na Hom te bring. 

Daar is baie metodes en studieplanne om die Woord te bestudeer. Soek maar net: ‘how to study the Bible’ en jy sal talle webblaaie vind. Ek deel graag ʼn paar metodes:

  • Karakterstudie: Hier fokus ‘n mens op spesifieke karakters in die Bybel, soos byvoorbeeld Ester, Dawid of Jona. Ons kan baie lesse uit hulle lewens leer en dit toepas op ons eie lewens. 
  • Bybelboekstudie: Dit is een van die mees bekende studiemetodes, waar ons soek na die hooftema, subtemas, lesse, herhalings, die doel van die Bybelboek, ens. 
  • Tema- of Onderwerpstudie: Dit sluit temas oor uitverkiesing, aborsie, “LGBT++” beweging ens. in.
  • Woordstudie: Hier bedoel ek spesifieke woorde, soos die woord “liefde” wat drie verskillende woorde in Grieks is.

Kommentare en preke is baie nuttig vir Bybelstudie. Voordat ‘n mens egter na verskeie mense se kommentare kyk, is dit belangrik om eers te vra: “Wat sê die Bybel? Wat sê die vers in die konteks van die hele hoofstuk, die hele Bybelboek en die hele Bybel?”

Baie keer as ons nie verstaan wat die skrywer bedoel nie, sal ons vinnig gaan kyk na kommentare en hoe ander mense dit verstaan, in plaas van om dieper te delf en te vra: “Wat beteken hierdie vir my?” Ons is bang dat ons die Bybel verkeerd gaan verstaan en op ʼn dwaalspoor sal kom. Ons moet besef dat alhoewel dit ʼn realiteit is, die Heilige Gees ons sal lei in ons Bybelstudie. 

Induktiewe Bybelstudie is ʼn studiemetode waar ons eers kyk wat die Skrif sê, voordat ons iemand anders se werk gaan opsoek en sien hoe hulle die stuk benader. Induktiewe Bybelstudie word verdeel in drie dele, naamlik: observasie, interpretasie en toepassing. Die drie vrae wat ons vra is: “Wat?”, “So wat?” en “Wat nou?”

Observasie 

Ons kyk na die groter prentjie en kry ‘n oorsig van waaroor ‘n spesifieke teks gaan. Dan vra ons: “Wat?” Dit is ʼn soeke na feite. Ons kyk na die agtergrond inligting, soos wie dit geskryf het, wat die omstandighede was, waar dit geskryf en gelees is, belangrike plekke waarna verwys word, die historiese konteks en die doel waarmee dit geskryf is. 

Deel van observasie is om te “slow down”. Hierdie vrae help ons om dinge raak te sien wat ons gewoonlik miskyk, en konneksies te maak met ander dele in die skrif. 

‘n Nuttige taktiek kan wees om sleutelwoorde uit te lig. Dit help ons om te fokus op die belangrikste punte. Verwysings na God kan amper orals in die Bybel as sleutelwoorde uitgelig word. Die doel van Bybelstudie is immers om meer van God te leer. 

Lysies is ook ʼn manier om Bybelstudie makliker te maak. As jy byvoorbeeld 1 Korintiërs 13 lees, waar liefde ʼn sleutelwoord in die teks is, kan jy ʼn lysie maak van dit wat die liefde is en nie is nie. Dit kan jou help om dit op te som. In elke stuk in die Bybel is dit baie belangrik om te vra: “Wat leer ek van God in hierdie stuk?”

Interpretasie

So wat? (In Engels: “So what?” ) Wat beteken dit vir my? Vir my lewe? Die ding wat interpretasie so interessant maak is die feit dat niemand presies dieselfde dink oor ʼn spesifieke stuk nie. Dit is nie ʼn “one size fits all” nie. Vir elkeen van ons in ons eie omstandighede, beteken dit iets anders. 

Dit is baie belangrik om die skrywer se vloei van sy gedagtes te verstaan, voordat ons dit kan interpreteer. Dit is moeiliker om Paulus se lang sinne te verstaan as om die verhaal van Dawid en Goliat te verstaan. As ons sukkel om sinne te verstaan, kan ons dit opbreek. Dit sal dit makliker maak om te verstaan wat die skrywer se bedoeling is. 

Kruisverwysings in die Skrif kan jou ook help om dit te verstaan. Daar is nie altyd so baie Skrifverwysings in ons Bybels nie. Die Treasury of Scripture Knowledge (https://tsk-online.com/) het meer kruisverwysings en wys presies watter woorde kruisverwys word. 

Buiten kruisverwysings help Griekse en Hebreeuse woordstudies ook, soos Strong`s Exhaustive Concordance of the Bible (https://www.eliyah.com/lexicon.html). Hier kan jy die woord in ʼn spesifieke teks in die konkordansie opsoek. Elke woord is genommer volgens die Hebreeuse of Griekse woord wat gebruik word in die grondteks. Die woord “liefde” in Genesis 29: 32 se nommer is byvoorbeeld H157. In die leksikon word die betekenis van die woord verduidelik. 

As die teks nog steeds vir jou moeilik is om te verstaan, is dit ʼn goeie idee om tog kommentare te lees. Maak net seker dat jy Skrifgetroue kommentare lees. 

Toepassing

ʼn Mens kan nie stop by wat die Skrif jou leer nie. God wil jou hart verander. So wat nou? Hoe moet ek my lewe verander? Dit is die algemene vraag. 

ʼn Mens kan maklik ʼn verkeerde toepassing maak. Ons is geneig om ʼn les of ‘n gebod te soek, maar ons bestudeer nie in die eerste plek die Bybel om die wette na te kom nie. Ons kan ook nie die verse uit konteks haal om iets te beteken wat ons wil hê dit moet beteken nie. 

Die Bybel gaan nie oor ons nie, dit gaan oor God. Hy is die protagonis in die Bybel. Ons is nie eens die antagoniste in die Bybel nie. Ons is niemand nie. Daarom, as ons ʼn toepassing maak, moet die toepassing nie oor ons gaan nie. Die toepassing het te doen met ons, maar dit gaan nie oor ons nie. 

Die toepassing begin by God. Jy kan eerder vra: “Wat het ek van God geleer?” en “Hoe kan ek meer na die beeld van God leef?” Die hart van toepassing is: Laat die Woord toe om die manier waarop jy dink, voel en leef te verander om meer na God se beeld te streef. 

Die belangrikste van Bybelstudie is om jou oë op God gerig te hou. Laat die Heilige Gees jou lei om uit liefde vir God Bybelstudie te wil doen, om Hom nog meer te verheerlik in jou lewe. 

“Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie getuienis voor baie getuies afgelê het.” 1 Tim. 6: 12

Bronne

  • Erickson, C. K. (2020, February 23). The Important Skill Your Students Need: How to Love God Through Studying His Word. Retrieved from Rooted Ministry
  • Forster, K. (2019). Transformed by Truth: Why and How to Study the Bible for Yourself as a Teen. Crossway.
  • Kim, D. (2022, December 26). 11 Ways to Study the Bible: Methods, Techniques & Tips. Retrieved from Pursuit Bible

Ander aanbevole bronne

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp