"Want baie is geroep, maar min uitverkies"
“Baie is geroep, maar min uitverkies” – nie ‘n waarskuwing nie, maar ‘n uitnodiging tot gereedheid en dankbaarheid. Uitverkiesing is genade, nie verdienste. Wat beteken dit regtig om uitverkies te wees – en sien jy dit as ’n voorreg?

Geskryf deur Aniek Moes, VGK Pretoria
“Want baie is geroep, maar min uitverkies” (Matthéüs 22:14, AFR53). Soos alle verse in die Bybel moet jy die vers in konteks lees. Hierdie teks is aan die einde van die gelykenis van die bruilofsfees geplaas. In die gelykenis gaan dit oor die bruilofsmaal wat die Here vir ons gereed maak. Hy nooi baie mense, eers die Jode (sy uitverkore volk), maar nadat die genooides almal verskonings gehad het, gee Hy die opdrag om almal te roep. Hierdie is vir ons ‘n waarskuwing dat ons nie te besig met ons aardse dinge moet wees nie, maar gereed moet wees vir Jesus Christus se wederkoms. Ons moenie verskonings uitdink as die Here ons die opdrag gee om Hom te volg nie (Matthéüs 8:22). Met sy kruisiging het Hy die pad oopgemaak vir almal en daarom word almal uitgenooi na sy Bruilof. Die fout lê dus nie by die Here nie, Hy het almal geroep. Sy deure staan oop; dis ons wat Hom verwerp.
Ons moet roep
Die feit dat daar min mense uitverkies is, beteken nie dat daar nie meer geroep moet word nie. God het ons die opdrag gegee om dissipels van alle nasies te maak (Matthéüs 28:19). Ons moet sy uitnodiging die wêreld instuur. Ons moet almal oproep om gereed te maak vir die Bruilof. Maar óns kan hulle nie laat kom nie, die Here sal dit in hulle harte werk om te kom. Hierdie gelykenis kan egter nie deur ons as ‘n verskoning misbruik word om te sê dat mense tog nie vir ons sal luister nie. Of dat, as die Here mense uitverkies het en belowe het dat hulle dan na sy Bruilof sal kom, Hy daarvoor sal sorg dat hulle sal kom en dat ons dus niks daarvoor hoef te doen nie.
Maak min tevergeefs?
As daar min mense uitverkies is, maak dit Christus se sterwe minder werd? Ons moet onthou dat God se werk en sy planne nooit tevergeefs is nie. Hy gebruik ons om sy Naam te verkondig en Hy het ‘n plan. Jy kan nie kies of jy deel van sy plan wil wees nie, jy ís deel. Sonder God is alles tevergeefs en sou niks bestaan nie (Psalm 127). Ons kan ook wonder of dit nie tevergeefs was dat Jesus so erg moes ly as daar maar min is wat uitverkies is nie. Laat ek dit so vra: Is dit tevergeefs om vir vyf mense langs die pad kos te gee terwyl daar derduisende is wat nog honger ly?
In die gelykenis kan dit miskien voel of die Here hier sê dat Hy mense uitverkies het, ómdat hulle na sy Bruilof wil kom, maar dit is nie die geval nie. Die Here het ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (Efesiërs 1:4). Gelukkig hoef ons nie te besluit wie uitverkies is of nie, ons moenie probeer inmeng in God se besluite nie.
Is jy reg vir die Bruilof?
‘n Vraag wat ons onsself moet afvra, is: Is ons opgewonde vir die Bruilof van die Here? Net soos ons byvoorbeeld vir een van ons familielede of vriende se troues is? Of het ons “belangriker” dinge wat ons gedagtes en tyd in beslag neem? Berei ons ons voor vir die Bruilof van die Lam? Ons moet gereed wees, net soos die vyf wyse meisies (Matthéüs 25:1-13). Ons moet reg “aantrek”. ‘n Mens gaan nie na ‘n bruilof in ‘n kortbroek en plakkies nie, so moet ons nie soos die man in die gelykenis sonder ‘n bruilofskleed kom nie. Ons moet soos Christene leef en ons met die vrugte van die Gees beklee. Net soos die kleed in die gelykenis aan die gaste gegee is, het die Here ook die Heilige Gees vir ons gestuur sodat ons vrugte kan dra. In hierdie Bybelgedeelte hou die Here ‘n spieël voor ons en ons moet kyk of ons gereed is vir die Bruilof. Het ons die regte klere aan en maak ons tyd vir Hom? Is ons beklee met Christus se geregtigheid?
Die vers “Want baie is geroep, maar min uitverkies” is nie ‘n ontmoediging nie, maar juis ‘n aanmoediging om gereed te wees. Nóú - nie êrens later in jou lewe nie.
Leef in dankbaarheid na die laaste dag
Ons hoef ook nie bang te wees vir die oordeelsdag nie. Of bekommerd te wees of ons uitverkies is of nie, want as die Here ‘n goeie werk in ons begin het sal Hy dit voleindig (Filippense 1:6)
Die Griekse betekenis van die woord “uitverkiesing” in hierdie gedeelte beteken “om bevoorreg te wees”. Ons is bevoorreg om gered te wees, God is nie verplig nie. Hy is genadig. Sien ons dit nog as ‘n voorreg?
In die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 gaan dit oor die vraag of jy, as jy uitverkies is, weer afvallig kan word. Ons sien daar dat mense ’n roeping kan verstoot, maar dat ‘n mens nie jou uitverkiesing kan verwerp nie.
Die uitverkiesing kan baie keer onregverdig voel. Maar God weerhou nie sy Woord van mense nie. Almal het die geleentheid om na sy Bruilof te kom en die Bybel is vir almal beskikbaar. Baie mense wil net nie sy Woord aanvaar of glo nie. Ons moet onthou dat dit net genade is dat die Here sommige mense uitverkies het. Hy kon ook almal net so in die sonde gelos het, maar Hy is genadig. Ons moet dus eerder dankbaar as kwaad wees. Die punt bly: of daar nou baie of min uitverkies is, dit is net genade. As God ons nie gekies het nie, sou ons heeltemal verlore wees.
Mag hierdie vers ons almal bemoedig en ook aanspreek om die uitnodiging na die Bruilof bekend te maak aan die hele wêreld.
Bijzet, FJ. (2015, Januarie 01). Baie is geroep, maar min is uitverkies. [Preek] https://www.vgk.org.za/preke/24641
Olielamp links: Die Olielamp Potgooi | Instagram | Facebook | Skryf vir ons! | Meer oor die Olielamp