Wat is tyd?

Elke sekonde wat verbygaan, beskryf ’n nuwe dimensie van tyd; partykeer is ons bewus daarvan, maar ander kere word ons met skok gevang dat tyd so vinnig verbygegaan het. Tyd is dus ’n dimensie in ons lewens.

Wat is tyd?
Photo by Agê Barros / Unsplash

Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria-Maranata

Elke sekonde wat verbygaan, beskryf ’n nuwe dimensie van tyd; partykeer is ons bewus daarvan, maar ander kere word ons met skok gevang dat tyd so vinnig verbygegaan het. Tyd is dus ’n dimensie in ons lewens. Ons raak ouer as gevolg van tyd. Gister is nie dieselfde as vandag nie, en môre ook nie – oomblikke wat jy nou beleef gaan jy nooit weer presies dieselfde beleef nie. Vir die meeste van ons begin tyd in die oggend wanneer ons opstaan. ’n Goeie nagrus voel nie soos 8 ure nie, maar ’n slapelose nag kan oneindig lank voel. Tog kan ons nie die persepsie (gevoel) van tyd beheer nie. Wanneer ons iets geniet, kan ons nie die tyd “stadig” laat verbygaan nie, en wanneer ons teen iets opsien, kan ons ook nie die tyd “vinnig” laat verbygaan nie. Hoe gereeld wens ons nie ons kon “tyd terugdraai” of “time travel” soos in party films uitgebeeld word nie?

Dikwels as ons wonder waar tyd beheer word, dink ons aan die Big Ben in Londen, maar selfs die Big Ben moet ook gereeld gereguleer word om die regte tyd weer te gee (net soos jou horlosie of karradio). Hoe werk tyd dan?

Die internasionale koördinasie van tyd op aarde word beheer deur die International Earth Rotation and Reference Systems Service (IERS). Hulle is verantwoordelik daarvoor om seker te maak dat ons tyd reg meet, deur 'n oog te hou op die aarde se rotasie wat nie altyd konstant is nie. Die bekende aardbewing in Japan (11 Maart 2011) het veroorsaak dat die IERS ’n dag op aarde 1.8 mikrosekondes korter moes verklaar. Die tydsones wat ons vandag ken, word deur atomiese klokke regoor die wêreld beheer. Deur ’n elektromagnetiese veld wat ossilleer wanneer ’n spesifieke atoom gebruik word, kan die klokke tyd akkuraat weergee (só goed dat die beste onder hulle tot ’n maksimum van 1 sekonde uit kan wees oor 5 biljoen jaar!). Maar dit alles is instrumente om tyd te meet. Tyd is steeds nie in beheer van enigiemand op aarde nie, dit word slegs waargeneem deur mense, net soos die weer en natuur rondom ons. So wat is tyd?

In die 17de eeu het Isaac Newton tyd beskryf as “’n pyl wat geskiet word van ’n boog, wat in ’n reguit lyn beweeg en nooit afwyk van sy pad nie.” Maar Newton het aangeneem dat lig teen ’n konstante snelheid beweeg, en die heelal dus ook. In 1905 het Albert Einstein beweer dat die spoed van lig nie konstant is nie omdat dit fluktueer as gevolg van gravitasiekrag. Verskillende liggame in die heelal het verskillende massa en snelheid, wat beteken dat tyd op aarde anders is as op ’n ander planeet in die heelal. Dus beweeg tyd ook in sy eie ruimte of dimensie. Dekades later kon wetenskaplikes vir die eerste keer Einstein se teorie bewys deur atomiese klokke regoor die breedte van die aarde te plaas. Tot vandag toe word ons tyd deur atomiese klokke gemeet.

Verskillende gelowe regoor die wêreld het elkeen ’n ander begrip van tyd, selfs al erken almal dat tyd wetenskaplik bewys is. Die Grieke het twee woorde vir tyd: chronos (chronologiese tyd) en kairos (subjektiewe tyd) – waar chronos die wetenskaplike tyd is en kairos die gevoel van tyd weergee. Ander gelowe soos Hindoeïsme en Boeddhisme hang egter die konsep van “a wheel of time” aan wat bestaan uit die herhaling van siklusse – dink maar aan die konsep van reïnkarnasie waar jy ’n koei kan word na jou sterwe as jy ’n goeie lewe gely het. Ons as Christene glo weer dat God tyd geskep het, maar dat tyd ook tot ’n einde sal kom (die “eindtyd”).

Die tyd is dus deur die wetenskap en filosofie gedefinieer, maar die geluid van ’n sekonde, die slag van elke uur op die Big Ben en die wêreldwyd eenvormige tydstandaard gee tog die indruk dat tyd niks anders as orde is nie. God is tog ook die “God van orde” (1 Korinthiërs 14:33)!

God is ten volle in beheer van tyd. Tyd sou nie sonder God kon bestaan nie en tog het God nie tyd nodig nie. Tyd is deur God geskape. Om dit te verstaan, moet ons na Genesis 1 gaan kyk. Die eerste ding wat God geskep het, is lig (daarom maak dit sin dat Newton en Einstein tyd kon aflei van die spoed van lig). Daarmee saam het God ook dag en nag geskape. Tyd en verandering gaan hand aan hand, maar God verander nooit. Ons as mense beleef daagliks verandering (dink maar aan ouderdom of om iets aan te leer). Elke sekonde is ’n ander, nuwe hartklop vir ons, maar God bly onveranderlik vir ewig. Die besef van God se ewigheid is vir die mens moeilik om te plaas. Om dit ’n bietjie beter te verstaan, moet ons die verskil tussen eindeloos en ewig verstaan. Eindeloos sou vir ons wees soos nou, die tipe tyd wat ons nou beleef, maar net sonder einde. Ewig is iets anders, iets sonder begin en einde. Al sou ons graag ’n begin en einde daaraan wou plaas, is God alreeds die begin en die einde (Openbaring 1:8).

God gebruik self tyd in die Bybel. Dit is egter soms steeds onverstaanbaar hoe God “tydloos” bestaan, maar steeds bepaalde tye het vir sy verlossingsplan. Christus se koms op aarde word beskryf as die “volheid van die tyd” (Galasiërs 4:4)! Sy koms na die wêreld was nie net ’n sekere tyd deur God bepaal nie, dit was die “volheid” daarvan. Die “volheid” van iets beteken dat dit vervul is, God se tydsberekening was perfek. Christus se koms was die belangrikste oomblik in die geskiedenis. Die tyd toe Israel God se volk was en die wette onderhou is, is nou vervul in Christus. Na Christus se koms het die hele wêreld ’n nuwe tyd ingegaan, vir almal tot aan die eindes van die aarde is daar dieselfde genadevolle boodskap van die uitsien na die koms van die nuwe hemel en aarde! God het die eerste koms van die Messias nie ’n oomblik vertraag nie. Hy sal dit ook nie doen wanneer Christus weer kom op die wolke nie!

Ons sien gereeld dat God se raadsplan tyd bevat. Ons mag die lewe wat God vir ons gegee het, voluit lewe, al is ons lewe so onvoorspelbaar. Die eeu is in ons hart gelê (Prediker 3:11), want ons word gebore op ’n sekere tydstip en ons sterf weer op ’n ander tydstip, sonder dat ons die werk van God (sy skepping) van begin tot einde sal beleef. God bepaal tyd. Prediker 3:1-8 sê:

“ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe,
’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te roei wat geplant is,
’n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak,
’n tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou,
’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag,
’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om van vreugde rond te spring,
’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak,
’n tyd om te omhels en ’n tyd om ver te wees van omhelsing,
’n tyd om te soek en ’n tyd om verlore te laat gaan,
’n tyd om te bewaar en ’n tyd om weg te gooi,
’n tyd om te skeur en ’n tyd om aanmekaar te werk,
’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek,
’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat,
’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.”

Dit alles word deur God bepaal! Ons kan nie bepaal of ons môre bly of hartseer gaan wees nie, selfs al beplan ons iets opwindends. Dit alles is in God se beheer. God het ook sy standaarde vir ons gestel met die skepping. Ses dae het Hy gearbei en op die sewende dag het Hy gerus van al sy werk. Daarom is daar ook “ ’n tyd om te rus en ’n tyd om te werk.

Eendag sal Christus terugkom! Spoedig, soos Christus sê in Openbaring 22:20: “Kyk, Ek kom gou!” Maar God se tyd is anders as ons tyd. God het sekere tye en geleenthede bepaal, maar in plaas daarvan om vir ons te sê wanneer Hy sal terugkom, het Hy vir ons die Heilige Gees gegee (Handelinge 1:6-8). Die Heilige Gees wat by ons sal wees tot die einde toe! Soos ons elke dag deur ’n horlosie herinner word hoe laat dit is, herinner die Heilige Gees ons elke dag aan die “eindtyd” en berei ons daarop voor.  

Maar wat is die “eindtyd” dan? Johannes word in Openbaring vermaan om dit wat hy gesien het, nie vir homself te hou nie, maar dit te versprei, want die “eindtyd” is naby (Openbaring 22:10). Ons mag eendag in die hemel ewig lewe, nie eindeloos nie. Daar gaan ’n einde aan tyd wees (Openbaring 21:25) daarom sal die ewigheid nie eindeloos voel nie, maar dit sal onbeskryflik wees - iets waarna ons mag uitsien! Eendag wanneer ons hemel toe gaan, sal alles vir ons openbaar word. Ons gaan nie meer lewe in ’n eeu nie. Iets soos ouderdom gaan nie deel van ons wees in die ewigheid nie, ons verheerlikte liggame gaan tydloos en ewig wees! Ons sal nie meer net in ’n klein deel van die geskiedenis wees nie, maar ons mag dan God se skepping van begin tot einde beleef en deel wees daarvan! God, wat die God van orde is, het alles in sy beheer, en al mag sekere “sake” op aarde vir ons nie sin maak nie, is daar “vir elke saak onder die hemel ’n tyd”, tot so ’n mate dat God dit ten volle beheer tot die einde toe. Tyd gaan dan nie meer vir ons ’n dimensie wees – iets wat elke sekonde verander nie, maar iets ewigs – iets wat vir ons geopenbaar word in God se heerlikheid!

Bronne

https://www.pressreader.com/australia/science-illustrated/20211001/281895891389289
https://www.space.com/time-how-it-works
https://www.abc.net.au/science/articles/2011/11/15/3364432.htm
https://www.travelchinaguide.com/intro/focus/calendar.htm
https://en.wikipedia.org/wiki/Time_perception
https://en.wikipedia.org/wiki/Time
https://faithequip.co.za/die-volheid-van/
https://youtu.be/7P3Ous2IjiQ
https://youtu.be/5vzymaIabWI
https://www.livescience.com/32660-how-does-an-atomic-clock-work.html
https://www.youtube.com/watch?v=wwvkdqDoqdM

Olielamp links: Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp