Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?

“Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?” Dit is ‘n vraag waaroor mens nogals kan nadink. Dalk vra jy jouself af wat ons alles in die Hemel gaan doen, hoe dit daar gaan wees en of jy jou gesin en vriende gaan herken?

Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?
Photo by Alexander Andrews / Unsplash

Geskryf deur Liani Miske, VGK Maranata

“Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?” Dit is ‘n vraag waaroor mens nogals kan nadink. Dalk vra jy jouself af wat ons alles in die Hemel gaan doen, hoe dit daar gaan wees en of jy jou gesin en vriende gaan herken? Kom ons staan stil by die groot geskenk wat God vir ons deur sy genade geskenk het - die ewige lewe - en wat ons daaroor uit die Bybel mag lees.

As Christene mag ons ons daarin berus dat, as een van ons geliefdes deur God na Hom geneem word, ons hulle weer eendag sal ontmoet in die hemel. Verder mag ons weet dat hulle in die beste plek is - in die teenwoordigheid van God. Soos Psalm 90 ons leer, bestaan ons as mens nie ewig soos ons nou is nie, maar God wel. Dus is “ons dae getel”. Ander denominasies of gelowe het nie hierdie voorreg om berusting in die dood te ontvang nie. Atteïste, byvoorbeeld, kry selde ware berusting oor ‘n geliefde se dood, en lede van die Rooms Katolieke-demoninasie wonder tot die dood toe of hulle goeie werke hulle in die hemel sal kry. Ons mag egter weet dat ons deur God se genade, en deur die bloed van Jesus Christus, die ewige lewe mag ontvang. Nie omdat ons dit verdien nie - glad nie. Inteendeel, ons kan niks doen om ons saligheid te beërwe nie. Ons mag dit glo. Wanneer ons glo, sal daar ook vrugte van die geloof uit ons spruit as dankbaarheid vir die groot geskenk wat God ons gee. Ons bely ook in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat ons glo in die opstanding van die liggaam. Hierin vind ons die troos dat ons na ons dood onmiddelilk by God opgeneem word en dat ons nooit meer van Hom geskei sal word nie.

Dit beantwoord egter steeds nie ons vraag nie. Kom ons kyk wat staan in die Bybel oor die ewige lewe. In die Ou Testament profeteer Jesaja al oor die belofte van die nuwe hemel en nuwe aarde (Jesaja 65 en 66). In die Nuwe Testament vind ons ook baie skrywers wat na die nuwe hemel en aarde verwys, soos Petrus, Johannes en Paulus. In die Openbaring van Johannes staan daar: “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openbaring 21:5, AFR53). Hier word gepraat van die nuwe aarde, maar daar staan nie dat God sy skepping tot niet gaan maak nie. Nee, Hy gaan dit weer nuut maak, bevry van al die sondes, want Hy het met die skepping reeds alles goed geskape (Genesis 1:31). Gelowiges wat dan hemel toe gaan na hulle dood, wag vir hierdie nuwe aarde totdat Christus weer na die aarde toe kom om Sy volle koningskap te aanvaar. Hulle mag rus van die stryd en swaarkry wat hulle ervaar het as gevolg van die sonde op die aarde. Daar mag hulle ook God verheerlik en die eer gee wat Hom toekom (Openbaring 4:11). Daar pleit hulle ook by God dat die dag van die nuwe hemel en nuwe aarde sal aanbreek.

Die Bybel leer ons ook van die oordeelsdag. Die oordeel sal plaasvind na die wederkoms van Jesus Christus. Ons moet nie God se oordeel onderskat nie. God is Heilig en regverdig. Die sonde moet gestraf word en elkeen van ons gaan verantwoording moet doen vir ons aardse optrede. Hierdie hoef ons nie bang te maak nie, maar moet ons waarsku. Gelukkig mag ons weet dat daar vryspraak vir ons is, alleen deur geloof in Jesus Christus. Die laaste oordeel moet vir ons vertroosting gee dat alle kwaad en onreg volledig opgelos sal word.

Ons sien dalk partykeer op teen die dood of is dalk bang daarvoor, maar in sulke tye kan ons luister na wat Paulus in Filippense 1:21 sê: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Paulus sien hier sy eie dood nie as ‘n verlies nie, maar as ‘n wins, omdat dit dan sou beteken dat hy by Christus mag wees. Daar staan wel nie dat Paulus begeer om te sterf nie, maar hy begeer om by Christus te wees, want die dood bly ons laaste vyand. Ons mag juis uitsien en verlang na die dag wanneer ons Christus in die Ewige lewe gaan ontmoet.

Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp