Vyfde gebod: Eer jou vader en jou moeder

Vyfde gebod: Eer jou vader en jou moeder
Photo by Tá Focando / Unsplash

Die vyfde gebod berei ons voor om ‘n waardige, genooide tafelgenoot te wees by die bruilof van die Lam. Ons lewe op aarde in voorbereiding op die dag wanneer ons as kerk van Christus deur Sy heerlikheid ontvang word.

In die eerste vier gebooie leer Hy ons hoe om Hom lief te hê en reg te dien. In die vyfde gebod, wat die begin van die tweede tafel van die gebooie is, leer ons nou hoe om ons naaste lief te hê en met almal om ons om te gaan. Om jou vader en moeder asook ander gesagsdraers te eer is dus die fondament van al die gebooie wat volg.

Hierdie fondament is iets wat vandag dikwels gesien word as outyds of belaglik. Dit word bevraagteken en in baie gevalle selfs misbruik. Tog is die Here in sy wet so duidelik met die doel van die gebod: dit is ‘n gebod met ‘n belofte. Die belofte dat dit met jou goed sal gaan as jy jou vader en moeder eer (Eksodus 20:12 en Deuteronomium 5:16). Dit is dus nie net ‘n struktuur wat ingestel is sodat die een oor die ander kan heers nie, maar eerder ‘n gawe vanaf God wat orde, vrede en voorspoed bevorder. 

In Romeine 13:1-2 lees ons dat God die oorsprong van alle gesag is. Hy is die een wat jou ouers aan jou gee om jou op te voed, Hy is die een wat die regering oor ons land aanstel om reg te laat geskied, die een wat die kerkraad in Sy diens plaas om Sy skape te lei, die een wat jou onderwyser oor jou aanstel om jou te onderrig en Hy is ook die een wat jou baas oor jou aanstel aan wie se eise jy by die werk moet voldoen. 

Hierdie gesagsdraers is nie in hierdie posisies geplaas omdat hulle vanself so goed is nie, maar omdat God hulle daar geplaas het. God vertrou die posisies aan hulle toe en ons moet gehoorsaam wees aan Hom en daarom ook aan hulle. Sy doel hiermee is nie om ons te onderdruk nie, maar eerder om ons in liefde te lei. Hy lei ons soos ‘n liefdevolle Vader en regeer oor Sy skepping met wysheid en goedheid. Ons het dus nie net met menslike gesagsfigure te doen nie, maar met God self wat ons deur hierdie gesagsdraers lei. 

God lei ons deur die vyfde gebod sodat ons uiteindelik ook die res van die tweede tafel, wat ons verhoudings met ander bepaal, kan gehoorsaam. Sonder gehoorsaamheid sal daar wanorde in huisgesinne, lande, kerke, skole en besighede wees. 

Ons bevind ons in ‘n tyd waar mense juis verkies om eerder hul eie idees te volg en vry van enige gesagsfigure op te tree. Die mens wil self besluit wat reg en verkeerd is en elkeen sy eie paadjie volg. Dit is egter nie wat God ons leer oor ware vryheid nie - Ware vryheid word gevind in die onderrig van die Woord en ook teregwysings van die wat oor jou aangestel is (2 Timótheüs 3:16). 

Onderwerping aan gesag bied vir ons beskerming teen dwaasheid en die lokval van die sonde. Die aanvaarding van gesag lei tot kinders wat leer om verantwoordelikheid op te neem, landsburgers wat in veiligheid en vrede leef, ‘n kerk wat opgebou word in geloof en waarheid en ‘n skool wat kinders kan onderrig om uit te gaan om hul roeping uit te leef. 

Ware vryheid lê dus nie daarin om sonder gesag te leef nie, maar om onder God se goeie orde te leef. Daarby gesê gesagsfigure spring beslis nie versoekings en sonde vry nie. Ouers, regeerders, die kerkraad, jou onderwyser of baas tree nie altyd reg op nie, maar dit verander wel nie die feit dat hulle deur God aangestel is nie. 

Wat dan gemaak as die wat oor jou aangestel is nie altyd regverdig optree nie?

Daarmee help die Heidelbergse Kategismus ons mooi in Sondag 39. 

Dit roep ons op tot ‘n houding van eerbied en respek. Die gelowige moet in eerbied, liefde, getrouheid en gehoorsaamheid teenoor gesag optree. Dus selfs wanneer ons nie saamstem met dit wat die gesagsfiguur doen nie, moet ons nog steeds die posisie wat die persoon van God ontvang het erken en respekteer.

Daarmee word bedoel dat ek moet doen wat van my gevra word met ‘n goeie gesindheid en in gehoorsaamheid. Ja, ek mag besluite bevraagteken en dit met die gesagsdraer bespreek, maar op ‘n respekvolle, sinvolle en eerbiedige wyse. As my verskille handel oor my eie voorkeure en of ek net nie hou van dit wat van my gevra word nie, moet ek dalk twee keer dink voor ek dit bevraagteken. 

Maar as dit in teenstelling is met wat ek leer uit God se woord, geld die beginsel van Handelinge 5:29: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Dit bring ons terug by die ouer as gesagsfiguur - in die ouerhuis word sie fondasie van gehoorsaamheid neergelê deur middel van onderrig in die Woord van God. As ‘n ouer hierin versuim om sy kind met die Woord op te voed, sal die kind nie later in sy lewe kan onderskei tussen reg en verkeerd met behulp van die Woord as nie. Gehoorsaamheid aan gesagsfigure bly altyd ondergeskik aan die gehoorsaamheid aan God.

Hierin was Jesus Christus vir ons die volmaakte voorbeeld van gehoorsaamheid. Hy was volkome gehoorsaam aan sy aardse ouers (Lukas 2:51) en tydens sy bediening op aarde het Hy altyd die wil van sy Vader in die hemel gesoek. Deur die kruisdood het Hy sy gehoorsaamheid volkome bewys toe Hy homself verneder het en was gehoorsaam tot die dood toe (Filippense 2:8). Terwyl ons as mense in opstand wil kom teen die wat oor ons aangestel is, moet ons na Christus kyk en sien hoe hy volmaak gehoorsaam is. 

Dit is deur Sy gehoorsaamheid wat ons vergifnis vir ons sondes ontvang. Dit is uit dankbaarheid daarvoor dat ons ook die vyfde gebod wil gehoorsaam. Ons wil gehoorsaam wees nie om God se guns te wen nie, maar ons ons dankbaarheid te bewys vir die verlossing wat ons deur Christus ontvang het. 

Die vyfde gebod leer ons dat alle gesag van God afkomstig is. Hy het die gebod ingestel met die doel om na die welstand van Sy kinders om te sien. As ons Hom gehoorsaam deur aan die wat oor ons aangestel is gehoorsaam te wees volg daar orde, vrede en voorspoed vir ons. Ons word daardeur gevorm om as verbondskinders eendag saam met Hom en al ons mede broers en susters in die geloof te sit aan die bruilofsmaal van die Lam. Daar sal ons dan ook volkome gehoorsaam kan wees net soos Jesus Christus. 

Bronne

Geskryf deur Lynette Bouwman, VGK Pretoria