Wat is ware vryheid vir ons op aarde?
Wat is ware vryheid? Baie mense dink om vry te wees beteken om te doen wat jy wil. Daar is geen reëls wat jou beperk nie en jy kan self besluit wat reg en verkeerd is. Maar hoe verstaan ons as Christene vryheid?
Van nature is ons as mense slawe van die sonde. Paulus skryf in Romeine 6:20: “Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie.” Wanneer jy dus doen wat jy wil, is jy ‘n slaaf van jou sondige begeertes. Jy word deur jou eie sondige natuur beheer en kan uit jouself niks doen om van hierdie slawerny bevry te word nie.
Psalm 124 illustreer iets van hierdie hulpelose situasie waarin ons sou gewees het as die Here ons nie verlos het nie. Dawid was op verskeie oomblikke in sy lewe omring deur mense wat hom wou doodmaak, vasgevang in die mag van sy vyande. Hy gebruik in hierdie psalm 3 beelde om hierdie toestande te beskryf. Sonder die Here, was Dawid soos iemand wat deur ‘n stroom weggespoel word (vers 4-5). Sonder die Here, was hy soos ‘n weerlose bokkie wat deur ‘n roofdier gejaag en verslind word (vers 6). Sonder die Here, was hy soos ‘n klein voëltjie wat in die net van ‘n voëlvanger vasgevang is (vers 7).
Dis ‘n wrede, skrikwekkende beeld wat hier geskets word. Maar dis presies hoe ons lewe sonder die Here lyk, vasgevang in die mag van die sonde. Ons word weggespoel en oorweldig deur die verleiding van die sondige wêreld. Ons word deur ons eie sondige begeertes verwoes en verskeur. Ons is vasgevang in die net van die duiwel, magteloos.
Dit is egter nie waar die psalm eindig nie. Luister na vers 7: “Ons siel het vrygeraak soos 'n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak.” Die Here het ons verlos deur Jesus Christus. Jesus het in ons plek gely en is gekruisig. Hy het die straf van al ons sondes gedra. Aan die kruis het Hy uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Net soos wat ‘n slaaf se rekening afbetaal word, so het Christus ons skuld ten volle betaal en ons losgekoop. Ons is nou vry!
Wat beteken dit vir ons lewe? “Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie!” (Galasiërs 5:1). Ons moet dus soos vry mense lewe. Maar hoe doen ons dit? ‘n Predikant het eenmaal die voorbeeld van ‘n vis gebruik. ‘n Vis is vry wanneer hy in die water is, nie as hy op droë land is nie. Geen vis sal dink dat die water sy vryheid beperk of dat hy eerder op die land wil swem nie. ‘n Vis is vry wanneer hy is waar hy moet wees en doen wat hy moet doen.
Dit is ‘n treffende voorbeeld om ons lewe as vry mense te beskryf. Ons is vry wanneer ons leef waarvoor ons gemaak is - wanneer ons binne die perke, die reëls, leef wat God vir ons ingestel het. Ons is gemaak om in gemeenskap met God te lewe en aan Hom gehoorsaam te wees.
Hierdie dinge is juis moontlik gemaak deur die verlossingswerk van Jesus Christus. Deur sy kruisiging het Hy ons verhouding met God herstel. Hy het die Heilige Gees in ons harte uitgestort om ons te lei en te heilig sodat ons al meer aan God gehoorsaam kan wees. Deur die werking van die Heilige Gees het die sonde nie meer ‘n houvas oor ons lewe nie - ons is vry van die mag van die sonde. Daarom kan ons nou daarteen stry.
Dis belangrik om hierdie vryheid wat Christus vir ons verwerf het, nie te misbruik nie. Ons is nie vry om te sondig nie, maar vry van die sonde. Petrus verduidelik dit soos volg in 1 Petrus 2:16: “Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God.”
Ons gaan egter nooit op aarde volkome vry kan leef nie. So lank as wat ons hier op aarde is, leef ons steeds in ‘n sondige wereld en stry ons daagliks teen ons sondige natuur. Ons kan egter uitsien na die lewe hierna wat sal aanbreek met Chistus se wederkoms. Dan sal ons volkome verlos word van die sonde en die gevolge van sonde. Ons sal volmaak in God se teenwoordigheid kan leef asook lewe waarvoor ons gemaak is. Ons sal waarlik vry wees!
Laat ons daarom daarna streef om al meer soos vry mense te lewe. Laat ons, deur die krag van die Heilige Gees, aanhou stry teen die sonde. Laat ons uitsien na die ewige lewe in volmaakte vryheid. En laat ons God altyd prys vir sy verlossing en die vryheid wat Hy aan ons geskenk het. Soos wat ons sing in Psalm 124:4 (berymd):
“Die troue HEER het self ons vrygemaak:
die strik is los en ons het vrygeraak,
vry soos ‘n voël wat vind sy vryheid weer.
Die eewge God, van alle dinge HEER,
Hy is ons hulp, Hy het ons vrygemaak.”
Bronnelys
- Oordenkings uit die Woord (2022) Oordenking – Psalm 124. 3 November 2022. Beskikbaar by: https://www.youtube.com/watch?v=odllKs6olbw.
- Zwemstra, H.M. (2021). Preek op Kerkdienstgemist, Gereformeerde Kerk Walvisbaai/Swakopmund. Gelewer op 1 Augustus 2021.
Geskryf deur Jéan Goodey, VGK Maranata