Volharding van die Heiliges (Dordtse Leerreëls 5)

“Die Volharding van die Heiliges” is die titel van hoofstuk 5. In hierdie hoofstuk is daar 15 paragrawe oor die sondeval van die mens en ook hoe God ons deur sy genade red.

Volharding van die Heiliges (Dordtse Leerreëls 5)
Photo by Chuko Cribb / Unsplash

Hierdie is deel 5 van die Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"

Lees: 1 Petrus 5

Ons kom by die laaste onderwerp van die reeks in die Dordtse Leerreëls. Soos ons al gesien het, word dit deur die TULIP akroniem (in die volgorde: ULTIP) uitgelê. Vandag behandel ons die “P”, Perseverance of the Saints.

  • Unconditional Election (DL Hoofstuk 1)
  • Limited Atonement (DL Hoofstuk 2)
  • Total Depravity (DL Hoofstuk 3)
  • Irresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
  • Perseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)

“Die Volharding van die Heiliges” is die titel van hoofstuk 5. In hierdie hoofstuk is daar 15 paragrawe oor die sondeval van die mens en ook hoe God ons deur sy genade red. Verder is daar nog 9 paragrawe waarin die Sinode die dwaalleer van Arminius verwerp.

Ons moet eers die titel goed verstaan, want dit som die hoofstuk op. Wie is die “heiliges” of die “saints”? Dit is nie die Rooms Katolieke Kerk se ‘heiliges’ nie, maar dit is eerder die Christene - die wat deur die bloed van Jesus Christus gekoop is en deur die werking van die Heilige Gees vernuwe word. Hierdie is in die vorige hoofstukke van die Dordtse Leerreëls beskryf. Die tweede groot woord in die titel is “volharding”. Om te volhard in iets, is om, al word dinge moeilik, aan te hou – dit is om vas by jou besluit te bly. 

Die hoofstuk kan opgesom word deur die vraag: Kan ʼn Christen tot die einde in geloof volhard? En as hy kan, hoe? Dit is vrae wat ons vir onsself moet vra en oor moet nadink. Arminius het soos volg die vraag beantwoord: “nadat ʼn mens verlos is deur Christus en hernu is deur die Heilige Gees, is hy sterk genoeg om self die aanvalle van Satan, die wereld en eie self te weerstaan en oorwin”. Hy sê dat God daar is om vir ons krag te gee maar dit hang van die mens se besluit af om daardie krag te gebruik (VD 5.2). Weereens, deur Arminius se leer, word God klein en swak gemaak en die mens groot en sterk.

Maar wat glo ons? Ons glo dat God vir ons, veral in swaar en moeilike tye, krag gee. Maar, Hy werk dit in ons harte en lewens sonder dat ons self eers besluit of toestemming gee vir Hom. Hoe wonderlik is dit nie?! As ons eerlik is, dink ons gou dat ons dit self kan doen, sonder hulp. Maar ons moet nederig word, want wat doen God? Hy weet ons gaan sukkel en misluk, so Hy gee vir ons krag deur sy genade voordat ons eers daaraan dink om Hom daarvoor te vra. God wag nie vir die mens nie, want Hy is soewerein en alwetend! Petrus skryf ook oor God se werk in ons: “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (1 Petrus 5:10).

Daar is baie versoekings en verleidings in die wêreld om ons: sosiale media, geld, werk, sport, en die lys gaan aan. Satan werk baie hard om ons te verlei. En hy kry dit ook reg - ons val dag na dag weer in die sonde. Ons doen, soos Paulus beskryf in Romeine 7, “wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek” (Romeine 7:15). Hoe swak en nietig is ons nie! Dink net dat ons, in ons sondige swak self, die krag moet vind om teen sonde te stry en vir God te kies. Ons sal nie dit kan doen nie, maar net al hoe dieper in sonde val. Daar is wel troos vir ons. Dit is dat God deur sy genade in ons werk. Paulus som, in 1 Korinthiërs 10:13, mooi op hoe God versoekings gebruik: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra”.

Die Dordtse Leerreëls som ook ons stryd teen die sonde op: “Selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige beoefening van godvresendheid en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang, totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer” (DL 5:2).

Wanneer ons vir God lewe, uit sy Woord, en stry teen die sonde, moet ons ook verstaan dat die Dordtse Leerreëls, saam met die ander belydenisgeskrifte, nie ʼn plaasvervanger vir die Bybel is nie. Dit is daar vir die verryking en versterking van ons geloof. Ons moet dit lees en leer sodat God se Woord meer en meer in ons lewens kan werk. Sodat ons saam met Paulus in geloof kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Timotheüs 4:7-8). 

So hoe kan ʼn Christen dan tot die einde in geloof volhard? Ons kan dit net antwoord deur om te bely: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Die Dordtse Leerreëls eindig met ʼn gebed wat alles opsom en waarmee ons ook hierdie reeks klaarmaak, versterk deur die Woord van God: “Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van God sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue bedienaars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek. Amen” (Dordtse Leerreëls: Besluit).

Verdere Lesing

  • Romeine 7:13-25
  • Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 en die Besluit (dit kom na die Verwerping van Dwalings: Hoofstuk 5)

Gebed

Ons almagtige en genadige Vader in die hemel. Heilig is u Naam. Ons verdien nie om voor U te kom nie, maar U het, in u genade, ons gered van sonde en werk in ons dag na dag. Help ons om ons lewens vir U te leef en vir U alleen. Ons bid dit nie uit verdienste nie, maar alleen uit u genade. Amen.

Coram Deo

Deur Jesus Christus alleen kan ons in geloof volhard. God die Vader werk deur die Heilige Gees in ons harte dat ons dag na dag kan stry teen die sonde en na Hom draai in geloof en dankbaarheid.

Bronnelys

  • Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, God's Glorious GODness (ble. 1-31)
  • Book of Praise

Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata