Die krag van gebed

Gebed is 'n algemene praktyk onder Christene. Dit is ons manier om met die Here te praat en om so ons verhouding met Hom te versterk. Deur gebed kan ons die Here vra vir vergifnis, ons sonde bely, vra vir sterkte, ensovoorts. Daarom sal gebed ook ‘n tipe krag hê

Die krag van gebed
Photo by Stormseeker / Unsplash

Geskryf deur Christiaan van Vondel, VGK Bellville

Gebed is 'n algemene praktyk onder Christene. Dit is ons manier om met die Here te praat en om so ons verhouding met Hom te versterk. Deur gebed kan ons die Here vra vir vergifnis, ons sonde bely, vra vir sterkte, ensovoorts. Daarom sal gebed ook ‘n tipe krag hê. Die Here weet waarvoor ons bid en kan besluit of Hy ons gebede wil verhoor. Daarom is dit wonderlik dat gebed dinge in ons alledaagse lewe kan verander.

Wat sê die Bybel oor gebed?

Daar is verskeie voorbeelde wat handel oor die effek of krag wat gebed op ons het. In Filippense 4:6 staan: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.” Hiermee wil die Here vir ons sê dat ons nie oor goed moet bly bekommer nie, maar eerder daaroor moet bid as ons onseker is. Die Here sal besluit of Hy ons gebed gaan verhoor as ons na Hom kom. As die Here nie die gebed verhoor nie, moet ons weet dat Hy 'n ander plan in gedagte het. Hy het ‘n plan met almal van ons se lewens en weet klaar waarvoor ons wil bid, selfs nog voordat ons bid.

Die krag van gebed

In Matt. 18:18-20 praat die Here oor hoe Hy ons gebed sal verhoor en dat Hy teenwoordig sal wees tydens gebed. Voorbeelde van die krag van gebed kom voor op 'n klomp plekke in die Bybel:

  • Moses en die skeiding van die Rooisee.
  • Elia wat gevra het vir drie jaar sonder reën.
  • Lasarus wat uit die dood opgewek is.

Dit wys dat gebed krag het, maar beteken nie jy sal alles sal kry waarvoor jy bid nie. As jy byvoorbeeld vir die Here vra om vir jou 100% vir 'n toets te gee, sal dit moontlik nie gebeur as jy nie self ook jou kant bring nie. 'n Mens kan wel klein begin en vra dat Hy jou krag kan gee om te leer, sodat jy jou doelwit kan bereik. Soos reeds genoem, het die Here 'n plan met ons lewens en daarom kan ons weet dat alles volgens Sy wil is, al is dit nie wat ons wil hê nie. Daarom is dit 'n goeie beginsel om vir die Here te vra om jou te beskerm in alles wat jy doen. Ons gebed het regtig baie krag en ons besef nie hoe sterk dit is nie. Gebed is 'n aksie van aanbidding wat Hom verheerlik en ons behoefte aan Hom versterk. Deur 'n goeie gebedslewe te lei, praat ons met die bron van ons lewe en ons rede om te lewe. Dit is die Here. Gebed is ons grootste wapen teen al die vyande in hierdie wêreld.

God is almagtig

Die Here is almagtig. In Luk. 1:37 staan: “Want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie”. Hy wil hê ons moet met Hom praat in geloof (Jak 1:5) en met danksegging (Fil. 4:6). In Luk. 18:1 lees ons: “Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om te bid en nie moed te verloor nie”. Daarna volg die gelykenis van die weduwee en die regter.

So as enige van ons oor iets stres of bekommerd is, moet ons eerder bid tot die Here, soos wat ons hoor in Fil. 4:6: “Moet oor niks bekommer nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend”.

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp